Ef. 1:15-23 (26/5/22)

#  Ons vier dan vandag die hemelvaart van Jesus.

  • Voor die oë van sy dissipels is Jesus skielik van hulle weggeneem en het Hy opgevaar na die hemel.
  • 1:9 sê: “Jesus is opgeneem, terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie.”
  • En dis eintlik ’n baie ingrypende ding wat op daardie dag daar plaasgevind het.
  • Baie ingrypend, want Jesus was ná sy hemelvaart nie meer self liggaamlik en fisies op die aarde nie.
  • En die dissipels moes nou met hulle lewens voortgaan sonder dat Jesus langer sigbaar by hulle was.
  • Die dissipels moes nou ’n nuwe tydperk ingaan, die tyd ná die hemelvaart van Jesus.
  • En dit laat onmiddellik by ’n mens die vraag ontstaan: Maar wat is die betekenis van Jesus se hemelvaart?
  • Hoekom het Hy opgevaar na die hemel?
  • En hoe moet ons dink oor die feit dat Hy nie meer self sigbaar hier op aarde teenwoordig is nie?

#  Nou, in die Bybel word daar baie duidelik oor die betekenis van Jesus se hemelvaart gepraat.

  • In verskillende Bybelgedeeltes word daar vir ons ’n goeie aanduiding gegee van hoe ons daaroor moet dink.
  • En ook in die gedeelte wat ons vanaand saam gelees het, word daar onder andere oor die betekenis van die hemelvaart gepraat.
  • Veral die laaste gedeelte van Paulus se gebed in Ef. 1 sê vir ons ’n hele paar baie belangrike dinge oor die hemelvaart.
  • So, wat is die betekenis van die hemelvaart?
  • ’n Eerste belangrike ding is dít: Die hemelvaart wys vir ons iets van die mag en krag van God.
  • 1:19 en 20 stel dit so: “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het.”
  • So, Jesus se opstanding uit die dood en sy hemelvaart word in hierdie verse in dieselfde asem genoem.
  • Hierdie twee dinge is albei tekens van die ontsaglike mag en krag van God.
  • En wie anders as Hy kan sulke dinge doen?
  • Wie anders kan iemand uit die dood laat opstaan en Hom ook voor die oë van ander mense van die aarde af laat verdwyn?
  • Net ons grote God kan dit doen.
  • Net deur ’n wonderwerk van God kon dit plaasvind.
  • En daarom is die hemelvaart van Jesus vir ons in die eerste plek ’n teken en openbaring van die mag en krag van God.
  • Ja, die hemelvaart van Jesus laat ’n mens klein voel, baie klein by die besef van hoe groot ons God is.
  • Sy mag en krag is selfs nog groter as wat ons ons kan voorstel!

#  Maar dan is daar nog ’n baie belangrike ding wat in Ef. 1:20 vir ons omtrent Jesus se hemelvaart gesê word.

  • Daardie vers sê dat God die Vader vir Jesus “in die hemel aan sy regterhand laat sit het.”
  • En dit is mos ook wat ons in ons geloofsbelydenis bely.
  • Ons sê, in die Apostoliese Geloofsbelydenis: Ons glo in Jesus Christus “wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader.”
  • En die regterhand van God is iets waarvan ’n mens sommer ’n hele paar keer in die Bybel lees.
  • In Eks. 15:6 sê Moses bv.: “U regterhand, Here, gedug in sy krag, u regterhand, Here, verpletter die vyand.”
  • En so is die regterhand van God ’n teken van sy mag en krag.
  • En as Jesus dan nou aan die regterhand van God die Vader sit, beteken dit dat Hy ook oor die mag en krag van die Vader beskik.
  • Dat Hy met mag en krag regeer, want Hy bevind Hom in die heersersposisie in die hemel.
  • Hy sit aan die regterhand van die Vader.

#  Ons weet dat toe Jesus op aarde gelewe het, sy lewe ’n lewe van groot nederigheid was.

  • Ons sien dit bv. waar Hy Jerusalem op ’n donkie binnery, en waar Hy sy dissipels se voete was net voor Hy die Nagmaal die eerste keer instel.
  • Jesus het self ook baie uitdruklik gesê dat Hy nie gekom het om gedien te word nie maar om te dien.
  • Maar waar Jesus nou aan die regterhand van die Vader sit, het Hy weer ’n verhewe posisie ingeneem – die heersersposisie in die hemel.
  • En dit beteken natuurlik nie dat Jesus nie ook in sy lewe op aarde ons Koning en Heerser was nie.
  • Maar op aarde het Jesus ons vrywillig kom dien en vrywillig in ons plek kom sterf.
  • Hy het vrywillig ’n nederige dienskneg kom word.
  • Maar nou, ná sy hemelvaart, is Hy weer deur die Vader verhoog, en beklee Hy die heersersposisie in die hemel.
  • “Aan Hom het God alles onderwerp,” sê vers 22.

