MATT. 2:1-12 (26/12/21)
# Teenoor Jesus kan niemand neutraal staan nie!
- Van die eerste oomblik van Jesus se aardse lewe af is dít reeds duidelik.
- Teenoor Hom kan niemand neutraal staan nie.
- Dis já vir Hom, of dis néé vir Hom.
- Jy aanvaar en vereer en dien Hom.
- Of jy verwerp Hom.
- En ek dink hierdie feit sien ’n mens ook duidelik in die gedeelte wat ons saam gelees het.
- En ons het mos gelees van die sterrekykers uit die ooste wat in Jerusalem aangekom het.
- Hulle soek die koning van die Jode, sê hulle, die koning wat kort tevore gebore is.
- En hulle het net een doel voor oë.
- Hulle sê in vers 2: “ … ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”
- En dis merkwaardig dat hierdie mense blykbaar nie eers Jode was nie!
- Die Bybel sê hulle kom uit die ooste.
- Verder weet ons niks van hulle nie.
- Ons weet selfs nie eers hoeveel van hulle daar was nie.
- Met verloop van tyd het die gedagte ontstaan dat daar drie van hulle was.
- Maar ons is nie eers seker of hierdie getal wel die regte getal is nie.
- Maar hoe dit ook al sy, hulle kom om aan Jesus hulde te bewys.
- Op die een of ander manier het hulle geweet: Hierdie koning, wie se ster ons sien opkom het, is ’n baie besondere koning.
- En waarskynlik op hulle kamele, soos hulle op die Kerskaartjies vir ons uitgebeeld word, het hulle die lang pad aangepak.
- En na die nuwe koning van die Jode gaan soek, want hulle móés eenvoudig by Hom uitkom.
- Hulle móés aan Hom hulde gaan bewys.
# In Jerusalem aangekom, so het ons in Matt. 2 gelees, het die sterrekykers eers daar gestop.
- Hier sou iemand mos vir hulle die pad kon beduie na die baba-koning toe.
- Hier sou hulle mos baie mense aantref wat bly en opgewonde is oor die nuwe klein koning.
- Dít is seker hoe hulle daaroor gedink het.
- Maar intussen hoor koning Herodes toe ook van die sterrekykers.
- En hy hoor hulle soek die “een wat as koning van die Jode gebore is.”
- Daaroor is Herodes hewig ontsteld.
- En die Bybel sê die hele Jerusalem was saam met hom ontsteld.
- Herodes was mos koning in Judea.
- Die Romeinse keiser het hom tog self aangestel.
- Waar kom hierdie sterrekykers dan nou aan hulle storie, aan die storie dat daar ’n nuwe koning gebore is?
# En so is daar reeds net na Jesus se geboorte twee heel verskillende reaksies op sy koms.
- Aan die een kant is daar dié mense wat ja sê vir Jesus.
- In hierdie geval die sterrekykers, mense wat nie eers deel van die volk Israel was nie.
- In vandag se taal sou ons moes sê: Hulle was mense wat nie eers deel van die kerk was nie.
- Maar húlle sê ja vir Jesus.
- Hulle sê onomwonde ja vir Hom, en ons hoor dit in hulle woorde wanneer hulle sê: “Ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”
- Maar aan die ander kant is daar ook dié mense wat onmiddellik na Jesus se geboorte reeds nee sê vir Hom.
- Herodes, en die hele Jerusalem, sê die Bybel, was hewig ontsteld oor Jesus se geboorte.
- Hulle verset hulle daareen.
- Hulle verwerp die Christus, die Een wie se koms deur so baie profete voorspel is.
- En ’n tyd later het Herodes mos in Betlehem, en in die omgewing rondom, al die seuntjies van twee jaar en jonger laat doodmaak, in die hoop dat hy op dié manier ook vir Jesus uit die weg sou ruim.
# So, dit is gou duidelik: Teenoor Jesus kan niemand neutraal staan nie.
- En dit sien ’n mens nie net hier kort na Jesus se geboorte nie.
- Jy sien dit ook dwarsdeur die geskiedenis tot vandag toe.
- Daar was nog altyd mense wat in Jesus geglo en Hom as hulle Verlosser aanvaar het.
- Maar daar was ook nog altyd mense wat nie in Hom geglo het nie en Hom verwerp het.
- Daar was nog altyd mense wat aan die sterrekykers se kant staan en Jesus vereer en dien.
- Maar daar was ook nog altyd mense wat aan Herodes se kant staan en Jesus verwerp.
- En Jesus is in so ’n mate deur mense verwerp dat Hy later aan ’n kruis moes sterf.
# En nou is die vraag natuurlik ook vanoggend, hier op die dag na Kersfees: Aan watter kant staan elkeen van ons as dit by Jesus kom?
- Sê ek ja vir Hom, soos die sterrekykers?
- Of sê ek nee, soos Herodes, en selfs “Kruisig Hom,” soos die skare mense kort voor Jesus se dood uitgeroep het?
- En belangrik: met Jesus is daar nie ’n middeweg nie.
- Jy kan nie op die draad bly sit nie.
- Dis net ja of nee.
- Wanneer jy voor Hóm staan, beteken dit jy staan voor ’n keuse.
- Jy staan voor ’n besliste en ook beslissende keuse.
