God maak klaar...

Verwelkoming:

In die noordelike hemisfeer, daar waar die kerkjaar sy ontstaan gehad het, word dit nou al hoe donkerder – in hierdie kontras vier hulle Jesus as die lig. 

Ons donker is dalk nie fisies nie, maar ons het ook ons eie donkerte – advent beteken verwagting – mense met verwagting het hoop. Al sien hulle nog nie die lig nie, leef hulle klaar anders – hulle het ’n nuwe kwaliteit van lewe.

Fil is ’n wonderlike teks vir hierdie tyd – ook waar ons met soveel twyfel en vrees die toekoms tegemoet gaan – dit help ons om ons klein stukkie tyd in God se ewige plan te kom neersit en ons perspektiewe soveel groter te maak!

Votum: 

Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk.  ‘n Sterk verlosser het Hy vir ons laat opstaan.  Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal om lig te bring aan die wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.

Seëngroet: 

Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here, deur die werking van die Heilige Gees.

Gebed: 

Here, in hierdie kerstyd, laat U koninkryk kom.  Bou onder ons die koninkryk van die Wonderbare Raadsman, die sterke God, die Vredevors en die Ewige Vader.  Help ons om mekaar te bederf met die presente wat werklik saakmaak:  met liefde en lojaliteit, met getrouheid en respek en barmhartigheid.  Bring u versoening na hierdie wêreld van ons, en gee ons vrede, Here, in ons huisgesinne, in ons gemeenskap, in ons land en in ons wêreld.  As ons nou uit U Woord lees, gee ons perspektief op wie U is, en op wie U wil hê dat ons moet wees.  Amen.

Kindertyd:

Wie het al ’n 3D fliek gekyk? Sonder die bril is die fliek niks wonderliks nie – Eintlik lyk dit ’n bietjie “fuzzy”, né! Maar as jy dit opsit, dan lyk alles anders, wow! Dit lyk asof goed sommer so uitspring na jou toe – of dit hier by jou is en jy daaraan kan vat…

Het julle al die woordjie “perspektief” gehoor? Mens kan dit maklik verduidelik: vat enige iets – kyk uit verskillende hoeke daarna, en dit lyk anders.

Maar dit geld ook vir nie-fisiese dinge, soos mense en goed wat met ons gebeur. Daarna kan ons ook anders kyk. Kom ons vat iets soos fiksheidsoefeninge vir jou sport. Jy kan net dink aan hoe moeg dit jou maak en hoe sleg dit is en wanneer dit ophou – of jy kan dink aan hoe fiks dit jou maak – hoeveel lekkerder die volgende wedstryd gaan wees, of hoe dit vir jou moontlik maak om gesonder te wees – ’n ander perspektief laat ons anders dink, voel en optree – en daaroor leer ons Bybelgedeelte ons vanoggend. 

Skriflesing:  Fil 1:1-11

Preek:

Perspektief.  Ons is so bewus daarvan dat daar deesdae baie perspektiewe is. Die een die naaste aan ons voorgrond is seker die gesprek oor inentings – oor wie wil – en wie wil nie – en wie dink dit moet verpligtend wees – sug! Maar ons weet hoe belangrik die regte perspektief is, of hoe? Ons almal het al ervaar hoe iets vir ons donker, of deurmekaar gelyk het en hoe iemand anders ons gehelp het met perspektief, en hoe dit duideliker of ligter gelyk en gevoel het. 

Alles lyk tans ’n bietjie donkerder en onsekerder. Ons probeer steeds hierdie pandemie navigeer – waar gaan dit eindig? Ons weet van die verliese aan inkomste, die werksverliese, die toename en depressie en selfdood. Ons is so moeg vir die eindelose gestry en woede. Ouers ken die magteloosheid en die seer van ‘n kind wat by jou kom huil omdat hulle net nie meer kan nie. Jy self weet nie eers meer elke dag so lekker nie. Die druk is van alle kante…

Ons voel gewikkeld in ‘n stryd om oorlewing; ons voel of ons in ‘n maalkolk vasgevang is en nie daaruit kan ontsnap nie.  Daar is net soveel dringende dinge wat voortdurend ons aandag opeis.  Daar bly weinig tyd oor vir die belangrike dinge in die lewe, as ons bygesê, nog in staat is om te weet wat regtig belangrik is.  Ons sukkel om te onderskei tussen dringend en belangrik, want dit is nie dieselfde ding nie; dringende goed is nie altyd belangrik nie, en belangrike dinge is nie altyd dringend nie. 

