ROM. 8:18-30 (4/6/23)

 

#  Daar is iets wat ’n mens opval wanneer jy deur die briewe van Paulus in die Bybel blaai, en dit is hoe dikwels Paulus na gebed verwys.

  • Dit val jou op hoe belangrik gebed vir Paulus was.
  • En daarom kan ons seker saam met Willem Nicol sê dat Paulus se lewe as gelowige gedra was deur gebed.
  • Dit was gedra deur gebed.
  • Sommer kort na Paulus se bekering lees ons al dat die Here vir Ananias gesê het: “Paulus is besig om te bid” (Hand. 9:11).
  • En so was gebed vir Paulus baie belangrik en is sy hele lewe as gelowige gedra deur gebed.
  • En sy briewe aan gemeentes wys dit dan ook vir ons.

#  Maar voor ons verder kyk na ’n paar baie belangrike dinge wat Paulus ons leer oor gebed, kom ons vra net eers: Wat doen ons wanneer ons bid?

  • En die kortste antwoord is seker dat ons met die Here praat wanneer ons bid.
  • Ons hoor wat Hy vir ons sê deur sy Woord, en dan antwoord ons daarop.
  • En so is gebed om na die Here te luister en dan ook met Hom te praat.
  • aar wat sê ons alles wanneer ons met Hom praat?
  • Hoe lyk die inhoud van ons gebede?
  • En dan lyk dit vir my is daar veral 5 elemente (as ons dit so kan noem) in ons gebede:
  • 1: Ons aanbid die Here in ons gebede.
  • Ons erken dat Hy God is en ons loof en prys en aanbid Hom daarvoor.
  • 2: Ons bely ons sonde en skuld teenoor die Here.
  • En ons vra dat Hy ons sal vergewe.
  • 3: Ons sê vir die Here dankie vir al die goeie dinge wat Hy vir ons gee.
  • ’n Mens kan tog nie bid sonder om dankie te sê nie!
  • Maar, nr. 4: Ons kla ook by die Here!
  • Ons praat tog ook met Hom oor dinge wat ons hinder en waarvoor ons dalk nie antwoorde of oplossings kry nie.
  • Ook oor dinge wat verkeerd is in ons land en in die wêreld.
  • En dan nr. 5: Ons doen voorbidding.
  • Ons bid vir ander mense en vra dat die Here ook in hulle behoeftes sal voorsien.
  • Aanbidding, skuldbelydenis, danksegging, klag en voorbidding.
  • Dít is, dink ek, die belangrikste elemente van ons gebede.
  • Nie dat al die elemente altyd in dieselfde gebed sal voorkom nie.
  • Maar dít is die belangrikste dinge waaroor ons bid en waaroor dit in ons gesprekke met die Here gaan.

#  Maar op hierdie punt wil ek nou graag vir ’n oomblik stilstaan by die feit dat gebed nie altyd vir ons so maklik en natuurlik kom nie.

  • Ons gaan sit seker almal partykeer ’n bietjie stil voor die Here en wil dan graag die tyd gebruik om te bid, maar dan dwaal ons gedagtes dalk.
  • Of ons weet dalk nie lekker wat om te sê wanneer ons bid nie.
  • Soos Paulus in Rom. 8:26 sê: “ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie.”
  • En dit laat dink my ook aan hoe Jesus se dissipels op ’n keer vir Hom gevra het: Here, leer ons bid.
  • Hulle het seker ook besef hulle weet nie lekker hoe om te bid nie.
  • Hulle sukkel ook maar met gebed.
  • En daarom vra hulle vir Jesus: Here, leer ons bid.
  • En ons weet dat Jesus toe vir hulle ’n wonderlike antwoord gegee het!
  • Hy leer vir hulle die Onse Vader-gebed.
  • En die Onse Vader-gebed is mos ’n kort en kragtige gebed, waarin Jesus ons leer om eers te bid vir sy Naam en sy koninkryk en sy wil, maar dan ook vir ons eie behoeftes: vir ons daaglikse brood, en vir vergifnis van ons sonde, en dat ons nie in versoeking moet kom nie.
  • Maar die punt is: Ons sukkel baie keer om te bid en ook om die regte woorde te vind waarmee ons moet bid.
  • Maar met die kort Onse Vader-gebed, lyk dit vir my, wil Jesus ons gerusstel en vir ons sê: Julle hoef nie lang en ingewikkelde gebede te bid nie.
  • Julle hoef My nie te probeer beïndruk met hoe en wat julle bid nie.
  • As julle nie ander kan nie, bid maar net hierdie woorde van die Onse Vader-gebed.
  • En dis vir My genoeg.