# Maar terug na Herodes en die sterrekykers.
- Herodes het die skrifgeleerdes geraadpleeg, m.a.w. die mense wat die Ou Testament goed geken het.
- En uit die voorspellings van die profete het die skrifgeleerdes geweet: Die Christus sal in Betlehem gebore word.
- En so beduie Herodes dan die sterrekykers na Betlehem toe.
- En op pad daarheen het dieselfde ster wat hulle vroeër sien opkom het, hulle gelei.
- En die ster het hulle gelei tot by die kindjie Jesus en sy moeder.
- En toe die sterrekykers vir Jesus sien, sê vers 11, het hulle “gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.”
- Hulle kniel, sê hierdie vers.
- En waarom doen hulle dit?
- Omdat hulle weet: Jesus is ’n koning, Hy is die koning van die Jode.
- Maar op ’n manier, glo ek, het hulle ook geweet: Hierdie baba is ook die Koning van alle konings.
- En voor so ’n koning kan jy nie anders nie, jy moet voor Hom kniel.
- Jy moet jouself laag voor Hom neerbuig.
# Maar dan was daar ook die geskenke wat die sterrekykers vir Jesus gebring het.
- En daarmee het hulle Hom op ’n sigbare en tasbare manier vereer.
- Met hulle geskenke van goud, wierook en mirre het hulle duidelik ja gesê vir Jesus.
- En ek glo hierdie sterrekykers daag ons elkeen vandag uit om, hier net na Kersfees, ook voor Jesus te kniel en Hom te vereer.
- Om dit opnuut te doen, of dalk vir die eerste keer.
- Om te sê: Here Jesus, ek aanvaar U as my Koning.
- Ek eer U.
- Ek bring hulde aan U – net soos die sterrekykers dit lank gelede met hulle geskenke gedoen het.
# Nou, die geskenke van die sterrekykers laat ’n mens natuurlik ook dink aan ons eie gebruik om op Kersdag geskenke aan mekaar te gee.
- En hier wil ek graag vertel van wat met ’n sekere Amerikaanse skrywer gebeur het toe hy nog ’n kind was.
- Hy sê dat hy een jaar op Kersdag ’n speelgoedtreintjie as geskenk gekry het.
- En die volgende dag, toe sy ma ’n klooster gaan besoek het, het hy saamgegaan en ook die treintjie met hom saamgeneem.
- By die klooster het ’n jong non vir hom die Kerstoneel gewys wat hulle opgestel het, met die krip en die baba en alles wat daarmee saamgaan.
- Maar toe die seuntjie in die krip inkyk en sien dat die kindjie in die krip geen geskenk by hom het nie, was hy hewig ontsteld.
- Hy kon dit nie verstaan nie en vra toe vir die non of die kindjie dan nie van speelgoed hou nie.
- Nee, sê die non, hy hou van speelgoed, maar sy ma is te arm om vir hom speelgoed te koop.
- En toe die non weg is, het die seuntjie by homself gedink: My ma is ook arm, maar ek het darem behalwe die treintjie ook nog ’n pakkie met kryte vir Kersfees gekry.
- En hy gaan toe tot by die krip en sit sy treintjie in die baba se arms.
- En waarskynlik het hy ook nog vir die baba gewys hoe die treintjie werk, want sulke klein babatjies weet mos nog nie hoe sulke speelgoed werk nie.
- Maar, sê die Amerikaanse skrywer dan, wat hy die heel beste onthou, is die gevoel van roekelose vrygewigheid toe hy na die baba gekyk het.
- Hy het geweet: Vir hierdie Kind in die krip sal ek enigiets gee, sal ek alles gee!
- En na aanleiding van hierdie woorde kan ons ook maar net vra: Is dit ook hoe u en ek oor Jesus voel?
- Dat ons vir Hom enigiets sal gee?
- Dat ons vir Hom alles sal gee?
- Met ’n roekelose vrygewigheid?
# Op Kersdag, gister, is daar seker in elke huis in ons gemeente geskenke uitgedeel.
- Daarmee het ons gewys dat ons nie maar net neutraal staan teenoor mekaar nie.
- Ons gee mos as gesinslede en familielede vir mekaar om en het mekaar lief.
- En ons wys dit met ons geskenke vir mekaar.
- Maar Kersfees is tog in die eerste plek die Christus-fees.
- Dis in die eerste plek die geleentheid om te wys: Ons gee om vir Jesus.
- En ook in die dae ná Kersfees moet ons dit wys: dat ons werklik omgee vir Jesus.
- En ons hele lewe moet dit wys.
- Daar waar ons vakansie hou, of in ons werk staan, of in ons huwelik en gesin, of daar waar ons te doen het met mense wat op een of ander manier swaarkry, oral moet ons ons omgee vir Jesus wys.
- En ook alles wat ons in ons gemeente doen, en as lidmate van hierdie gemeente doen, moet hierdie omgee wys.
- Ons gee om vir Jesus.
- Ons het Hom lief, want Hy het ons eerste liefgehad.
- En nou wys ons dit: dat ons Hom liefhet.
# Teenoor Jesus kan niemand neutraal staan nie.
- Kom ons kniel dan almal, saam met die sterrekykers, voor Hom.
- En kom ons gee onsself volkome vir Hom
- Daarmee gee ons onsself vir die Koning van alle konings, vir die Verlosser van die wêreld!
AMEN