#  So, Jesus se hemelvaart beteken veral dat Hy gegaan het om aan die regterhand van die Vader te regeer.

  • En hierdie feit, die feit dat Jesus regeer, is so belangrik dat die bekende Switserse teoloog Karl Barth gesê het: “Dit is die eerste en laaste ding wat ’n mens kan en moet sê oor ons lewens en oor die wêreld.”
  • Dat Jesus aan die regterhand van die Vader regeer, het Barth gesê, is die heel belangrikste ding wat ’n mens kan en moet sê oor ons lewens en die wêreld.
  • Niks kan vir ons uiteindelik belangriker wees as om te weet dat Jesus regeer nie.
  • Dat Hy Koning oor alles en almal is.
  • Niks kan vir ons belangriker wees nie, want as Jesus regeer, dan is daar mos niks waarvoor ons as sy kinders bang hoef te wees nie.
  • Dan is alles mos onder beheer, selfs al lyk dit miskien dikwels vir ons asof alles juis nie onder beheer is nie.
  • Alle magte en kragte, of hulle goed of boos is, staan uiteindelik onder Jesus se beheer.
  • En dít is wat Jesus se hemelvaart vir ons wil sê: Ons het Iemand in die hemel wat oor ons lewens regeer.
  • Ons het Iemand wat oor hierdie deurmekaar wêreld van ons regeer.
  • En daardie Iemand is Jesus wat aan die regterhand van die Vader sit.

#  Nou, natuurlik is dit vir ons moeilik om te verstaan HOE Jesus presies oor ons wêreld regeer.

  • Hy het bv. nie gekeer dat daar nou weer ’n tweede keer groot vloedskade in KwaZuluNatal kom nie.
  • En in Februarie het Hy nie gekeer dat Rusland die Oekraïne inval en dat dit tot groot lewensverlies en verwoesting gelei het nie.
  • Dit lyk of Hy nie met mag dinge in die wêreld laat gebeur nie.
  • Hy regeer niet met mag, soos aardse leiers nie, maar met liefde.
  • Hy dwing ook nie mense om Hom as Koning te aanvaar nie – Hy nooi ons uit om dit te doen.
  • So, daar is baie wat ons nie verstaan omtrent hoe Jesus oor die wêreld regeer nie.
  • Maar as gelowiges hou ons daaraan vas DAT Hy regeer, en DAT die Vader alles aan Hom onderwerp het, soos Paulus hier in Ef. 1 sê.
  • En dit troos ons om te weet: Hy regeer!

#  Nadat Jesus na die hemel opgevaar het, was daar sekerlik ’n groot gemis in die lewe van sy dissipels.

  • Sy volgelinge het sekerlik moeilik van Hom afskeid geneem.
  • Maar later moes hierdie volgelinge ontdek dat dit eintlik ’n goeie ding is wat met Jesus se hemelvaart gebeur het.
  • ’n Goeie ding, want Jesus sou ook nou op ’n nuwe manier oor sy kerk regeer.
  • Hy sou nou aangestel word “as hoof van die kerk,” soos Paulus dit in vers 22 stel.
  • Jesus sou na sy hemelvaart nie net so in die algemeen Koning oor die hele wêreld wees nie – Hy sou ook in die besonder die “hoof van die kerk” wees.
  • Toe Hy nog op aarde was, is Jesus mos deur die godsdienstige leiers van daardie tyd verwerp.
  • Dit was juis die mense van die kerk wat Hom vervolg het en wat die lewe vir Hom baie moeilik gemaak het.
  • En dit was op hulle aandrang dat Jesus aan ’n kruis vasgespyker is.
  • Maar nou, ná Jesus se hemelvaart, is al hierdie vernedering iets van die verlede.
  • En nou is Jesus aangestel as hoof van die kerk.
  • Hy is die hoof van almal wat Hom as hulle Verlosser aanvaar.
  • Hy is die hoof van almal wat deur sy bloed losgeloop is uit hulle sonde.
  • En so is Hy ook vanaand die hoof van Paarlberg-gemeente en elke ander gemeente van sy kerk op aarde.

