JES. 64:1-12 (3/12/23)
# Die Bybel is nie net vol lofliedere nie.
- Blaai maar net deur die 150 psalms wat daar in die Bybel is.
- Meer as ’n derde van hulle, omtrent 65 sê iemand, is nie lofliedere nie maar klaagliedere.
- a.w. dit is psalms waarin mense hulle probleme en klagtes en en ontevredenheid en hartseer voor die Here uitstort.
- En ook die hoofstuk wat ons vanoggend saam gelees het, Jes. 64, is eintlik deel van ’n klaagpsalm, van ’n klaaglied.
- ’n Bekende kenner van die Ou Testament het dan ook iewers gesê: “Dit is duidelik dat ’n kerk wat aanhou om net vrolike liedjies te sing midde-in die harde werklikheid van hierdie wêreld, besig is om iets baie anders te doen as wat die Bybel self doen.” (Brueggemann)
- So, die Bybel ken nie net vrolike liedjies of lofliedere nie.
- Dit is ook vol klaagliedere.
- En Jes. 64 is juis so ’n klaaglied.
# Maar hoekom is Jesaja hier besig met ’n klaaglied?
- Die geskiedenis van Israel help ons om te verstaan waarom Jesaja dit doen.
- As gevolg van Israel se sondes, waarmee hulle oor ’n baie lang tyd volgehou het, het die Here toegelaat dat hulle vyande kom en hulle wegvoer as ballinge na Babilonië.
- Dit het reeds in die sesde eeu voor Christus gebeur.
- En in die proses is die stad Jerusalem verwoes, en daarby is die tempel in Jerusalem ook met die grond gelyk gemaak.
- En nou, baie jare later, is die Israeliete weer terug in hulle eie land, terug uit ballingskap.
- Maar hulle sien nog steeds net die verwoesting voor hulle wat hulle vyande aangerig het.
- In vers 10 wat ons gelees het, sê Jesaja: “U heilige stad het ’n woestyn geword: Sion het ’n woestyn geword, Jerusalem is onbewoonbaar.”
- En in vers 11 sê hy: “Ons heilige en pragtige tempel waar ons voorouers U geloof het, is deur vuur verwoes, alles wat vir ons dierbaar was, lê in puin.”
# So, Jesaja sing ’n klaaglied.
- En daarin stort hy sy hartseer uit oor die vervalle toestand van Jerusalem en van die tempel.
- Maar dit lyk of Israel in daardie stadium ook nog steeds ongehoorsaam aan die Here was, selfs nou na die ballingskap.
- Dit is asof hulle nie geleer het uit hulle foute nie.
- En Jesaja huil dan ook in sy lied oor Israel se sonde en oor die vervalle toestand van hulle geestelike lewe.
- En as profeet moes dit vir Jesaja baie erg gewees het om dit alles so te beleef, aan die eenkant die vervalle toestand van Jerusalem en die tempel, maar aan die anderkant ook die geestelike nood van sy volk.
- Dit alles saam vorm maar ’n donker prentjie.
- En dit is dan in hierdie baie moeilike omstandighede dat Jesaja hierdie hoofstuk, Jes. 64, eintlik met ’n noodkreet begin.
- Hy roep uit: “As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom sodat die berge voor U skud!”
- As U maar die hemel wou oopskeur, Here, en afkom, roep Jesaja.
- En dis beslis ’n noodkreet.
- Dis ’n desperate hulpgeroep.
- En Jesaja doen dit seker ook namens sy hele volk.
- Want heel waarskynlik het dit vir hulle almal gevoel of die hemel gesluit is, en of God ver weg bly staan, en of Hy hulle nie help met hulle probleme nie.
- As U maar die hemel wou oopskeur, Here, en afkom!
- Volgens die wêreldbeeld van daardie tyd was die hemel iewers daar bo en ons as mense hier onder op die aarde.
- Maar hoe dit ookal sy, Jesaja roep dringend uit dat die Here tot by hulle moet kom en hulle moet kom help.
# En dit bring ons nou by ’n belangrike vraag.
- Dit bring ons by die vraag: Wat moet ons dan nou op hierdie eerste Sondag van Advent met Jesaja se klaaglied en noodkreet maak?
