As godsdiens skeefloop

Verwelkoming:

Ons lewens loop almal ’n bietjie soos die verlore seun s’n. Ons wil ons eie ding doen. Ons loop ons eie draaie. Ons het ’n sekere idee van ons Vader se huis (God/geloof). Ons probeer op ander maniere vervulling vind, om dan hoeplik weer, ons Vader se huis te herontdek, opnuut, as ons enigste ware tuiste…

Votum/seëngroet:

(Geloof in ’n lewende God bly altyd nederig, oop, ontvanklik – beloftes)

“28Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense,

julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom,

julle jong mans sal visioene sien. 29In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom

selfs op dié wat nie in aansien is nie… (Joël 2)

Skriflesing:

Luk 18:9-14

Preek:

Dit is belangrik om van die begin af te besef wat dit is wat Jesus met hierdie gelykenis probeer uitwys, en gelukkig help Lukas vir ons mooi daarmee: “Met die oog op mense wat seker was dat hulle saak met God reg is, en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel…” 

Die gelykenis probeer iets sê oor die gesindheid van mense se hart – want dit is natuurlik wat saakmaak in die koninkryk van God. Dit probeer nie sê dat sommige groepe mense beter is as ander groepe mense nie. Dan trap ons natuurlik net mooi weer in die strik van hierdie gelykenis: “Dankie Here dat ek nie soos hierdie skynheilige Fariseër is nie!” En dan sien ek maar weer op ander neer…

So die gelykenis probeer nie sê dat dit sleg is om te probeer om ’n goeie mens te wees en die regte ding te doen nie – soos die Fariseërs. Hierdie Skrifgeleerdes het baie gedoen onder baie vervolging om te verseker dat die Joodse geloof behoue bly, en mens kan aanvaar dat baie van hulle opreg was. Steeds mis hulle egter die verskyning van God in Jesus – en ons sal later uitkom by die hoekom.

Die gelykenis probeer ook natuurlik nie sê dat Tollenaars (belastinggaarders) goeie ouens was nie. Hulle was dit beslis nie. As hierdie plaaslike middelmanne van die Romeinse regering se ooreengekome kwota vol was, was daar geen grense aan wat hulle vir hulself kon toe-eien nie. En hierdie tipe uitbuiting van armes is een van die mees veroordeelde praktyke in die OT. 

So die gelykenis sê ook definitief nie moenie worry oor jou lewe nie, sê net soms opreg jammer nie. Ons weet sommige mense is baie keer huilend jammer maar hulle gedrag bly presies dieselfde. So iemand se saak is nie noodwendig reg met God nie (geregverdig). 

(S5)Om te sien hoe die Here vandag met ons deur hierdie gelykenis praat, moet ons tog bietjie wonder oor hoe dit gebeur het dat die Farisieërs en die Skrifgeleerdes die “baddies” in die evangelies geword het. Watter ingesteldheid van hulle harte het Jesus veroordeel? Waar het hulle godsdiens skeefgeloop?

As ek dit in my eie woorde probeer verduidelik, dink ek dit kom op die volgende neer: Die bottom line is dat hulle God beperk het; dat hulle godsdiens gaandeweg God al hoe meer verduister het, eerder as verhelder het. Op baie verskillende maniere het hulle God vasgevang/ingehok in hulle verbeelding. 

Die eerste manier hoe hulle dit gedoen het was deur God in te hok in die Bybel (wet en profete; OT). Miskien vra jy, maar hoe is dit moontlik? Die Bybel is tog God se woord? 

(Kantlyn: die probleem is altyd maar oor hoe ons ego lei tot selfbedrog. Ons kan altyd iets wat goed is verdraai as ons motief nie suiwer is nie.) 

Vir die Skrifgeleerdes van Jesus se tyd het die Bybel al hoe meer ’n manier geword om die grense al hoe duideliker te trek: wie is in en wie is uit. Rein, onrein. Regverdig, heiden. Die uitverkore nasie – die res vir wie God ook nie eintlik omgee nie. 

En as ’n mens so inzoem op die woorde van die Bybel, die “regte” interpretasie, die wen van argumente, die vrees vir verkeerd wees en straf – dan loop godsdiens skeef en begin jy God en die Bybel met mekaar verwar. God raak net ’n idee: staties, onpersoonlik en voorspelbaar. Vasgevang in jou, en jou groep se altydgeldende interpretasie van die Bybel. 

