Preek – 27 Junie 2021: Covid en geloof – Mark 5:21-43

Teks:               Markus 5:21-43

Tema:             Covid en Geloof

TEKS:

21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het ‘n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, ‘n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. ‘n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.

Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

PREEK:

3 weke terug was ons by Danny Arendse se begrafnis. Soos meeste van ons weet, was Danny iemand wat op ‘n wonderlike manier in die tronk tot bekering gekom het nadat hy by baie misdade en bendegeweld in sy ou lewe betrokke was. Vir baie jare werk hy daarna onder mense by sakeondernemings, in die tronke onder die jeug van Paarl-Oos en nog baie ander plekke en lei mense op die pad van die Here. Hy kry Covid, baie mense bid vir hom maar op 66 jarige ouderdom op 3 Junie is Danny dood aan Covid, al het baie vir hom gebid. In ons eie gemeente kry Rouxlein Carpenter ‘n hele ruk terug kanker. Sy is ook opgelei in die teologie en werk ook vir die Here. Ons en baie ander mense bid vir haar en na baie behandelings en swaarkry kom getuig sy in ons gemeente dat sy genees is.

En so kan, glo ek, baie van ons vertel van mense vir wie daar gebid is en gesond geword het, maar ook van baie vir wie daar gebid is en uiteindelik dood is – in die laaste tyd veral van Covid.

Dan kom ‘n vraag weer by ons op wat al eeue lank gevra word: Hoe werk God met lyding en siekte en dood? Ek is seker dit was nie net Jaïrus se dogtertjie en die vrou van wie ons gelees het, wat siek was nie. En tog lees ons maar net van enkele gevalle wat Jesus mense gesond gemaak het. En sulke vrae kom by ons op: Hoekom net sommige mense? Hoekom nie almal vir wie ons bid nie? En daarmee nog ‘n hele wa-vrag vrae oor God en siekte en lyding. Dis vir seker nie die eerste keer wat oor die saak hier gepreek word nie en ek weet dat dit ook nie die laaste keer sal wees nie. Tog dink ek dat dit baie belangrik is om saam oor en oor hieroor te dink en te praat omdat dit ons geloof ‘n lelike knou kan gee as ons mekaar nie weer help om oor die saak reg te dink en te glo soos die Bybel daaroor praat nie.

Sommige gelowiges probeer op die vrae eenvoudige antwoorde gee. Maar soms help hulle antwoorde ons nie en maak ons eerder onseker of laat ons twyfel aan ‘n God van liefde. So lees ons manne-Bybelstudiegroep onlangs in Stephan Joubert se boek “God se wil vir jou lewe”, ‘n aanhaling wat hy uit ‘n tydskrif gee wat so klink:

“Al die droogtes, oorloë en hongersnood (en ons sou seker Covid ook hieronder kan tel) in die wêreld is die gevolg van ons sondes. Dit is God se straf.” Hy vertel ook van ‘n skool naby hulle waar ‘n leerder tragies gesterf het. Die oggend met die skoolopening, het ‘n predikant toe vir die skool gesê dat God dit laat gebeur het om die gemeenskap tot bekering te bring! En dan vra hy: ‘Ek wonder of hierdie geestelike so maklik sulke dinge sou kwytgeraak het as dit sy eie kind was. En ek wonder of hy sy einste opmerkings by die skool as troos aan die bedroefde ouers van hierdie kind sou aangebied het’.” Sulke antwoorde help ons nie. Dis dieselfde tipe antwoorde wat Job se vriende hom gegee het oor sy lyding en ons weet die Here was vies vir hulle daaroor. Dit bring ook net nog vrae: “Vir watter sondes straf die Here ons en vir watter nie?” As ons dit glo, sal ek my lewe koes-koes loop vir God omdat ek bang is vir sy straf en nie weet wanneer Hy my gaan bykom nie.

Maar Jesus maak die groot verskil! As Hy dan al ons skuld en laste kom dra het aan die kruis, was dit dan nie genoeg nie? Daarom ken ons net een God en dis die goeie God.

1 Timoteus 6:15  Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers.

Maar, al sê ons dit vir mekaar, wat maak ons met die vrae wanneer dit sleg gaan met mense en veral ook kinders van die Here, soos Danny en soos wat baie van ons seker ook al beleef het?

Wel, die feit dat Jesus nie alle mense wat siek was op die pad gesond gemaak het nie, wys vir ons dat ons nog op aarde is en nog nie in die hemel nie, daar waar daar geen pyn en lyding en ongeregtigheid en onvrede sal wees nie. Maar ons is nog nie daar nie. As Jesus die Weg en die Waarheid is, dan roep Hy ons nie om dadelik die hemel in te stap nie, maar om Hom te volg. En op hierdie pad is daar baie seer en vraagtekens en lyding ook, soos wat Jesus Self van getuig as Hy aan die kruis uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”. Maar die siekes wat Hy gesond gemaak het was soos padtekens na die hemel – wat gewys het wat ons te wagte kan wees vorentoe. Die wonderwerke was nie die nuwe hemel nie maar bakens en bewyse dat ons op pad is na die ewige koninkryk. Dit is juis daar om siekes en lydendes te versterk in hul geloof, al word hulle nie gesond nie maar om hulle te bemoedig en aan te hou op die pad agter Jesus aan. Uiteindelik moet almal van ons tog ook doodgaan, as Jesus nie voor daardie tyd kom nie. God se bedoeling met enkele genesings is nie om sommige te beloon en ander te straf nie maar om te sê: “Hou moed! Daar sal ‘n einde aan die sonde en lyding kom en hierdie is bewyse daarvan. Dis beter om as ‘n versterkte gelowige te sterf as om as ‘n ongelowige tot met jou dood gesond te bly.