- Wat moet ons daarmee maak, terwyl ons reeds aan Kersfees en die betekenis van Kersfees wil begin dink?
- En dan lyk dit vir my die eerste ding wat ons moet sê, is dat Jesus gekom het om Jesaja se noodkreet te verhoor.
- Toe Jesus gebore is, hét God die hemel vir ons oopgeskeur en na ons toe gekom.
- Presies wat Jesaja in Jes. 64 gevra het, het gebeur.
- Die hemel het vir ons oopgegaan.
- En die Seun van God het mens geword, en onder ons kom woon.
- En Hy het ons deur sy bloed van al ons sonde kom verlos.
- En na dit wat Hy gedoen het, hoef ons nie weer so verskriklik wanhopig te word, soos dit in die klaagliedere van die Ou Testament vir ons beskryf word nie.
- In Jesus het God die hemel oopgeskeur en na ons toe gekom.
- En dít maak alles anders.
- Dít maak dat ons vandag in ’n nuwe tyd, in die tyd van Jesus, leef.
# En tog, tog gebeur dit nog steeds dat ons ook maar soms soos Jesaja voel, hier waar hy sy klaaglied in Jes. 64 sing.
- Al het Jesus gekom, en al is ons ook baie bly daaroor, soms voel ons tog maar soos Jesaja.
- Iemand het so daaroor geskryf: “Kersfees is hier en nog steeds roep die hart: Ag, as U maar die hemel wou skeur en neerdaal. Jesus het neergedaal en ons glo dit vas. En tog raak ons nog so verskriklik verward; so aangeveg en verdwaald.”
- Ons weet Jesus het gekom.
- En dit is iets wat ons baie bly maak.
- Dit is iets waaroor ons feesvier!
- En ons doen dit ook elke jaar in hierdie tyd, en veral ook op Kersdag.
- En tog roer Jesaja se woorde van vanoggend dalk ook nou ’n snaar in ons hart.
- Dalk voel ons dat ons ook wil uitroep: As U tog maar die hemel wou oopskeur en na ons toe kom.
- En wat is dit wat vir ons so kan laat voel?
- Dalk is dit daardie sonde in my lewe waarteen ek weer en weer die stryd verloor.
- Dalk is dit die moeilike persoonlike omstandighede waarin ek vanoggend verkeer en waarvan baie ander mense dalk nie eers weet nie.
- Dalk is dit namens iemand anders wat ek vanoggend voel om uit te roep: As U tog maar die hemel wou oopskeur en na ons toe kom.
- Dalk is dit die baie probleme en enorme uitdagings wat daar in ons land is, armoede en korrupsie en misdaad en geweld.
- En ek vind self dat die oorloë en terreur in die Ukraïne en die Midde-Ooste, en nog talle ander plekke in die wêreld, ook iets is wat my gereeld ontwrig laat voel.
- Dat dit ook iets is wat vir my wil laat uitroep: As U tog maar die hemel wou oopskeur, en na ons toe kom, en al hierdie slegte dinge kom verander.
# En nou wil ek net graag iets sê oor die hele ding van kla.
- Dit is natuurlik maklik om te kla.
- En ek is seker elkeen van ons hier vanoggend sal wel iets kan kry om oor te kla: iets uit ons eie lewe, of iets in die kerk, of iets in ons land en wêreld.
- Dis nie baie moeilik om iets te kry om oor te kla nie.
- Maar om net teenoor mekaar te kla, is nie altyd so ’n goeie ding nie.
- Dit kan bv. veroorsaak dat ons later net die verkeerde en negatiewe dinge rondom ons raaksien en blind raak vir die positiewe dinge.
- Dit kan ook maak dat ons te veel kla, en onnodig kla – dat ons regte klakouse word, wat eintlik ook ander mense van ons afstoot met ons gekla.
- En om teenoor mekaar te kla, kan seker gewoonlik ook nie juis probleme oplos of help oplos nie.
- Maar wat ons wel kan doen, en wat ons ook moet doen, is om ons klagtes na die Here toe te neem.
