Slimmer Christene?
Verwelkoming:
God se alternatiewe tyd, sy alternatiewe wêreld, perspektief – ons sien, dink, voel anders..
Votum:
(1 Kor 1) “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.”
Ons gees, ons gedagtes, ons verbeelding, ons harte is nuut. Ons is in hierdie wêreld, maar ons is nie van hierdie wêreld nie.
Skriflesing:
Luk 16:1-13
Preek:
Geld. Dit bly ’n ongemaklike storie. Ons raak maklik te lief daarvoor – seker maar veral omdat dit ons ego streel. Ek voel suksesvol, ek het sekuriteit, dit gee my status en moontlikhede om lekker dinge te doen. En nie verniet noem Jesus dit Mammon, die geldgod nie. Oral sien ons die vernietigende gevolge as ons ons siel aan hierdie god verkwansel. Dit is nie verniet dat geld die wortel van alle kwaad genoem word nie. Van kleins af al maak hy kinders se ogies ophelder as ons hulle bederf met allerhande Luukse goedjies.
Maar selfs al is ons nie uitermatig lief vir geld nie, is ons verhouding met geld ingewikkeld. Baie van ons leef van salaris tot salaris (of pensioen) en dit is net asof dit nooit heeltemal genoeg is nie. As dit by julle soos by ons gaan is die mediesefonds nou al uitgeput vir die jaar en die skool kry elke maand nuwe maniere om nog van jou geld te vra.
En jy bekommer jou. Wat van my kinders se studies. Wat van my oudag. En ek weet mense ly honger, maar soms wil mens darem sorgvry op vakansie oor kan gaan sonder om die heeltyd die overdraft dop te hou.
En daar het ons nog nie eers oor die ekonomie gepraat nie. Al luister jy gereeld vir Dawie Roodt bly die werkinge van hierdie komplekse sisteem maar duister. Ons weet daar is dinge, mense in magtige posisies (staat en privaatsektor), en korporasies wat hierdie storie kan beïnvloed, maar nie een van ons is een van hulle nie. Ons moet maar net kyk hoe ons die beste kan maak van die kaarte wat aan ons gedeel word.
Ons weet ons word ingeloop en verontreg. Om elke hoek en draai. Ons betaal getrou belasting net vir politici om hulself te verryk. En kom ons onthou maar, die Markus Joostes van die wêreld is niks meer moreel as hulle nie.
Jou spesialis, die privaathospitaal waarin hy aandele het én die mediese fonds maak lekker geld van jou pyn af.
Hier op die onderpunt moet jy maar tevrede wees as die CEO se bonus alleen 10ne miljoene beloop.
- Terloops, die gemiddelde salaris vir ’n CEO in SA is amper R28 miljoen per jaar.
- In die VSA is die verhouding tussen die CEO en die laagste werker se vergoeding 670-1.
- In 1965 was hierdie verhouding 15-1. Waar is die Christen drukgroepe wat hulself hierteen uitspreek? Gaan kyk ’n bietjie wat Jesus alles sê in Lukas en dan vra jy vir jouself WWJD hieroor…
- Die Fariseërs was baie lief vir geld, staan daar in v14, en hulle het Jesus beledigend uitgelag oor sy perspektief op geld. Wat gebeur vandag met mense wat sê dat daar iets fout is met ongebrydelde kapatalisme? Ons westerlinge glo mos in die vryemark soos in die evangelie self.
Maar gelukkig is jy darem nie deel van die armste en werkloosste deel van die bevolking wat net op jou SASSA uitbetaling moet staatmaak nie, of in die ry staan by die mikrolener om jou nog verder in die maalkolk van skuld vas te vang nie.
Lukas is bekend as die Evangelis van die armes. In die bergrede in Mat sê Jesus geseënd is die armes van gees. Vir Lukas is dit net geseënd is die armes. En hy haal ook vir Jesus as volg aan in sy weergawe van die bergrede: “Maar ellende wag vir julle wat ryk is, want julle het julle lekker lewe al weg.” En net hy het die storie van die ryk man en Lasarus (wat by sy Poorte vergaan het van ellende) wat op baie verskillende plekke eindig na hulle dood.
Uit alles wat Jesus ons oor geld leer is dit die belangrikste punt ooglopend: soos alle afgode is Mammon se beloftes vals. Geld kan nie geluk, vrede, sekuriteit en selfvervulling gee nie…. Dit is hemelse skatte wat kom saam met ’n lewe in die koninkryk van God.
Teen die agtergrond is ek redelik seker dat Jesus se woorde in v9 ironies bedoel word (Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.”. Jou aardse pelle wat geld vir jou gebring het kan jou juis nie in ewige wonings huisves nie – of dan nou, ’n nare verrasing wag vir jou in daardie “ewige woning”.
Die grootste verrassing in die gelykenis is egter dat die werkgewer die oneerlike bestuurder geprys het?! Dit vang ’n mens onkant – en ek is seker Jesus het dit so bedoel. Die probleem is ook dat ons nie gehelp word om te verstaan hoekom nie – en dit maak van hierdie een van Jesus se meer duistere gelykenisse. Daar is ’n paar teorieë wat ’n mens kan oorweeg:
1. Dalk was dit vir die eienaar beter om darem iets van sy skuld in te kry as niks nie — soos ons vandag sal sê, kontant in die sak is meer werd as ’n IOU. Dalk het dit ook sy beeld as ’n “goeie ou” in die gemeenskap ’n hupstoot gegee. Daar was ook ‘n sterk beginsel in die ou kultuur dat as iemand vir jou iets goeds gedoen het, dit ’n saak van eer is om weer iets goeds in die toekoms vir daardie persoon te doen.