Ons wil graag uitkom, ontsnap, vryword; vrede hê oor ons bestaan, voel ons het doel en sin, maar kan ons?  Gaan ons nie maar altyd slagoffers van die sisteem bly nie?  

Paulus, daardie wonderlike getuie van Jesus ons Here, is een van daardie mense wat soos ons vandag sou sê, op die ritme van die sy eie drom gedans het. Sy perspektief was nooit die vanselfsprekende nie, maar altyd die regte een. Kom ons onthou net gou weer die situasie. Paulus sit in die tronk in Efese. Hy weet nie of hy lewendig daar gaan uitkom nie. Maar Hy is dankbaar en bly. Ook oor sy geloofsvennote – mense wat gewys het dat hulle saam met hom die goeie stryd stry. Hy het ‘n spesiale band gehad met die gemeente in Fillipi – in die noorde van Griekeland, die eerste gemeente op Europese bodem. En hulle het hom so liefgehad, dat hulle wat 100de km’s van hom is, geld sou insamel om in sy behoeftes te voorsien en sou reis om dit vir hom te neem. (Jy het nie kos gehad in die tronk as iemand dit nie vir jou gebring het nie!!

Paulus is daarvan oortuig dat die getroue God wat hy ken niks halfpad sal los nie; dat Hy die werk wat Hy begin het in gelowiges se lewens sal volhou; dat Hy nie sal ophou om in hulle lewens betrokke te wees tot die dag dat die Here Jesus Christus weer kom. Dit verander alles. God begin en God maak klaar. 

Ons moet net nooit dink sy plan is om die lewe vir ons lekkerder te maak nie. Inteendeel – die eerste gelowiges was juis in die moelikheid om hulle Jesus as Here (Koning) bely en verkondig het, en hulle beywer het vir die koms van die koninkryk en die nuwe wêreld  wat dit veronderstel. 

Die hoop en die blydskap gaan oor die onsigbare werklikheid wat ons weet eendag die sigbare, allesoorheersende een sal wees. Dit gaan oor die wonder van ’n God wat ons so liefgehad het, dat Hy sy enigste Seun gestuur het om ons te verlos – ’n God wat mense sy eie kinders maak en hulle lewens van binne af na buite nuut maak. ’n God wat saamstap en saamvoel. ’n God wat klaarmaak waarmee Hy begin het: die goeie werk in ons… 

Maar wat is dit presies? Sy groot projek gaan oor sy ganse skepping se vernuwing, maar veral oor my en oor jou… Hy droom oor die tipe mense wat ons word – mense, wat as Hy weer kom soos wat Hy eemaal gekom het – dan “opreg” en “foutloos” sal wees (onberispelik en sonder blaam) – en deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God. As ons maar net ons ganse lewe, elke ervaring, elke oomblik, elke besluit, elke aksie, sou kon sien in daardie lig, dan sal alles ander wees!!

Johan Symington skryf:  “Binne ‘n oënskynlike suksesvolle wêreld hoor God die sugte van die slagoffers, van vertrapte harte en van verwronge lewens en stuur Hy as Sy geskenk aan die wêreld sy seun.  Sy Naam was Immanuel, wat sou beteken dat God hier onder ons sou kom woon…  Hy was bedoel om ons diepste wense te vervul.  Op Kersdag gee God aan die wêreld waarvoor ons so inniglik gebid, gefluister en geskryf het.  Hy besoek die wêreld daardie nag, en laat ons agter met ‘n klein babatjie, Sy Seun…  Dis natuurlik nie wat ons wou hê nie.  Pleks van ‘n groter bom, of ‘n vinniger vliegtuig, ‘n sterker boormasjien en ‘n rekenaar van formaat, kry ons ‘n weerlose seuntjie.”

