KOL. 1:12-20 (20/11/22)

#  Op baie bladsye van die Bybel lees ons van ’n stryd wat daar in die wêreld aan die gang is, ’n geestelike stryd, ’n stryd tussen lig en donker.

  • En baie keer lyk dit selfs ook in die Bybel of die donker wen.
  • Want ons lees tog ook in die Bybel van oorlog en moord, en siekte en dood, en bedrog en leuens en huweliksontrou, en baie ander slegte dinge.
  • Die geskiedenis wat in die Bybel vir ons vertel word, is dikwels nogal ’n donker geskiedenis.
  • En natuurlik ken ons ook in ons eie tyd die stryd tussen lig en donker.
  • Dink maar net aan al die donker en negatiewe dinge waarvan die koerante of die TV-nuus ons gereeld vertel.
  • En dan lyk dit dalk ook vandag in 2022 of die donker sterker kan wees as die lig.
  • Selfs in ons eie lewens mag dit dalk vanoggend so lyk: of die donker groter en sterker is as die lig.

#  Maar wat sê Paulus vir ons hier in Kol. 1?

  • Hy sê in vers 12 en 13 wat ons gelees het: “Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.”
  • Paulus sê ons as gelowiges is weggeruk uit die mag van die duisternis.
  • God het ons weggeruk uit die mag wat die duisternis op ons gehad het, die mag van die donkerte in die wêreld.
  • En dis nie al nie.
  • Paulus sê: God het ons ook gestel onder die heerskappy van sy Seun, van Jesus.
  • En die woord “heerskappy” sê vir ons dat ons hier met ’n koning te doen het.
  • Jesus is die Koning onder wie se heerskappy ons nou staan.
  • En sy koninkryk noem Paulus dan ook hier in Kol. 1:12 die “ryk van die lig.”
  • Jesus heers in die “ryk van die lig.”
  • Hy is Koning in die “ryk van die lig.”
  • En ons?
  • Ons het deel geword van hierdie ryk, want God het ons weggeruk uit die mag van die duisternis en ons gestel onder die heerskappy van Jesus.

#  En nou het ons vanoggend gekom om op hierdie Sondag van Christus die Koning die Naam van ons Koning te kom grootmaak.

  • Ons het gekom om te kom dankie sê dat ons nie meer onder die mag van die duisternis hoef te staan nie.
  • En dat ons ook nie hoef te dink dat die donker magte die wenners in hierdie wêreld is en sal wees nie.
  • En al sien ons vandag nog soveel skade en pyn en hartseer, wat deur die duisternis in ons wêreld aangerig word, en al verstaan ons nie hoekom die Here nie sommer nou al ’n einde daaraan kan maak nie, ons moenie vir een oomblik twyfel dat Jesus die Koning is nie.
  • En dat die “ryk van die lig” uiteindelik ook die enigste koninkryk sal wees wat sal bestaan nie.
  • Ons sien al oral tekens van Jesus se koninkryk.
  • Ons sien dit bv. daar waar mense liefde betoon eerder as haat.
  • En daar waar mense nie toegee aan versoekings nie maar dit oorwin.
  • Ons sien al oral iets van die “ryk van die lig,” maar uiteindelik sal daar net lig wees en geen donker nie.
  • Uiteindelik sal die koninkryk van ons groot Koning finaal kom en sal daar niks meer wees wat daardie koninkryk sal teenstaan nie.

#  So, ons is vanoggend hier om die Naam van ons Koning, Jesus, groot te maak.

  • En hoe moet ons dit doen?
  • Paulus gee vir ons hier in Kol. 1 begrippe en woorde wat ons kan gebruik om ons Koning mee te prys.
  • En ek verstaan dat ’n deel van die gedeelte wat ons saam gelees het, Kol. 1:15-20, eintlik in die vorm van ’n lied is.
  • So, as gemeente sou ons hierdie verse vanoggend kon sing en so die Naam van ons Koning, Jesus, grootmaak.
  • Ongelukkig het ons nie ’n wysie vir hierdie lied nie.
  • Maar hierdie gedeelte is ’n lied.
  • En ons het sy woorde, woorde wat uitspel hoe groot ons Koning is.

#  So, wat sê Paulus in sy lied oor Jesus?

  • Hy sê so baie, en dit is sulke onbegryplike groot dinge dat ’n mens besef jy kan heeltemal te klein dink oor Jesus.
  • Jy kan heeltemal te klein dink oor ons Koning.
  • Ek onderstreep net ’n paar van die baie belangrike dinge wat Paulus in sy lied oor Jesus sê.
  • En ek begin by vers 15.
  • In dié vers sê Paulus dat Jesus die “beeld van God” is.
  • So in Jesus sien ons wie God is en hoe God is.
  • Jesus weerspieël dit vir ons soos ’n blink, helder spieël.
  • En ons sien in Jesus veral weerspieël hoe groot God se liefde is.
  • Dink maar aan hoe Jesus in sy lewe op aarde teenoor mense opgetree het.
  • Dink maar aan sy liefde vir verlore mense en stukkende mense en mense wat siek en honger was.
  • Jesus is die “beeld van God.”
  • En in Jesus sien ons dan veral hoe groot die liefde van God is.
  • En ons prys sy Naam, Hy wat die liefdevolle beeld van God is!

#  En dan tweedens sê Paulus in vers 16 en 17 wat ons gelees het dat God alles in die skepping deur Jesus geskep het en dat alles ook deur Hom bly voortbestaan.

