ROM. 8:1-11 (26/3/23)

 

#  Wanneer ’n mens vir ’n week of wat van jou huis af weg was, en jy maak dan weer die voordeur oop, dan mag dit wees dat jy deur ’n effens bedompige of muwwe reuk verwelkom word.

  • En die eerste ding wat jy dan sal wil doen, is om die deure en vensters van die huis so wyd as moontlik oop te maak.
  • Jy sal wil hê dat daar vars lug moet inkom, sodat die bedompige en muwwe reuk weer die wyk kan neem.
  • Jy sal vars lug soek, want in ’n toe huis kan ’n mens tog nie behoorlik asemhaal en lewe nie.

#  Nou, hierdie prentjie wat ons nou voor ons het, van ’n toe huis met ’n bedompige en muwwe reuk, is ’n prentjie wat ons dalk kan help om beter te verstaan hoe God in ons wêreld werk.

  • So kom ons vul die prentjie net so ’n bietjie meer in.
  • En dan moet ons heel eerste sê: Die wêreld waarin ons leef, is in baie opsigte soos ’n toe huis.
  • Dink maar aan al die slegte dinge wat in ons wêreld gebeur, al die dinge wat daaraan ’n bedompige en muwwe reuk gee.
  • Soos bv. dat baie mense hulle verset teen God.
  • Hulle wil Hom nie as God aanvaar of erken nie.
  • Hulle wil nie voor Hom as Koning buig nie.
  • Paulus beskryf so ’n houding hier in Rom. 8 as “vyandskap teen God.”
  • En hierdie vyandskap teen God het weer alles te doen met wat Paulus ons “sondige natuur” noem.
  • Hy praat mos ook hier in Rom. 8 ’n hele paar keer van ons “sondige natuur.”
  • Dis daardie natuurlike geneigdheid hier binne-in ons om God te verwerp en om die verkeerde te wil doen.
  • En hoe duidelik sien ons nie hoe hierdie verkeerde geneigdheid in ons wêreld aan die werk is nie!
  • Ons sien dit bv. oral waar mense mekaar slegte dinge aandoen, van moord en korrupsie en verkragting, tot waar mense mekaar verkleineer of slegsê.
  • Blaai maar net een koerant van die week deur en merk die slegte dinge waaroor berig word met ’n rooi pen.
  • Of kyk maar net na die eerste deel van die nuus op TV, tot voor die sportberigte, en kyk wat dit aan jou gemoed doen.
  • En so is daar oral bewyse van ons “sondige natuur” wat aan die werk is, en van mense se “vyandskap teen God.”
  • Ons hoef beslis nie ver te gaan soek om sulke bewyse te kry nie.
  • En buitendien is hierdie bewyse sommer ook in ons eie hart en lewe baie duidelik.

#  Ons leef in ’n toe huis, ’n huis vol slegte dinge, wat ’n bedompige en muwwe reuk aan hierdie huis gee.

  • En dis nie altyd maklik om in so ’n huis te leef nie.
  • Soms voel ons dalk soos die man wat gesê het: Stop die wêreld, ek wil afklim.
  • Maar ek het vroeër tog ook gesê die prentjie van die toe huis kan ons dalk help om beter te verstaan hoe God in ons wêreld werk.
  • Want wat doen God in ons wêreld?
  • Hoe werk Hy in hierdie toe huis?
  • Ons verstaan sekerlik maar min van hoe Hy agter die skerms werk.
  • Maar ons kan wel dadelik sê: God het vir ons ’n venster in hierdie toe huis kom oopmaak.
  • Uit liefde vir ons stuur Hy sy Seun Jesus na hierdie wêreld toe.
  • En Hy stuur vir Jesus “as ’n offer vir die sonde.”
  • So stel Paulus dit in vers 3 wat ons gelees het: Jesus kom “as ’n offer vir die sonde.”
  • En daarom kan ons vanoggend sê: Jesus het kom sterf vir al ons ongehoorsaamheid aan God en al ons vyandskap teen God.
  • En so het Jesus, deur sy lyding, vir ons ’n venster kom oopmaak.
  • So het Hy van ’n toe huis, wat maar altyd net bedompig en muf sou wees, ’n huis met ’n oop venster kom maak.
  • En as ons in hierdie Lydenstyd terugdink aan wat Jesus vir ons kom doen het, kan ons sê: Hy het vir ons ’n venster kom oopmaak.
  • Dít is wat Hy deur sy verskriklike lyding en dood vir ons kom doen het.