God gee ons die verlossing/vryheid/hoop waarna ons so hartstogtelik verlang het, maar dit kom in die vorm van weerlose liefde, nie soos ons dit wou gehad het nie, en daarom sê ons nie altyd daarvoor “ja” nie.  Ons pyn wat ons aan onsself en aan ander doen lê hierin – ons wyer God se perspektief, ons wyer sy plan – en ons gaan eerder aan met ons eie (deur al die eeue nog dieselfde; mag status, plesier, selfsug, kompetisie en onderdrukking.).

Die woorde “begrip” in v 9 kan ook met “kennis” vertaal word. In die tyd waarin “almal hulle eie navorsing doen” en al die keybord warriors ons aanmoedig om dit ook te doen sodat ons hulle meerdere kennis kan kry (!), maak almal aanspraak op die kennis wat saakmaak – hulle het die waarheid, die ware feite.

Die probleem met ons as mense is, ons breine volg ons harte en nie andersom nie. 

Olv die Gees weet Paulus natuurlik hoe dit werk. Dit begin by liefde. Liefde is die sleutel wat begrip, aanvoeling en onderskeiding oopsluit, sodat ons weet wat regtig saakmaak. Hierdie kennis word op ander plekke in die Bybel wysheid genoem. 

Ware kennis kom nie wanneer mens net van ’n afstand af staan en oordeel, ons navors, of redeneer nie. Ware kennis kom wanneer jy naby kom – soos wat Jesus in alle opsigte naby aan ons gekom het. 

1 Kor 13 leer ons dat die liefde ‘n mens fyngevoelig en sensitief ten opsigte van ander maak.  ‘n Mens wat ‘n ander liefhet kan hom of haar sit in die situasie van ‘n ander.  In liefde stel jy belang, bekom jy kennis van die ander wat jou in staat stel om die ander met oorgawe lief te hê.  Hierdie tipe van onderskeidende liefde, herninner ons dat maar net goeie intensies, nie goed genoeg is nie.  Dit herinner ons daaraan dat ons moet groei in ons karakter – die innerlike kapasiteit van ons siele moet verdiep; dat ons nie net anders moet begin doen nie, maar dat ons ten diepste anders moet wees, want ons kan niks gee wat ons nie het nie.

Hoor weer saam met my die definisies van die liefde in 1 Kor 13 – en dan laat gaan jy jou gedagtes oor die bedreiging van die virus – dink oor rassisme en oor geslagsgeweld – oor minder en meer bevoorreg – oor hoe ons met mekaar praat en oor wat ons aan mekaar doen – en vra: watter perspektief gee die Gees my?

Die liefde is geduldig,

die liefde is vriendelik; 

dit is nie afgunstig nie, 

is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

Dit handel nie onwelvoeglik (seksuele misbruik; vergrype) nie,

soek nie sy eie belang nie,

is nie liggeraak nie, 

hou nie boek van die kwaad nie.

Dit verbly hom nie oor onreg nie,

maar verheug hom oor die waarheid

Amen.

Gebed: 

Here, ons voel dikwels vasgeloop, vasgevang, en moeg.  Ons verloor perspektief.  Ons is so vasgedraai dat ons nie meer die wesenlike van die minder belangrike kan onderskei nie.  Here, ons wil die pad van gehoorsaamheid stap.  Ons wil allereers U koninkryk soek, want ons weet dit is die moeilike pad na ware vryheid, ware geluk en ware vrede.  Ons wil onsself verloor in U eindelose liefde.  Ons wil opgeneem word in die stroom.  Ons wil in liefde anders kyk sodat ons gepas kan reageer op elke situasie.  Immanuel, vestig Uself in ons midde, sodat ons onberispelik en sonder blaam kan wees op die dag wanneer u weer kom.  Amen.

Doop:

Die doop is God se 3D bril- as ons daardeur kyk, sien ons die God van weerlose liefde, wat Homself sal gee in die vorm van ’n baba, sodat ons nooit weer enige mense, veral nie ons eie kinders, gering sal skat nie…

Seën: 

My God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus, deur die werking van Sy Gees in julle lewens.

 

css.php