- Ps.145 (14/1/24)
# Daar is veral twee dinge, dink ek, wat ons in ons lewe as gelowiges nooit van mekaar behoort te skei nie.
- Ons moet nooit geloof en lofprysing van mekaar skei nie!
- Om in die Here te glo en om Hom te prys – hierdie twee dinge hoort by mekaar.
- En as ek ’n gelowige is, kan ek eintlik nie anders as om die Here te loof en te prys nie.
- Ons sou kon sê: Om in die Here te glo en om Hom te prys, is soos ’n tweeling.
- Hulle twee is altyd by mekaar, en hulle wil ook altyd by mekaar wees!
- Dis nou geloof en lofprysing.
# Nou, as ’n mens deur die 150 psalms in die Bybel blaai, dan loop jy daar ’n hele klomp lofpsalms raak.
- Van die bekendstes is seker Ps. 33 en Ps. 100 en Ps. 146.
- Maar Ps. 145, wat ons saam gelees het, is ook een van hierdie lofpsalms.
- Dit word dan ook ’n loflied van Dawid genoem.
- ’n Gelowige, soos Dawid, kan nie anders as om die Here te loof en te prys nie.
- ’n Gelowige sien net so baie redes om die Here te loof dat hy of sy nie kan stilbly nie.
# So, waarom behoort ons die Here te loof en te prys?
- Ek glo ons elkeen sal ’n hele lys van dinge kan opstel oor waarom ons persoonlik die Here wil loof en prys.
- Op my eie lysie vanoggend staan dinge soos: Die lewe, gesondheid, ons daaglikse brood, ons verlossing, en die mense rondom my….
- Dis regtig nie baie moeilik om ’n hele lys van dinge en van mense se name bymekaar te sit oor waarom ons die Here vanoggend wil loof en prys nie.
- En toe ek Ps. 145 van nader bekyk het, was ek verstom om te sien hoeveel redes daar in hierdie een psalm is om die Here te loof en te prys!
- En dis heel moontlik dat ek ook nog iets kon miskyk.
- Maar wat ek graag wil doen, is om net vir u die redes vir lofprysing vinnig uit te wys wat ek in Ps. 145 kon raaksien.
- Ek gaan die hele lys net vinnig gee.
- En dan gaan ek daarna net oor een van hierdie redes ’n bietjie meer sê.
- As ons oor al die redes sou moes praat, sou ons definitief nog ná middagete ook hier gesit het!
# So, watter redes is daar, volgens Ps. 145, om die Here te loof en te prys?
- Sy grootheid (vers 3)
- Sy magtige dade (vers 5)
- Sy goedheid (vers 7)
- Sy genade, barmhartigheid en liefde (vers 8)
- Omdat Hy die Skepper is (vers 10)
- Sy koninklike mag (vers 11)
- Sy groot krag (ook vers 11)
- Omdat Hy help in nood (vers 14)
- Omdat Hy die voorsiener en onderhouer van ons lewe is (vers 15)
- Omdat Hy regverdig is (vers 17)
- Sy nabyheid (vers 18)
- Omdat Hy gebed verhoor (vers 19)
- Sy beskerming (vers 20)
- Sy heiligheid (vers 21)
# So amper elke vers in hierdie psalm bevat ’n belangrike rede waarom ons die Here moet loof en prys.
- En u kan dit gerus ook weer rustig by die huis gaan deurlees.
- Maar ek wil tog graag ’n bietjie meer sê oor een van die redes vir lofprysing hier in Ps. 145.
- En dit gaan oor die dade van die Here, oor wat Hy in die verlede gedoen het en nog steeds doen in ons wêreld.
- In vers 5 word daar gepraat van sy “magtige dade” en in vers 6 van sy “wonderdade.”
- So ons kan vanoggend sê: Prys die Here want Hy is Iemand wat magtige en wonderlike gedoen het en steeds doen!
- Prys die Here want (met respek gesê) Hy praat nie net nie – Hy doen ook!
- Hy sit nie net agteroor nie, maar Hy is aktief besig in ons wêreld en geskiedenis en ook in elkeen van ons se lewens.
- En daarvoor kan ons Hom maar net vanoggend loof en prys!
- Loof en prys Hom vir sy magtige en wonderdade!
# Maar miskien moet ons op hierdie punt net eers vra: Waaraan sou Dawid, die skrywer van Ps. 145, gedink het toe hy van die magtige en die wonderdade van die Here gepraat het?
- Watter dade sou hy spesifiek in gedagte gehad het?
- Nou, ek is seker dat Dawid onder andere sou gedink het aan hoe die Here alles geskape het.
- Aan sy skeppingsdade.
- Dawid prys die Here dan ook in vers 10 as ons Skepper.
- Hy sê in dié vers: “Almal wat deur U geskep is, loof U, Here, en u troue dienaars prys U!”
- En hier in die omgewing waarin ons bevoorreg is om te mag woon, is daar soveel wonderlike natuurdinge wat ’n mens gereeld herinner aan hoe wonderlik die Here alles geskape het.
- Dink maar aan die berge en die bome en die wingerde en die standhoudende stroom water van die Bergrivier.
- Al hierdie dinge is nie maar toevallig daar nie.
- Hulle wys heen na ’n wonderlike Skepper, na ’n meester-Skepper.
- Hulle wys heen na die Here wat alles gemaak het.
- En oor sy skeppingswerk, waarvan ons as mense mos ook deel is, oor sy skeppingswerk kan ’n mens maar net in verwondering staan en Hom loof en prys daarvoor.
- Dis niks anders nie as magtige en wonderdade!
# Maar nog iets waaraan Dawid heel waarskynlik gedink het toe hy Ps. 145 geskryf het, is hoe die Here vir Israel uit Egipte verlos het.
