1 KOR. 15:1-11 (6/2/22)

#  Vars gebakte brood ruik mos baie lekker!

  • Veral as dit so pas uit die oond gekom het.
  • Maar as hierdie selfde brood ’n bietjie te lank in die broodblik bly lê, raak dit nie net droog en hard nie, maar smaak dit ook nie meer so lekker nie.
  • Dit verloor sy varsheid en dit raak selfs muf.
  • En dan wil ’n mens natuurlik nie meer die brood hê of eet nie.
  • En uiteindelik gooi jy dit dan ook weg.

#  Nou, die boodskap van die evangelie, m.a.w. God se goeie nuus aan ons, kan ongelukkig ook vir ons sy varsheid verloor en, met respek gesê, muf raak.

  • Dit lyk of iets van dié aard juis in die gemeente van Korinte gebeur het, en dat Paulus dit daarom nodig gevind het om daaroor aan die gemeente te skryf in sy brief aan hulle.
  • Die probleem in Korinte was blykbaar dat sommige gemeentelede nie meer geglo het dat die dooies eendag uit die dood sal opstaan nie.
  • Hulle het nie meer uitgesien na ’n ewige lewe, ná hierdie lewe, nie.
  • En so het die evangelie vir hulle sy varsheid verloor en as ‘t ware muf geraak.

#  En dit laat ’n mens nogal wonder: Wat kan dalk veroorsaak dat die evangelie ook vir ons vandag muf raak?

  • Wat kan maak dat die evangelie ook vir ons sy varsheid verloor?
  • Een gevaar vir ons, glo ek, is dat ons bloot afgestomp kan raak vir God se goeie nuus aan ons.
  • Ons hoor die boodskap van die Bybel so baie dat dit ons dalk nie meer so diep raak soos vroeër nie.
  • Ons raak mettertyd afgestomp.
  • En dan is daar natuurlik ook maar die twyfel wat soms by ons opkom.
  • Slegte dinge gebeur in die wêreld rondom ons, of in ons eie lewe, dinge wat ons laat twyfel – dalk ’n natuurramp, of ’n uitmergelende siekte, of die dood van iemand naby aan ons.
  • En dink ook maar aan die dinge wat mense soms in die koerante oor ons geloof skryf – dinge wat ons verwar, of uitsprake van geleerdes wat ons laat twyfel aan die manier waarop ons nog altyd geglo het.
  • En skielik is die evangelie dalk besig om ook vir ons muf te word.

#  Maar nou, baie belangrik: Wat doen Paulus om die mufheid in die gemeente van Korinte teen te werk?

  • Wat doen hy om hulle weer die varsheid van die evangelie te laat ervaar?
  • Hoe maak hy hulle weer opgewonde oor God se goeie nuus aan ons?
  • Wat Paulus doen, is om die lesers van sy brief eenvoudig terug te neem na die ABC van die evangelie, na die grondbeginsels daarvan – of soos die mense in Engels sal sê: “back to basics.”
  • Ons lees mos in vers 1 dat Paulus vir die Korintiërs sê: “Ek herinner julle …. aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan.”
  • Ek herinner julle, sê Paulus.
  • So dit gaan oor dinge wat hy al reeds voorheen aan hulle gesê het.
  • Julle weet dit eintlik reeds, Korintiërs, sê Paulus.
  • Maar ek herinner julle daaraan.
  • Ek neem julle terug na die ABC van die evangelie.
  • En Paulus se herinnering aan hulle is soos die geur van vars brood.
  • Dit neem die mufheid weg, sodat die Korintiërs die evangelie weer kan sien vir wat dit werklik is: God se heerlike vars nuus aan ons!

#  Maar wat is die ABC van die evangelie?

  • Wat is die grondbeginsels daarvan?
  • Kom ons kyk so ’n bietjie daarna, soos Paulus dit vir ons in 1 Kor. 15 verduidelik, en ruik daarin die vars geur van die evangelie.