Hoe moet ek dan oor siekte en lyding as kind van die Here dink en leef?

Eerstens sal daar dikwels ‘n stukkie opstand en nie-verstaan ook by ons as gelowiges wees as sulke dinge oor my pad kom. Maar dan is dit nie omdat God my nie liefhet of omgee nie. Sy liefde het Hy lank terug reeds vir my en jou bewys aan die kruis toe Hy al ons skuld kom wegneem het. En die waarborg dat dit vir my persoonlik bedoel is, het by my en jou doop gebeur. Ek het jou op jou naam geroep. Jy is Myne. Verder kan ons ons nie indink in ‘n wêreld waar daar nie tyd is soos ons dit ken nie. God leef in ewigheid en daarvan het ons nie ‘n idee nie. Hoe sal ons dan ooit ook lyding kan verstaan. Wat die Here van ons in siekte en lyding vra, is nie om te glo dat ons gesond sal word nie (al kan ons dit van Hom vra), maar dat Hy ons nooit alleen sal los nie en bitter naby aan ons bly al die pad tot by Hom. Bennie Haarhoff vertel my dat ‘n verpleegster in die Intensiewe eenheid, waar hy was, vir hom sê: “Don’t ask ‘Why God’ but ask ‘Carry me God’”

Psalm 23:4  Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Op ‘n sekere manier vra dit van ons in sulke tye juis blinde en vaste vertroue wat die vrees wegneem. Of soos lied 508 dit so mooi sing:

Vaste rots op wie ek bou, een op wie ek kan vertrou.

Rots by wie ek altyd skuil – U is skenker van my heil.

As die glowe oor my slaan, by my rots vir ewig staan.

Maar dit moet nie net in ons liedboek staan nie. Die vertroue moet ook in ons harte leef. So, voor ons verder gaan, kom ons sing dit sommer as ‘n geloofsbelydenis!

Tweedens: Lyding en siekte vra ook dankbaarheid. Ons vra dikwels vrae wanneer lyding oor ons pad kom en daar is niks daarmee verkeerd nie. Maar in groot dele van baie mense se lewens is daar soveel goeie dinge wat ons beleef in goeie gesondheid, genoeg om te eet, huis, familie, vriende, werk, gemeente….. Alles dinge wat ons eintlik niks van verdien nie maar wat ons ontvang uit genade. Ons sal lyding ook beter kan leef as ons geleer het om ook in dankbaarheid die Here te loof in en vir goeie dinge en tye.

Derdens: God werk nie net deur wonderwerke nie. Wonderwerke vind nog daagliks om ons plaas wat ons dikwels  nie raaksien nie soos are wat hulle uit Bennie Haarhoff se bene sny en oorplant om weer bloed deur sy hart te kan pomp! Soos vaksines en pille en medisyne wat ontwikkel word deur wetenskaplikes – baie van hulle selfs ongelowiges! Ook dit is tekens van God se genade en krag in die deurmekaar wêreld waarin ons tans leef. Laat ons nooit vergeet om God se hand daarin te sien en dit ten volle te benut met verantwoordelikheid nie. Daarom moet ons nie net bid vir wondergenesings nie maar ook vir dokters en verpleegsters en die wetenskap wat medisynes en prosedures ontwikkel – ook dit is in ons Vader se hand.

Ten slotte beteken dit nie dat ek nou niks meer werd is as ek siek is of deur lyding gaan of selfs sterf nie. Het Jesus se lyding nie juis die grootste verskil kom maak in ons lewens nie? Hoeveel van ons is nie al versterk in ons geloof deur ander se lyding nie? Oor hoe hulle tsv die swaarkry aan God vashou nie. Ook wanneer ek deur donker dieptes gaan kan ek met ‘n roeping leef dat God my steeds in sy diens gebruik om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak.

En die grootste troos, natuurlik, is: Die einde van ons lewens is eintlik mos maar net die begin van die volmaakte lewe wat vir wag by God waar daar nie pyn en hartseer sal wees nie en vreugde en aanbidding ons asem sal wees.

Dalk is daar van ons wat wonder of ‘n mens ooit so deur lyding en siekte kan gaan. Is dit moontlik? Ek sluit graag af met die verhaal van die beroemde Amerikaanse teoloog, Jonathan Edwards in die middel van die 18de eeu. Hy word aangestel as dosent by die bekende Princeton Kweekskool. Kort na sy aanstelling gee sy dokter per ongeluk vir hom ‘n verkeerde inspuiting en sterf hy ‘n ruk later. Terwyl hy al sterwend is, skryf hy ‘n brief vir sy dogter. Sy sterf self ook ‘n paar dae na hy die brief geskryf het aan pokke. Hy antwoord haar dan op ‘n brief wat sy geskryf het aan hom oor haar man wat pas oorlede is en haar seun en haar broer wat  ernstig siek is. Donkerder tye kan mens jou skaars voorstel. Dan skryf hy vir haar:

“I thank you for your most comfortable letter; but more especially would I thank God that has granted you such things to write. How good and kind is your heavenly Father! Indeed, He is a faithful God; he will remember his covenant forever;and never will fail them that trust him. But don’t be surprised, or think some strange thing has happened to you, if after this light, clouds of darkness should return. Perpetual sunshine is not usual in this world, even to God’s true saints. But I hope, if God should hide his face in some respect, even this will be in faithfulness to you, to purify you, and fit you for further and better light.”

God het ons lief, Hy is getrou, Hy bly by ons ook al verstaan ons dit nie en kry ons swaar en soos baie swaar en al gaan ons ook dood. Dit mag ons glo. Amen.

css.php