- Ef. 3:14-21 (25/7/21)
# Hoe moet ons as Christene in hierdie tyd bid en wat moet ons in hierdie tyd doen?
- Wat moet ons in gebed vir die Here sê en ook vra in hierdie tyd van ’n viruspandemie, maar ook van groot onrus en spanning in ons land?
- En wat moet ons doen?
- Natuurlik bid ons dat die Here sal ingryp.
- En ons bid vir al die mense wat so erg geraak word deur die pandemie, asook deur die ontsaglike probleme in ons land.
- En ons bid vir al ons gesondheidswerkers en polisie en sakemense en leiers.
- En veral ook vir die armste van die armes, wat dit altyd so bitter moeilik vind om te kan oorleef.
# Maar intussen word ons mos ook almal as lidmate van die kerk van Jesus diep geraak deur alles wat aan die gebeur is in ons land.
- En dit is so uiters belangrik vir ons om reg te dink en reg te praat en reg te doen in hierdie tyd.
- Om te onthou dat dít juis ook alles deel van ons roeping as volgelinge van Jesus is: om reg te dink en praat en doen in die moeilike omstandighede waarin ons ons bevind.
- Maar daarvoor moet ons Jesus se leiding soek en volg.
- Moet ons bid vir sy leiding, en dit dan ook volg.
# En dan is dit natuurlik ook so dat ons in hierdie tyd so spesiaal bewus is van ons eie swakheid.
- Niemand van ons kan’n vinger wys na enigiemand anders, of ander blameer vir hulle optrede, sonder om ook te dink aan ons eie foute en ons eie aandeel aan dinge wat verkeerd is in ons eie lewe of in ons gemeenskap of in ons land nie.
- Ons staan eenvoudig in hierdie tyd almal voor die Here in ons skuld en swakheid en broosheid.
- En ons kan Hom maar net smeek om ons land en haar mense genadig te wees, en om vir ons uitkoms te gee.
- Maar om in die proses ook vir elkeen van ons te gebruik om ’n positiewe verskil in die land te maak.
# Maar kom ons dink nou, na aanleiding van ons Skriflesing van vanogg., oor hoe ons ook in hierdie tyd saam met Paulus kan bid soos hy in Ef. 3 vir die gemeente in Efese gebid het.
- En uit sy gebed kan dit dalk ook vir ons duideliker word wat ons juis in hierdie tyd as Christene moet doen.
- Paulus se gebed wys eintlik vir ons watter dinge vir ons onontbeerlik is as ons die Here se kerk hier op aarde wil wees.
- So, kom ons begin sommer by die begin van Paulus se gebed.
- Hy sê in vers 14 en 15: “Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan het.”
- Paulus kniel voor die Here.
- Hy kniel in eerbied voor die Here.
- En hy gee aan Hom al die eer, want hy sê dis maar net aan die Here te danke dat daar ’n kerk is.
- Dat daar ’n gemeenskap van gelowiges is.
- En die voorreg wat ons dan ook elkeen het om aan Paarlberg-gemeente te kan behoort, is ook net aan die Here te danke.
- Aan Hom kom al die eer toe.
- En saam met Paulus kan ons ook maar net die laaste vers van sy gebed herhaal, as hy daar sê: “aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid.”
- Daar word vertel van ’n sweefstokkunstenaar wat op ’n keer verduidelik het hoe hy sy kuns beoefen.
- En in sy verduideliking het hy veral hulde gebring aan sy maat wat hom elke keer daar bo in die lug moes vang.
- Volgens hom moes hy self eintlik net sy arms uitstrek en toelaat dat sy maat hom vang.
- Die maat moes dus die harde werk doen – nie hy nie.
- En so moet ons ook in die kerk, en in ons eie lewens, al die eer aan God die Vader gee.
- Ons kan eintlik ook maar net ons arms uitstrek.
- En Hy is die Een wat ons vang.
- Aan Hom al die eer!
# Maar waaroor en waarvoor bid Paulus nog, in sy gebed vir die Efesiërs?
- Hy bid vir hulle vir krag.
- In vers 16 bid hy só: “Ek bid dat God deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word.”
- Om kerk van die Here te wees, en om juis in hierdie tyd dissipels van Jesus te wees, is nie iets wat ons in ons eie krag kan doen nie.
- Daarvoor is ons te swak.