#  Maar nou, baie belangrik: God se werk in ons wêreld hou nie op by wat Jesus kom doen het nie.

  • Hy maak nie net ’n venster oop sodat die toe huis darem nie meer heeltemal so toe is nie.
  • Nee, met respek gesê: God laat ook die vars bries van sy Gees by daardie venster inkom en deur die toe huis waai.
  • En so gaan sy werk in ons wêreld elke dag voort, deur sy Gees, die Heilige Gees wat op Pinksterdag uitgestort is.
  • So behalwe dat Jesus gekom het om vir ons ’n venster oop te maak, het die Gees gekom om soos ’n vars bries deur die toe huis te waai.
  • Ons weet mos dat toe Jesus met Nikodemus oor die werk van die Heilige Gees gepraat het, Hy die werk van die Gees met die wind vergelyk het.
  • Jesus het vir Nikodemus gesê: “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie.  So gebeur dit ook met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
  • Amper soos die wind waai, werk die Heilige Gees in ons wêreld en lewens.
  • En so sit God ook vandag nog sy werk in hierdie wêreld voort, deur sy Gees.

#  Dit is Lydenstyd.

  • En daarom dink ons in hierdie tyd veral aan dit wat Jesus deur sy lyding en dood vir ons kom doen het.
  • Maar nou wil die Woord van God ons vanoggend ook herinner aan hoe nóú die werk van die Heilige Gees aansluit by dit wat Jesus vir ons kom doen het.
  • Jesus het deur sy lyding en dood vir ons verlossing gebring.
  • En die Heilige Gees?
  • Wat het Hy kom doen?
  • Iemand het dit so gestel: “God het deur Christus ’n radikale verandering in gelowiges se lewens bewerkstellig. Die Gees pas hierdie verandering nou toe, werk dit in gelowiges se lewens uit, maak dit ’n konkrete werklikheid.” (WTDL 1/8/228)
  • a.w. die Heilige Gees help my om die verlossing wat Jesus gebring het, my eie te maak.
  • Hy sorg dat Jesus se verlossingswerk ook vir my persoonlik ’n werklikheid word.
  • Ons kan maar sê: Wat Jesus vir my gedoen het, doen die Gees in
  • En so sluit die werk van die Gees ten nouste aan by die werk van Jesus.

#  Nou, Paulus noem juis hier in Rom. 8 vir ons ’n paar baie belangrike dinge wat ons oor die werk van die Heilige Gees in ons lewens moet weet.

  • Hy sê bv. in vers 9 dat die Heilige Gees in ons as gelowiges woon.
  • As ek in geloof vir Jesus as my Verlosser aanvaar het, dan woon sy Gees ook nou in my.
  • Dan is God self elke oomblik hier by my, en selfs binne-in my, deur sy Gees.
  • Vir ons beperkte verstand is dit natuurlik heeltemal te veel om te begryp: dat die Gees van God in ’n doodgewone mens kan woon.
  • En nou kan ons mos ook nie die Gees sien nie!
  • Maar dít is die situasie in elke kind van God se lewe: die Gees woon in hom of haar.
  • Die Gees woon in u en in my.
  • En wat ’n wonderlike voorreg is dít nie!

#  Maar behalwe dat Paulus in Rom. 8 sê die Heilige Gees woon in God se kinders, is daar nog ’n paar baie belangrike dinge wat Paulus hier oor die Gees sê.