#  En hierdie punt is só belangrik: Hemelvaart beteken dat Jesus vanuit die hemel oor sy kerk en die gemeentes van sy kerk regeer.

  • Dit is nie ’n pous of ’n moderator wat hoof van die kerk is nie.
  • En dis nie sinodes of kerkrade of predikante of lidmate van die kerk wat die laaste sê in die kerk het nie.
  • Daar is net een hoof van die kerk en dit is Jesus.
  • En daar is net Een aan wie ons in laaste instansie gehoorsaam moet wees, en dit is Jesus.
  • En deur sy Woord gee Hy sy opdragte aan ons.
  • En deur sy Gees lei Hy ons om die waarheid van sy Woord te kan verstaan en om daarvolgens te kan optree.
  • Ongelukkig is ons mos net nie altyd bereid om sy wil te soek en ook te doen in die kerk nie.
  • En dan wil ons kerk wees soos dit óns pas, in plaas daarvan dat ons die leiding van die Here soek en volg.

#  Die hemelvaart van Jesus is vir ons ’n baie belangrike gebeurtenis om oor na te dink.

  • En die hemelvaart is ’n gebeurtenis met ’n ryk betekenis.
  • Maar nou is dit belangrik dat ons vir onsself moet vra: Wat moet ons reaksie wees op die boodskap van die hemelvaart?
  • En hoe behoort die boodskap van die hemelvaart ons te raak?
  • En dan dink ek moet ons heel eerste sê: Die hemelvaart van Jesus moet ons opnuut laat besef dat Jesus die Koning van die hele wêreld is.
  • Ons moet opnuut besef dat Hy ook op hierdie oomblik aan die regterhand van die Vader sit en oor die hele wêreld regeer.
  • En al lyk dit miskien dikwels asof die duiwel eintlik oor die wêreld regeer, mag ons nooit glo dat dit wel die geval is nie.
  • Die duiwel doen wel vreeslike dinge.
  • En mense doen ook vreeslike dinge aan mekaar.
  • Maar uiteindelik is daar net een Koning en een Heerser, en dit is Jesus.
  • En Hy sal ook, volgens Op. 20, op sy tyd finaal met die duiwel en al sy bose magte afreken.
  • En dan sal almal moet erken dat Jesus alleen Koning oor alles en almal is.
  • Dat Hy alleen regeer aan die regterhand van die Vader.

#  Maar ek dink daar is nog iets wat ons moet sê oor ons reaksie op die boodskap van die hemelvaart.

  • En dit is dat ons altyd moet onthou dat Jesus die hoof van sy kerk is en dat die kerk sy liggaam is, soos Ef. 1:23 dit stel.
  • Na Jesus se hemelvaart is ons nou as ’t ware sy oë en ore, en hande en voete, en mond op aarde.
  • Ons is sy liggaam waardeur Hy sy werk op aarde wil doen.
  • En daarom rus daar na die hemelvaart ’n baie groot verantwoordelikheid op ons almal se skouers.
  • En daar is werk wat elkeen van ons moet doen, want ’n gesonde liggaam is tog iets wat aktief besig is en wat kan werk as dit moet werk.
  • En net so behoort ons as die liggaam van Christus aan die werk te wees oral waar die Here ons wil gebruik.
  • En daar is so baie geleenthede vir ons om sy werk te doen!
  • Waar mense bv. in nood verkeer – armes en siekes en bedroefdes en eensames.
  • En waar mense die Here se Woord van verlossing en genade nodig het.
  • En waar mense moed verloor het en hoop verloor het.
  • In al hierdie gevalle, en nog baie meer, wil die Here ons in sy diens gebruik en moet ons as sy kerk ook sy lewende liggaam hier op aarde wees.

#  Die boodskap en die troos van die hemelvaart is veral dat Jesus regeer!

  • Hy regeer elke oomblik oor die hele wêreld, maar in die besonder ook oor sy kerk en oor die lewens van elkeen van sy kinders.
  • Hy regeer, en daarom hoef óns niks te vrees nie!
  • Hoe sê Paulus nou weer?: “Aan Hom het God alles onderwerp.”

AMEN

css.php