- Daarvoor misluk ons te maklik.
- Maar deur die krag van die Gees kan ons dit doen en kan ons leef soos die Here wil hê dat sy kerk moet leef.
- Versterk deur die krag van die Gees, innerlik versterk, kan ons dit doen.
- Maar daarsonder ploeter ons maar net rond.
- Sal ons dan nie in hierdie tyd juis raaksien hoe swak ons eintlik is, maar dat die krag van die Gees tot ons beskikking is nie?
- En sal ons dan nie juis nou ernstig vir mekaar bid vir die innerlike krag van die Heilige Gees nie?
# ’n Volgende, baie belangrike saak waaroor Paulus in Ef. 3 bid, raak die gemeentelede se verhouding met Jesus Christus.
- Hy bid en sê: “Ek bid dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon.”
- In hierdie moeilike tyd in ons land kan dit maklik gebeur dat die Here vir ons ver en afwesig voel.
- Dit kan maklik gebeur dat ons voel Hy het van ons vergeet en ons aan ons eie lot oorgelaat, hier in die pandemie en ook in die onrus in ons land.
- Maar eintlik is Hy so naby ons!
- Hy woon deur sy Gees in ons harte.
- En soos iemand gesê het: Hy is eintlik nader aan ons as ons eie vel.
- En in sy nabyheid kan ons mos enige omstandighede in die oë kyk.
- In sy nabyheid kan ons moed hou en aanhou en uithou.
- Ja, kan ons saam met Paulus sê, soos hy vanuit ’n tronksel in Fil. 4:13 gesê het: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
- Hy woon in my hart – Hy gee my krag.
- My verhouding met Hom help my om as sy dissipel in hierdie moeilike tyd te kan leef.
# Maar ek wil ook nog graag ’n laaste deeltjie van Paulus se gebed vir die Efesiërs uitlig.
- Hy bid, in vers 17 en 18, dat hulle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees en ook dat hulle mag begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
- Hier gaan dit oor die liefde van Jesus, sy liefde wat ons veral so duidelik sien in sy lyding en sy kruisdood ter wille van ons.
- Sy liefde maak die groot verskil in ons lewens.
- En vir ons om self ander mense te kan liefhê, moet ons eie geestelike wortels, soos ’n ou boom se wortels, sommer diep in die grond van Jesus se liefde afgaan.
- Sonder sy liefde sal ons nie ander mense werklik kan liefhê, en hulle nood kan raaksien, en hulle ook probeer help in hulle nood nie.
- Sonder sy liefde kan ons nooit maar nooit behoorlik liefhê nie.
- En kan ons vir seker nie doen wat die Here wil hê ons moet doen in hierdie land van ons nie, en dit is tog om sy liefde te verkondig en sy liefde prakties uit te leef.
- As gelowiges en as kerk moet ons juis nou met sy liefde ’n verskil maak in die moeilike situasie waarin ons ons bevind.
- Moet ons met ons woorde en ons dade van liefde van Suid-Afrika ’n beter plek vir almal help maak, vir armes en moedeloses, vir siekes en bedroefdes, ja, vir almal wat op hierdie oomblik ander se hulp nodig het.
- En dalk beteken dit ek moet iemand help wat swaarkry en wat ek persoonlik ken, of ek moet ’n geldelike of praktiese bydrae maak waar die kerk of ander erkende organisasies hulp vra om nood te help verlig.
- Die geleenthede om te help, is tog daar.
- Maar ons sal hierdie geleenthede net kan en wil gebruik as ons gewortel en gegrondves is in Jesus se liefde.
# Hoe moet ons as Christene in hierdie tyd in ons land bid en wat moet ons doen?
- Ons kan begin deur saam met Paulus aan God die Vader al die eer te bring.
- Ons kan ook bid vir die innerlike krag van die Gees, en dat die Here Jesus deur geloof in ons harte sal woon.
- Daarby dat ons diep-diep in sy liefde gewortel en gegrondves sal wees.
- Dit is net sy liefde wat ons kan help om in hierdie tyd reg te dink en praat en doen.
- Dit is net sy liefde wat ons kan help om te weet wat nou belangrik is en wat nie.
- En dis net sy liefde wat ons werklik kan inspireer om self ook ander onvoorwaardelik lief te hê.
AMEN