#  Ek dink een belangrike rede waarom ons kan sukkel met gebed is dat ons dalk dink: Ek doen dit nie goed genoeg nie.

  • Ek bid nie goed genoeg nie.
  • Of: ek bid nie soos ek behoort te bid nie, of soos ek ander mense al hoor bid het nie.
  • Maar Willem Nicol sê daar is ’n ou wysheid in die kerk omtrent gebed wat sê: “Bid soos jy kán.”
  • Gebed is om maar net baie eerlik voor die Here te wees en om te bid soos jy kan.
  • Die Here verwag bv. nie van my om soos Paulus te kan bid nie, of soos iemand wat regtig in ons eie tyd die gawe het om voorbidding vir ander mense te doen nie.
  • Ek kan maar net bid soos ek kán.
  • En soms is dit ook genoeg om net stil te wees voor die Here.
  • Om sonder woorde maar net aan die Here te dink en onsself voor Hom te plaas.
  • En ek dink dít is iets wat ons nogal buite in die natuur soms makliker kan regkry, om net in stilte en verwondering en sonder woorde voor die Here te wees en aan Hom te dink.
  • Dit is ook gebed.

#  Maar nou is daar vir my ’n baie belangrike ding wat Paulus ons in sy briewe leer.

  • En dit is dat ons nie alleen is wanneer ons bid nie.
  • Paulus maak dit in sy briewe vir ons baie duidelik dat die Heilige Gees by ons en in ons is wanneer ons as gelowiges bid.
  • So sê Paulus bv. in Rom. 8:15: “… julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader.”
  • Die Heilige Gees kom help ons om God as ons Vader te kan aanspreek.
  • En “Abba” is die Aramese woord wat Jesus ook gebruik het wanneer Hy tot die Vader gebid het.
  • Hierdie woord is bedoel vir ’n intieme verhouding van liefde en respek, soos wanneer ’n kind sy of haar pa aanspreek.
  • Soos wanneer ’n kind sê “Pappa” of “Pappie.”
  • En die feit dat die Heilige Gees vir ons hierdie selfde woord laat uitroep, wys dat ons nou net so naby en intiem by die Vader kan wees as wat Jesus by die Vader was en steeds is.
  • Die Heilige Gees laat ons roep: “Abba”!, Vader!
  • Hy laat ons bid: “Abba”!, Vader!

#  So, wanneer ons bid, is ons nie alleen nie.

  • Dan is die Heilige Gees by ons om ons te help en by te staan.
  • En ek het al vroeër net so vinnig verwys na Rom. 8:26 waar Paulus sê: “ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie.”
  • Maar in dieselfde vers sê Paulus dat die Gees ons in hierdie swakheid van ons bystaan.
  • En wat doen die Gees om ons te help?
  • Paulus sê: “die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”
  • So terwyl ek bid, terwyl ek in swakheid probeer bid, is die Heilige Gees terselfdertyd besig om saam met my te roep tot die Vader, en saam met my te sug en te pleit, of saam met my die Vader te loof en te prys, of wat die geval ook al mag wees.
  • En hoe dit alles presies werk, weet ons nie.
  • Maar dis ’n wonderlike troos om te weet: Die Here laat my nie aan myself oor wanneer ek bid nie.
  • Ook dan is die Heilige Gees in my en by my, en staan Hy my in my swakheid by.
  • Hy pleit vir my met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.