Ons Bybelskoolboek, “Die Bybel in fokus”, het ’n paar plekke waar dit die probleem met hierdie “Fariseëragtige” Bybelhantering mooi uitwys:

“Christene glo nie in die Bybel nie. Christene glo wel baie dinge oor die Bybel… Die Bybel is wel ’n heilige boek… maar dit is nie ’n towerboek of ’n soort “papierpous” nie. Die Bybel is juis vir Christene belangrik omdat dit iets oor God sê…

As ’n mens in die God van die Bybel glo, sê dit nie net iets oor wat in die Bybel of in die Bybelse tye gebeur nie… As ek sê: ‘Ek glo in God!’, bedoel ek daarmee dat ek God as lewende werklikheid in my lewe erken. Ja, dat ek nou in die teenwoordigheid van God lewe; dat God nog vandag hier aanwesig is. Om in God te glo gaan oor iets wat nóú gebeur…” (bl 147)

Die Bybel is nie eintlik as sodanig die Woord van God nie. Ek kan tog ’n gedeelte aanhaal op ’n manier wat teen God se wil is. Dit wórd die Woord van die lewende God elke keer as Hy met ons daardeur praat vir vandag en nou en ons dit ter harte neem. 

Die voorbeeld van Jesus, sy woorde sy kruisdood, sy opstanding was alles gebou op dit wat voorafgegaan is in Israel se geskiedenis en het dit saamgeneem, maar dit was ook so verrassend nuut. En is dit nie ironies nie – dat dit mense se godsdiens was van hulle die grootste vyande gemaak het van God se grootste werk in Jesus. 

“Dankie Here dat ek nie soos hierdie Fariseërs is nie!!” In die strik! 

Natuurlik kan ons as Christene maar net weer met die NT maak presies soos wat die Fariseërs met die OT gemaak het. Hoe verrassend nuut ons God kan werk, sien ons ook die geskiedenis van die vroeë kerk en ons moet daarmee rekening hou. 

Toe die eerste nie-Jode tot bekering kom en die veilige laer van die Jode oopgebreek word, moes hulle besluit of hierdie gelowiges ook al die wette van Moses (eetgebruik, besnydenis, sabbat) moes hou. Hulle het besef geloof in Jesus is genoeg – en onthou, hulle het toe nog nie die NT gehad om hulle besluit te verfiëer nie – hulle moes staatmaak op die leiding van die Heilige Gees om hulle gemeenskaplike besluitneming te lei!

So, ons godsdiens loop skeef as ons prentjie van God klein word; as dit vir ons meer oor die Bybel/godsdienstigheid gaan as oor God self. 

En as ons dit so inmeng in ons kultuur dat dit gekontamineer word. As ek dit gebruik om my kant te versterk in al daardie “ons-hulle” gesprekke. Mans vs vroueregte, wit mense se regte, my taalregte, straight mense teenoor gay mense. “Christenskap” word dikwels net deel van my lysie hoe ek my identiteit afskerm teen ander mense: ek is wit, Afrikaans, ek werk vir my geld, lid van X politieke party/ideologie en ook Christen – want mense soos ek is Christen.

En daarom moet ons baie versigtig wees vir die “Christelike” skool, politieke party, kultuurorganisasie – nie noodwendig verkeerd nie – maar tog gevare! 

Die probleem vloei alles uit die ego uit voort: dit gaan oor myself en eie belange, my sekuriteit – en die manier om dit te verskans is deur mag – en mag se maatjie is geld – geld voed mag. Groepsidentiteit word versterk deur ’n gedeelde vyand wat mense reduseer tot ’n etiket: liberalis, kommunis, swart…

Hoekom het die Tollenaar teruggekeer na sy huis toe as die een wie se saak met God reg was, die geregverdigde? Hy was die teenpool van iemand wat gedink het “sy eie saak met God is reg en neergesien het op ander…”

Hy was nederig en oop. Sy trots was gebreek. Sy ego uit die pad uit. Daar was geen vergelyking met ander nie, geen kompetisie nie. Net ’n volkome en eerlike oorgawe aan God se genade. ’n God wat teenwoordig is, persoonlik is, kan vergewe en vryspreek en oor begin. 

As ons nie “rockbottom” is nie, is dit feitlik ontmoontlik om konstant in daardie egolose plek te bly. So watter dissiplines kan ons aanleer sodat God God bly in ons lewe, sodat ons oop bly dat Hy ons kan verras en ons lewens verruim en ons al hoe nader beweeg aan die lewe en roeping wat Hy vir ons in gedagte het?

Net die volgende verhaal in Lukas is Jesus se seën van die kindertjies. 

Oefen om meer soos ’n kind te wees: verwonder jou, speel.

Gee mense ’n kans – kyk na hulle karakter – nie hulle uiterlike/groep nie. Betoon respek deur te probeer luister en verstaan en nie van ’n afstand te oordeel nie. 

Bly leerbaar, nederig en oop – dit is soveel ryker as heeltyd verdedig en reg wees. 

Daag jou idee van groepe, “alle X is maar so, tipies…” uit.

God is groter. God kan nie vasgevang word in ons klein wêreld en idees nie. Gee Hom ’n kans, want Hy verlos, Hy maak heel en reg. Amen. 

css.php