2. Dit mag ook wees dat die bestuurder net sy deel van die wins opgee om so weer in die goeie boekies van sy bestuurder te kom – maar dit is onwaarskynlik: hy wou ander mense se guns wen en nie die van sy bestuurder nie – hy het aanvaar hy is op pad uit.
3. Maar wat vir my die meeste sin maak in die konteks is hierdie een: die werkgewer was beïndruk met die oneerlike bestuurder se kreatiewe vermoë om ’n plan te maak as die gety teen jou draai. Nou nog in die wêreld, al buig jy die reëls so ’n bietjie, tel dit baie. The Message vertaling gee dit mooi weer: (S11)“Now here’s a surprise: The master praised the crooked manager! And why? Because he knew how to look after himself. Streetwise people are smarter in this regard than law-abiding citizens. They are on constant alert, looking for angles, surviving by their wits. I want you to be smart in the same way—but for what is right—using every adversity to stimulate you to creative survival, to concentrate your attention on the bare essentials, so you’ll live, really live, and not complacently just get by on good behavior.”
Het ons slimmer Christene nodig? Ek dink so. “Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig. (V9)” (Ook verstandig (2020), insig… positiewe woord – sommige engelse vertalings vertaal dit as “shrewd”).
Geld bring ons by een van die moeilikste “in hierdie wêreld maar nie van hierdie wêreld nie” –spanninge.
Mens kan heeltemal probeer uitklim, soos die Franciskane wat soos hulle sigter, St Francis steeds ’n belofte van vrywillige armoede maak en nooit iets in hulle lewe sal besit nie.
Maar dit kom maar weer terug by volwasse Christene wat leer om geïntegreerd te lewe: In hierdie aardse wêreld met die ingesteldheid, visie en insig van die ewige lewe. Hulle is mense van die lig – hulle sien duidelik hul eie motiewe en werkswyse, maar ook die motiewe en werkswyse van die wêreld.
Hulle ware skatte is op ’n ander plek – geld is ’n middel tot ’n doel en nie ’n doel opsigself nie, en daarom kan hulle lig daarmee opgaan – as hulle dit het én as hulle dit kortkom.
En daarom kan hulle met al die kompleksiteit en spanning van hierdie wêreld leef. Hulle weet mense het die reëls van die ekonomie geskryf en mense kan dit ook weer verander. Hulle kan die reëls van die spel speel op so ’n manier om soms ook die reëls van die spel uit te daag. Hulle kan waag, want hulle sekuriteit is geanker op ’n ander plek. Waarin hulle belangstel is ’n wêreld waar die koninkryk van God kom en wat ’n beter plek is vir almal om in die te leef. En hulle ontdek in hulself die vermoë, die Godgegewe kreatiwiteit en die geleenthede om planne te maak in hierdie verband.
Die volgende goed (sosiale innovasie) wat vir my in hierdie kategorie val is die volgende:
- As iemand ’n vlieëplaas begin, die eerste in die wêreld, in SA, Philippi – organiese afval word deur vlieëlarwes verwerk en die larwes word geoes en gemaal tot veevoer – volhoubaar en tonne vis word gespaar.
- As die Nederlandse NPO The Ocean cleanup al 100 ton plastiek uit die Big Pacific garbage patch uitgehaal het met hulle bote en nou ’n Solar, selfbestuur stofsuierboot wat plastiek uit riviere haal ook gemaak het.
- Ek sien dit as wetenskaplikes van die Universiteit van Stanford sonpanele maak wat in die nag werk (hulle stoor hitte deur die dag wat in die nag uitstraal en die verskil in temp word in elektrisiteit omskep) en die moontlikheid skep om duur batterye uit die sonkrag vergelyking te haal.
- En In Quintun Adams, wat bekend staan as “The Schack builder”. Hy is ’n opvoedkundige Sielkundige en akademikus wat al die afgelope 17 jaar in plakkerskampe werk en werklose jongmense in sy “backyard University” oplei om vakmanne te wees en vir mense in ongesonde behuising beter wonings te bou.
- As SA Harvest die oorskietkos van winkels en restaurante versamel en dit aan behoeftiges versprei.
Dalk gebeur daar iets in jou as jy hierdie dinge hoor – oor wie jy wil wees en oor wat jy kan doen. Dalk ’n groentetuin op jou sypaadjie, ’n skoonmaakprojek. Dalk kan jy net jou besigheid kry om hulle gemeenskapsbetrokkenheid te verhoog deur ’n mooi proposal aan die baas oor die belastingvoordele. Dalk kan jy ’n besigheidsmodel uitdink wat meer eties is – bewusmaking doen van onreg en ongelykheid via sosiale media. Die moontlikhede is eindeloos.
Ons hoef nie terug te staan vir die kreatiewe planne van die duister nie. Word slimmer mense van die lig – die wêreld het dit nodig! Amen.
#GaanLeefGeloof…
Oefening:
Wat het jou getref vanoggend? Wat dink jy wil die Here vir jou sê?
Wat kan jy prakties gaan doen in gehoorsaamheid?
Neem jou foon en maak ’n nota daarvan. Stel ook ’n reminder om jou daaraan te herinner.