- Ons moet maak soos Jesaja, en maak soos baie van die psalmdigters.
- Kla by die Here!
- Sê vir Hom presies wat jou hinder.
- En wees eerlik en reguit met Hom.
- Soos iemand gesê het: Die Here kan dit vat!
- Wees maar eerlik en reguit met Hom.
- In vers 12 wat ons vanoggend gelees het, vra Jesaja sommer reguit vir die Here: “Raak hierdie dinge U dan nie, Here? Gaan U nie ingryp nie? Gaan U aanhou om ons so te laat ly?”
- Dít is hoe eerlik ons met die Here kan wees.
- En dít is hoe ons by Hom kan kla oor al die moeilike en slegte en onverstaanbare dinge in ons lewens en in die wêreld.
# Ek het ’n bietjie vroeër reeds gesê dat Jesus gekom het om Jesaja se noodkreet te verhoor.
- En tog voel dit dalk vir ons of niks nog eintlik in ons wêreld verander het nadat Jesus gekom het nie.
- Daar is dan nog net soveel geweld en korrupsie en hartseer en lyding.
- En hoe moet ons dít verstaan?
- Hoe moet ons hierdie spanning verstaan tussen dit wat ons glo oor Jesus en wat Hy kom doen het, en dit wat ons ervaar in die harde werklikheid van ons lewe?
- Hoe moet ons Kersfees met blydskap vier, terwyl ons in ’n wêreld leef waaroor ons dalk ’n klaaglied wil sing, of terwyl ons in persoonlike omstandighede verkeer waaroor ons dalk eintlik maar net wil huil?
- Dis ’n moeilike vraag hierdie, maar ek dink Coenie Burger help ons as hy iewers sê: “Kersfees is ’n fees, maar dis ’n onvoltooide fees, wat roep na die wederkoms van Christus.”
- En dit moet ons altyd in gedagte hou: dat Jesus reeds gekom het, maar dat Hy ook weer gaan kom.
- Ons kan maar sê: Hy gaan nog ’n keer die hemel oopskeur en na ons toe kom.
- En so is hierdie tyd van Advent nie net ’n tyd om na te dink oor Jesus se eerste koms na die aarde toe nie.
- Dis ook ’n tyd om na te dink oor sy wederkoms.
- En ons kan maar met verlange na die wederkoms uitsien.
- Ons kan maar sê en bid soos Op. 22:20 wat sê: “Kom, Here Jesus!”
- Kersfees, sê Coenie Burger, is ’n onvoltooide fees.
- Dit roep na die wederkoms van Jesus.
- Dit roep: “Kom, Here Jesus!”
# Dit is vandag die eerste Sondag van Advent, die eerste van die vier Adventsondae voor Kersfees.
- En ons dink dan in hierdie tyd met blydskap en dankbaarheid aan hoe Jesus mens geword het en ons kom verlos het.
- Maar ons wag ook terselfdertyd op Jesus se wederkoms.
- Dis die ander kant van Advent: dat ons wag dat ons Koning weer moet kom.
- En kom ons wag dan op die regte manier op sy tweede koms.
- Kom ons doen dit met geloof in ons harte.
- En kom ons doen dit terwyl ons liefde bewys teenoor ons medemens, en veral dan teenoor ons medemens wat in een of ander vorm van nood verkeer.
- Kom ons wees saam met mekaar die liggaam van Christus, sy hande en oë en ore en voete en mond.
- As sy liggaam op aarde, wat uit gelowiges met baie verskillende gawes bestaan, kan ons op so baie maniere sy liefde met ander deel, en kan ons ’n verskil in ander se lewens maak.
- En as ons dit self moeilik het in hierdie wêreld, of oorweldig word deur die nood rondom ons, en ons wil dan saam met Jesaja ’n klaaglied sing, kom ons onthou dan ook al die beloftes in die Bybel dat Jesus weer sal kom.
- Dat Hy die hemel weer sal oopskeur en na ons toe kom.
- Hierdie keer kom Hy om alles finaal nuut te maak.
- Hierdie keer kom Hy om alles so te verander dat geen klaaglied ooit weer daarna gehoor sal word nie!
AMEN