- Ook dít was ’n magtige reddingsdaad van die Here!
- En op baie plekke in die Bybel word daar verwys na die buitengewone manier waarop die Here vir Israel uit Egipte verlos het.
- Die farao van Egipte wou die Israeliete mos nie toelaat om uit Egipte weg te trek nie.
- Hy wou hulle as onderdane in sy land behou en as goedkoop arbeid bly gebruik.
- Maar deur die Here se ingryping moes die farao uiteindelik toestemming gee dat die Israeliete kon wegtrek uit Egipte.
- En ná nog 40 jaar in die woestyn kon Israel toe in hulle eie land gaan woon.
- Alles net deur die Here se ingryping, deur sy magtige reddingsdade.
# Maar toe Dawid Ps. 145 geskryf het, het hy seker ook aan sy eie lewe gedink, want ook in Dawid se eie lewensverhaal hoor ons van talle wonders wat die Here gedoen het.
- ’n Mens dink aan die keer toe Dawid die reus Goliat oorwin het.
- ’n Jong seun met ’n slingervel wat teen ’n gevreesde super-soldaat moes gaan veg.
- Maar die Here het vir Dawid daar deur gehelp.
- ’n Mens dink ook aan die tyd toe Dawid voor sy voorganger, koning Saul, moes vlug en Dawid se lewe baie keer in groot gevaar was.
- Saul wou hom doodmaak.
- Maar die Here het gekeer dat dit gebeur.
- En so was daar dikwels situasies in Dawid se lewe waar dit net die hand van die Here was wat hom uitgered het.
- Daarom praat hy in die psalm herhaaldelik oor die dade van die Here en prys hy Hom daarvoor.
- Vir sy magtige dade, vir sy wonderdade.
- Vir die manier waarop die Here ook in sy lewe ingegryp het wanneer dit nodig was.
# Maar nou is daar veral twee van die verse hier in Ps. 145 wat vir my op ’n baie spesiale manier beskryf hoe die Here werk en optree in die lewens van mense.
- Vers 14 en 15 sê: “Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd.”
- Hierdie twee verse lig vir ons ’n baie belangrike kant van die Here se dade uit.
- En wat is dit?
- Dat Hy ons as mense help in ons nood en in ons swakheid.
- Dié wat geval het, sê vers 14, help Hy op.
- En dié wat bedruk is, ondersteun Hy.
- En aan dié wat honger is, gee Hy kos.
- Wat ook al ons nood of behoefte of probleem is, ons kan seker wees dat die Here daarvan weet en dat Hy ons daarmee sal help.
- En ek is seker elkeen van ons sal vanoggend ook kan vertel van hoe die Here al in ons lewens gewerk het, en hoe Hy ook al ingegryp het om ons op te help toe ons geval het en om ons te ondersteun toe ons bedruk was.
# Die Here het nie net die wêreld aan die gang gesit en Hom toe onttrek, soos sommige mense al beweer het nie.
- Nee, ons sien en beleef nog elke dag hoe Hy besig is om te werk.
- En natuurlik kan ons nie vanoggend nalaat om ook iets te sê oor dié keer toe Hy mens geword het en onder ons kom woon en werk het nie.
- Die Bybel vertel mos op baie bladsye vir ons van dit wat Jesus op aarde kom doen het.
- Hoe Hy die goeie nuus van God se genade kom verkondig het, en siekes gesond gemaak het, en dooies weer lewendig laat word het.
- En dan ook: Hoe Hy met sy eie bloed aan ’n kruis vir elkeen van ons se sonde betaal het.
- Jesus het ons deur sy lyding en dood kom verlos!
- En deur sy dood het die grootste van al God se reddingsdade plaasgevind!
- En ons?
- Ons kan Hom maar net daarvoor loof en prys.
- Ons kan maar net maak soos ’n reëltjie uit een van ons liedere dit sê: “loof Hom vir sy reddingsdade.” (Lied 203:2)
# Ek het aan die begin van die boodskap gesê: Ons moet geloof en lofprysing nooit van mekaar skei nie.
- En as ’n mens ’n bietjie nadink oor al die wonderdade van die Here, dít waarna Dawid ook in Ps. 145 verwys, dan weet jy net: As gelowige kan ek nie anders nie – ek moet die Here sonder ophou loof en prys.
- En as ons die Here nie behoorlik loof en prys nie, of dalk nie eers lus is om dit te doen nie, dan is daar iewers ’n fout.
- En dan behoort ons ook vir die Here te vra om vir ons te wys wat dit is wat verkeerd is.
- Maar as ons a.d.a.k. wel die Here loof en prys, dan ervaar ons mos hoe gelukkig dit ons maak.
- Dit laat ons vervuld en vergenoegd voel.
- Dit laat ons voel dat ons tog op ’n manier beantwoord aan die doel waarvoor die Here ons geskape het.
- Ja, soms wanneer ons die Here in ’n gebed of in ’n loflied prys, dan het ons mos net die gevoel: Daar is niks beter wat ek nou kan doen nie!
- Ek kan nou, op hierdie oomblik, niks beter doen as om die Here so te loof en te prys nie!
# Sal ons dan nie elke dag van ons lewe die Here met loof en prys nie?
- Met ons gebede en ons lofliedere en sommer met ons hele lewe.
- En as ons loflied dalk dreig om stil te word?
- Want daar is mos baie dinge in die lewe wat ons loflied wil laat stil word.
- Dan kan ons gerus Ps. 145 of enige een van die ander lofpsalms in die Bybel lees, sodat die Here self vir ons, deur sy Woord, kan help om Hom weer te loof en te prys soos Hy dit wil hê.
AMEN
:
Teks hier