  • In vers 6 sê hy: “Die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.”
  • Die Heilige Gees help ons m.a.w. om die nuwe lewe en die wonderlike vrede wat Jesus reeds aan die kruis vir ons verwerf het, vandag te kan ervaar.
  • Die Gees help my om vandag werklik te kan lewe en nie maar net te oorlewe nie.
  • Hy help my om die geestelike oorvloed te kan ontvang wat Jesus vir my kom moontlik maak het.
  • Jesus het mos self in Joh. 10:10 gesê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
  • En die Heilige Gees laat ons dan vandag hierdie nuwe lewe van geestelike oorvloed ervaar, die lewe van ’n verloste kind van God.

#  Maar dan is daar ook nog die vrede wat Jesus vir ons gebring het.

  • En hierdie vrede, sê Paulus in Fil. 4, is ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.
  • a.w. dis ’n vrede wat wonderliker is as wat ’n mens ooit kan dink of verstaan!
  • Maar dis ’n vrede wat jy dan net kan hê wanneer jou verhouding met God en jou verhouding met ander mense reggemaak is.
  • Wanneer elke stukkende verhouding in jou lewe weer herstel is.
  • Want dit is wat vrede beteken: die verhoudings in my lewe is herstel, met God en met my medemens.
  • En dis die Heilige Gees wat help dat hierdie vrede ’n werklikheid in ons lewens kan word.
  • Hy help ons om ons saak met God en ons sake met mekaar te kan regmaak.
  • “Die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.”
  • So sê Paulus in Rom. 8:6.

#  Maar kom ons kyk ook nog vir ’n oomblik na iets wat Paulus in vers 9 oor die Heilige Gees sê.

  • Hy sê daar dat die Gees ons lewe beheers.
  • Wanneer die Gees in ons as gelowiges woon, wil Hy beheer van ons lewe neem.
  • En dit beteken Hy wil ons lewe in die regte rigting stuur.
  • Hy wil as ‘t ware die stuurwiel van ons lewe oorneem en ons lewe in die regte rigting stuur.
  • As ek nie ’n kind van God is nie, is dit natuurlik anders.
  • Dan is dit my sondige natuur wat die stuurwiel van my lewe stewig in sy greep het.
  • Maar as ek ’n kind van God is, dan kan ek weet: die Gees het gekom en in my kom woon.
  • En Hy wil nou my lewe beheers.
  • En natuurlik moet ek Hom ook toelaat om dit te doen.
  • Maar Hy doen dit graag en Hy doen dit goed.
  • En dit laat ’n mens mos ook dink aan dit wat Paulus die vrug van die Gees noem.
  • In Gal. 5:22 sê Paulus: “Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
  • So lyk ’n lewe wat beheers word deur die Gees van God.
  • Dis ’n lewe waarin die vrug van die Gees duidelik sigbaar is.

#  As ons vanoggend sê dat hierdie wêreld waarin ons woon soos ’n toe huis is, met ’n bedompige en muwwe reuk, is dit natuurlik maar net ’n beeld wat ons gebruik.

  • En as ons sê Jesus het deur sy lyding en dood vir ons ’n venster in hierdie huis kom oopmaak, waardeur die Gees van God nou soos ’n vars bries waai, dan is dít ook alles maar net beeldspraak wat ons gebruik.
  • Maar hierdie beeldspraak klop met die boodskap van die Bybel.
  • Dit klop met dié boodskap dat Jesus in ’n hopelose situasie vir ons hoop kom bring het deur sy lyding en dood en opstanding uit die dood, en dat die Gees ons vandag en elke dag wil help om met hierdie hoop te kan lewe.
  • Kom ons dank ons hemelse Vader dan nogmaals in hierdie Lydenstyd vir wat Jesus vir ons kom doen het.
  • Maar kom ons bid ook dat die Heilige Gees, wat in ons woon, ons lewe elke dag sal beheers.
  • Dan sal ons nie verstik aan die bedompige en muwwe lug van hierdie wêreld nie, maar sal ons die ware lewe en ware vrede ervaar wat van God self kom.
  • Ja, ons sal selfs ook hier in Suid-Afrika lewe en vrede ervaar, al gebeur daar elke dag soveel dinge wat die lug bedompig en muf maak.

AMEN

 

css.php