#  Soos Paulus se lewe gedra was deur gebed, behoort dit in ons lewens ook die geval te wees.

  • Gedra deur gebed.
  • En wanneer ons bid, wys dit dat ons afhanklik is van die Here en dat ons nie in ons eie krag deur die lewe probeer gaan nie.
  • Wanneer ons bid, wys dit dat ons die waarheid van Jesus se woorde in Joh. 15:5 besef.
  • In daardie vers sê Jesus: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”
  • Sonder Jesus kan ons niks doen nie.
  • Sonder Jesus en los van Hom is ons soos lote wat afgesny is van die wingerdstok en daarom nutteloos en magteloos is.
  • Maar wanneer ons bid, erken ons dat ons werklik niks sonder Hom kan doen nie.
  • Dat ons totaal van Hom afhanklik is.
  • En dat ook die vrug wat ons dalk in ons lewens mag dra, sy vrug is wat Hy in ons en deur ons dra.
  • Dit is sy vrug, want Hy is die wingerdstok en ons net die lote.

#  Ons sê vanoggend: Paulus se lewe was gedra deur gebed.

  • Maar dit het nie beteken dat hy altyd ontvang het wat hy van die Here gevra het nie.
  • In 2 Kor. 12 vertel Paulus van iets wat hy “’n doring in die vlees” noem en wat hom erg gepla het.
  • Wat dit presies was, weet ons nie, maar dit moes iets baie pynlik vir Paulus gewees het, fisies pynlik of dalk geestelik of emosioneel pynlik, ons weet nie.
  • Maar dit moes ’n baie moeilike ding in Paulus se lewe gewees het.
  • En soos ons ook maak wanneer iets ons pla of vir ons ’n probleem is, het Paulus gebid oor die doring in sy vlees.
  • Hy sê: “Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word.”
  • So, Paulus het regtig ernstig gebid dat hy verlos moes word van sy probleem.
  • Maar dit het nie so gebeur nie.
  • En Paulus sê die Here se antwoord aan hom was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
  • En so het dit dan gebeur dat Paulus nie verder gebid het dat sy probleem weggeneem moes word nie.
  • Hy het vrede gekry, want hy het nou besef: As ek swak is, kom die Here se krag juis op ’n besondere manier tot volle werking.
  • Juis met die doring in my vlees kom die Here se krag tot volle werking in my lewe.

#  Ek het reeds vroeg in die boodskap gesê dat gebed nie altyd vir ons maklik en natuurlik kom nie.

  • Dat daar tye is wanneer ons sukkel om te bid.
  • Maar Paulus moedig ons in sy briewe aan om met die Here te bly kommunikeer.
  • Hy sê selfs in 1 Tess. 5:17 dat ons dit sonder ophou moet doen.
  • Bid gedurig, sê hy daar.
  • Bid sonder ophou.
  • En ons kan dit mos gereeld in die loop van elke dag doen – dit hoef mos nie lang gebede te wees nie, en selfs ook in die nag, as ons dalk wakker sou wees.
  • Elke keer as ons maar net dink aan die Here is ons eintlik ook besig om te bid.
  • Elke keer as ons net ’n oomblik neem om bewustelik op te kyk na Hom, dan is dit ook gebed.

#  Ek wil afsluit.

  • Gedra deur gebed.
  • Dít was waar van Paulus se lewe.
  • En ek glo dat ons ook almal graag wil hê dat óns lewens gedra moet word deur gebed.
  • Mag die Here dit dan vir ons elkeen waar maak.
  • En mag Hy ons ook help in daardie tye wanneer dit dalk vir ons moeiliker is om te bid.
  • Mag Hy ons help deur die Heilige Gees wat gekom het om ons in ons swakheid by te staan.

AMEN

css.php