#  En nou kry ons die eerste grondbeginsel wat Paulus vir ons gee, in vers 3 wat ons saam gelees het.

  • Hy sê daar: “Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte.”
  • Die eerste en belangrikste grondbeginsel van die evangelie is Jesus se dood aan die kruis.
  • En ons weet Jesus is onskuldig doodgemaak.
  • Hy het self nooit ander mense te na gekom of seer gemaak in sy lewe nie, maar Hy is dood gemaak.
  • En waarvoor?
  • Volgens die aanklag van die Jode was dit vir Godslastering – omdat Hy gesê het dat Hy die Seun van God is.
  • En boonop het Hy volgens hulle ’n bedreiging vir vrede ingehou.
  • Maar waarvoor het Jesus regtig gesterf?
  • Vir ons sondes.
  • Ons kan sê: Jesus het as ‘t ware in die hofsaal tussen ons en God die Vader kom staan, onskuldig, maar gewillig om al ons sonde op Hom te neem, en om sodoende deur die verskriklike straf vir ons sonde getref te word.

#  En dit was iets verskriklik: Jesus se dood in ons plek – sy lyding en dood.

  • Maar dit is waar die ABC van die evangelie begin.
  • Dit begin by Jesus se liefde vir ons wat so groot was dat Hy sy lewe vir ons afgelê het.
  • In Joh. 15:13 sê Jesus mos self: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.”
  • En dít is wat Jesus gedoen het.
  • Dít is hoe groot sy liefde vir ons werklik is.
  • Hy lê sy lewe af vir sy vriende.
  • Ruik daarin die varsheid van die evangelie!
  • Waardeer daarin die varsheid van die evangelie!

#  Maar kom ons kyk ook na ’n tweede grondbeginsel van die evangelie wat Paulus vir ons gee.

  • Hy sê in vers 4 wat ons gelees het: Jesus is na sy dood “begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.”
  • Jesus het nie in die graf bly lê nie.
  • Hy het losgeruk uit die boeie van die dood en opgestaan daaruit.
  • En so het Jesus die dood ook vir ons oorwin.
  • ’n Bietjie later in 1 Kor. 15, by vers 20, noem Paulus daarom vir Jesus die “eersteling” wat uit die dood opgewek is.
  • Hy was die eerste een – die eersteling, maar ons sal Hom daarin volg.
  • En kan daar ’n meer ingrypende boodskap in die wêreld versprei word as dit: dat Iemand wat dood was weer lewendig geword het, en dat ons as gelowiges ook na óns dood weer sal lewe?
  • Hierdie boodskap is so ingrypend en so vars dat geen mufheid ooit daaraan sal kan vat kry nie.

#  Maar ons moet tog seker ook vra: Wat nou van die twyfel wat ons dalk tog ervaar as ons dink oor Jesus se opstanding uit die dood?

  • Sê nou Hy is toe nooit opgewek nie, soos party mense mos beweer?
  • Paulus gee ’n baie duidelike antwoord hierop aan die Korintiërs.
  • Hy sê vir hulle: Daar was ’n hele klomp getuies van Jesus se opstanding.
  • Jesus het aan Sefas (m.a.w. Petrus) verskyn, daarna aan die twaalf dissipels, daarna aan meer as 500 mense tegelyk, en toe ook nog aan Jakobus, aan al die apostels en ook aan Paulus self.
  • Jesus hét opgestaan.
  • Hy het waarlik opgestaan.
  • En Paulus bevestig dit met ’n hele lys van getuies wat hy vir die Korintiërs opnoem.
  • Ja, Jesus het sonder twyfel opgestaan en die dood ook vir ons oorwin.
  • Ruik ook daarin die varsheid van die evangelie!
  • Waardeer daarin die varsheid van die evangelie!