  • En hoe sal ons met ons klein verstandjies regtig verstaan wat Paulus hier sê?
  • Ons wat maar net spikkeltjies in die groot heelal is.
  • Ons wat maar net vir ’n baie kort tyd in die ewigheid hier op die aarde leef en dan moet sterf.
  • Ons wat maar net doodgewone skepsels van ons Skepper is.
  • Hoe sal ons verstaan as dit oor die skepping van alles gaan?
  • Maar deur ons Koning, Jesus, het God dit alles gedoen.
  • Het Hy alles geskep wat gesien kan word en ook alles wat nie gesien kan word nie.
  • En deur Jesus bly alles ook nog so voortbestaan.
  • ’n Onbegryplike wonder – die wonder van die skepping!
  • Die wonder dat ons ook elkeen vanoggend hier kan sit of staan.
  • Dat ons kan asemhaal.
  • Dat ons kan lewe.
  • En dat dit deur Jesus is dat alles en almal ook so kan bly voortbestaan.
  • Daarvoor kan ons maar net sy Naam groot maak en prys!

#  Dit bring ons by vers 18 wat ons gelees het, ook as deel van Paulus se lied.

  • En hier kry ons nóg ’n baie belangrike ding wat Paulus oor Jesus sê.
  • Hy sê dat Jesus die oorsprong en die hoof van die kerk is.
  • Net soos die hele skepping deur Hom en vir Hom geskep is, so het die kerk ook deur Hom ontstaan en is die kerk daar vir Hom.
  • Die kerk is nie iets wat mense uitgedink het nie.
  • En die eintlike hoof van die kerk is nie ’n pous of ’n sinode nie.
  • Nee, Jesus is die oorsprong en die hoof van die kerk.
  • En alles wat in die kerk gebeur en wat deur die kerk in die wêreld gedoen moet word, moet tot sy eer geskied.
  • Ongelukkig maak ons as mense baie keer so ’n gemors van kerk wees, en steek ons Jesus eintlik in die skande by die wêreld.
  • Baie keer dra ons as ’t ware juis donkerte in die kerk in, terwyl die kerk dié plek in die wêreld moet wees waar mense Jesus se lig die duidelikste moet kan sien.
  • As ons bv. nie mekaar liefhet hier in die gemeente nie, as ons met mekaar stry en baklei, of mekaar beskinder en swartsmeer, dan laat verdof ons mos Jesus se lig.
  • Maar Hy is en bly die oorsprong en hoof van die kerk.
  • En Hy sal tot die einde van die tyd toe sy kerk bly lei en regeer.
  • En Hy sal sorg dat die donker nie sy lig kan uitdoof nie.
  • Ons prys sy Naam.
  • Hy’s die oorsprong en hoof van die kerk.

#  En dan, ’n laaste ding wat ek graag wil onderstreep uit Paulus se lied oor Jesus, en dit is dat God deur Jesus alles met Homself versoen het en die vrede herstel het.

  • Versoening en vrede, deur Jesus.
  • Dít is wat God reeds deur sy Seun op hierdie aarde kom doen het.
  • En dit is ook die goeie nuus van die Bybel: versoening en vrede, deur Jesus.
  • En ons weet mos: Oral waar die mag van die duisternis in beheer is, daar is mense vyande van God en van mekaar.
  • Daar is mense nie met God of met mekaar versoen nie, en is daar nie vrede nie.
  • Ons weet mos ook hoe verskriklik die konflik en onmin tussen mense kan wees en hoeveel hartseer dit kan veroorsaak.
  • Of dit konflik tussen verskillende lande is, of tussen mense wat saam in ’n kantoor sit, of tussen mense wat saam in een huis woon.
  • Konflik en onmin tussen mense kan uiters sleg en donker wees.
  • Maar deur Jesus is die teenoorgestelde nou moontlik.
  • Deur sy bloed wat aan die kruis op Golgota gevloei het, het die teenoorgestelde nou moontlik en werklik geword.
  • Ek kán nou versoen wees met God en met mense.
  • En ek kán nou in vrede met Hom en met my medemens lewe.
  • Daar kán nou lig wees in my verhouding met God en mense, want Jesus het die donker kom oorwin.
  • Jesus het ware versoening en ware vrede vir ons almal gebring.
  • En ons prys sy Naam!

#  Jesus is die groot Koning.

  • Hy alleen is die groot Koning!
  • En Paulus herinner ons vanoggend op baie maniere daaraan.
  • En ons?
  • Dit pas ons om sy Naam groot te maak en Hom te prys!
  • En dit pas ons om laag voor ons Koning te buig, soos die sterrekykers kort na Jesus se geboorte voor Hom gekniel het.
  • Voor die groot Koning kan jy nie anders nie, jy kniel in nederigheid voor Hom.
  • En as jy weer regop kom, dan gaan leef jy in gehoorsaamheid aan Hom.
  • En jy gaan bid die gebed wat Hy jou leer bid het: Laat u koninkryk kom.
  • Laat die ryk van die lig kom!
  • En jy gaan leef en werk elke dag in hierdie koninkryk, al is dit dalk so dat jy maar net klein straaltjies van Jesus se lig kan weerkaats in die groot stukke donker wat jy nog teëkom.
  • Al kan jy net klein bietjies van sy liefde en genade deel met mense wat dit nodig het, jy gaan leef en werk getrou in sy koninkryk.

#  Jesus is die groot Koning.

  • Hy alleen is die groot Koning.
  • Kom ons wees dan ook aan Hom alleen gehoorsaam en prys Hom met ons hele lewe!

AMEN

css.php