# Maar kom ons praat ook nog oor ’n derde grondbeginsel van die evangelie waarna Paulus hier in 1 Kor. 15 verwys.

  • En dit is die feit dat die evangelie ’n boodskap van genade is!
  • En wat beteken genade?
  • Dit beteken dat God ons verlos sonder dat ons dit verdien.
  • Genade kan nie verdien word nie.
  • Dit kan net aanvaar word.
  • Dit kan net as ’n geskenk ontvang word.
  • En dat Jesus in ons plek aan die kruis gesterf het – dis genade!
  • Ons het dit mos glad nie verdien nie, en ons kan dit ook nooit verdien nie.
  • Maar nogtans het die Vader besluit om deur Jesus se dood vir ons verlossing van sonde te bewerk.

#  Die evangelie is ’n boodskap van genade.

  • En wat Paulus hier in 1 Kor. 15 beklemtoon van God se genade, is dat hierdie genade mense se lewens verander.
  • En Paulus kon natuurlik uit eie ondervinding praat.
  • Hy erken in vers 9 dat hy die kerk van die Here vervolg het.
  • Daarom beskou hy homself ook as die geringste van die apostels.
  • En eintlik, sê hy, is hy nie eers werd om ’n apostel genoem te word nie.
  • Kan u hoor?
  • Hy sê: Ek is dit nie werd nie.
  • Dit beteken: Ek verdien dit nie.
  • Maar juis daarom verstaan Paulus so goed dat dit net God se genade was wat sy lewe so verander het.
  • “Deur die genade van God is ek wat ek is,” sê Paulus in vers 10.
  • Eers was ek ’n vervolger van die kerk, sê hy.
  • Maar God se genade het van my ’n apostel gemaak, m.a.w. ’n gestuurde.
  • Dis wat die woord apostel beteken: ’n gestuurde, iemand wat ook aan ander die evangelie moet gaan oordra.
  • Eers, sê Paulus, was ek eintlik ’n vyand van die kerk.
  • Maar God se genade het my heeltemal omgedop, só omgedop dat ek nou ’n gestuurde werker in diens van die Here kan wees, een van sy handlangers.

# “Deur die genade van God is ek wat ek is,” sê Paulus.

  • En ons wat vanoggend hier saam is, sal almal met Hom kan saamstem.
  • Ook in ons lewens het die Here ons al kom verander.
  • Dalk nie so dramaties en ingrypend soos wat Hy vir Paulus verander het nie.
  • Maar deur sy genade verander Hy elke kind van Hom se lewe.
  • Hy verlos en bevry jou van al jou sonde.
  • En Hy verander jou denke.
  • Hy verander dit só dat jy nuwe waardes en prioriteite in jou lewe kry.
  • En dan help Hy jou ook om elke dag volgens hierdie nuwe prioriteite te kan leef.
  • Om Hom eerste te stel en om in liefde met jou medemens saam te leef.
  • Die genade van God – wat kan so vars wees soos God se genade?
  • En wat kan so vars en nuut maak soos God se genade?
  • Ruik ook daarin die varsheid van die evangelie!

#  Dit hoef nie so te wees dat ons afgestomp raak vir die boodskap van die evangelie nie.

  • Dit hoef nie so te wees dat die evangelie vir ons nie meer vars en nuut is nie, maar muf is.
  • Paulus neem ons terug na die ABC van die evangelie.
  • En as ’n mens weer ’n slag werklik ernstig oor hierdie basiese dinge nadink: oor Jesus se dood, en sy opstanding, en oor God se genade wat lewens verander, dan breek die vars geur van die brood van die lewe weer vir jou deur.
  • En Jesus het mos self ook in Joh. 6:35 gesê: “Ek is die brood wat lewe gee.”
  • Kom ons bly hou dan aan Hom vas.
  • Kom ons bly leef naby Hom.
  • Dan sal die evangelie vir ons elke dag nuut bly.
  • Nuut en vars.
  • So vars soos varsgebakte brood!

AMEN

css.php