Preek – 20 Junie 2021: "Anders"– 2 Korintiërs 6:14-7:1

Verwelkoming:

’n Baie geseënde en gelukkige Vadersdag aan elkeen wat vir iemand in hierdie belangrike rol intree!

Votum:

Koos du Plessis

 

Laat my nooit die grond verlaat nie,

laat my in U skadu bly,

Gee dat elke aardse vreugde en vrees,

eind’lik nietig word vir my.

 

Elke dag is ‘n gedagte,

Elke kamer net vir U,

elke aardse droom van rykdom en roem,

net ‘n skadu teen die muur.

 

Elke afdraai paadjie ken ek,

elke keer het ek gedwaal,

elke keer het U my iewers kom haal,

maak dit Heer U laaste maal.

 

Wat ek is is net genade,

wat ek het is net geleen,

eint’lik smag ek na U waters van rus,

lei my Heer vanaand daarheen.

Seëngroet:

Genade en vrede vir julle!

Skriflesing:

2 Kor 6:14-7:1

14Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? 15Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ‘n gelowige dieselfde belange hê as ‘n ongelowige? 16Hoe kan ‘n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:
 
“Ek sal onder hulle woon en wandel,
en Ek sal hulle God wees
en hulle sal my volk wees.”
17Daarom: “Gaan van hulle af weg
en sonder julle af,” sê die Here,
“en moenie wat onrein is, aanraak nie.”
“Dan sal Ek julle aanneem,
18en Ek sal vir julle ‘n Vader wees,
en julle sal vir My seuns en dogters wees,”
sê die Here, die Almagtige.
1Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.

Preek:

As mense betree ons regdeur ons lewens verskillende fases: ons word almal gebore en word op so ‘n traumatiese manier deel van hierdie wêreld; ons verlaat die heilige veiligheid van ons ma’s se liggame en word ingedwing in hierdie bestaan waar ons alles opnuut moet leer – hoe om te eet, asemhaal, huil…

By geboorte reeds ontvang ons ‘n naam, ‘n gegewe identiteit wat vir die hele wêreld om ons kan identifiseer wie ons is. Ons name het betekenis; dit word met ‘n doel gegee in die hoop dat ons in elke lewensfase sal weet wie ons is, en wie nie.

Wanneer Jesus met Nikodemus praat oor dissipel-wees, dan vergelyk hy die proses met wedergeboorte: ons moet weer gebore word, nuwe mense wat alles oor ‘n Jesus-wêreld opnuut moet leer – hoe om te praat, hoe om te deel, hoe om te leef…

Om weer gebore te word is traumaties, dit is ‘n moeilike proses van nuutwording en met hierdie geboorte ontvang ons ook ‘n nuwe naam, ‘n hele nuwe identiteit wat ons moet dra. 

In die vroeë kerk is die name van nuwe bekeerlinge dikwels by hul doop verander om aan te dui dat hulle totaal nuwe mense is. Nuwe mense het ook nie hul ou verjaarsdae gevier nie, maar eerder hul sogenaamde doop-verjaarsdae – ‘n duidelike aanduiding vir die res van die wêreld dat Christen-wees nou vir ewig hul nuwe identiteit sou wees. Die oue is verby, die nuwe het gekom…

Ons hoor gereeld dat Christen-wees uitdagend is en dat dit iets van ons vereis wanneer ons ons vereenselwig met Jesus van Nasaret. 

Ons dink egter nog te dikwels dat “Christen” bloot ‘n bynaam kan wees; dat Jesus se waardes oulike toevoegings tot ons karaktereienskappe kan wees – Christen-wees is bloot ‘n opsionele deel van my myself wat ek met mense sou kon deel, of nie…

Wat ons sukkel om te verstaan is dat wedergeboorte geen dele van die ou mens oorhou nie: ons dink dat mens nog kan vashou aan sekere dele van onsself, maar dit is gewoonlik juis dan dat ons ons vergryp aan ons mees skadelike en Jesus-lose dele.

Ons skrifgedeelte maak dit duidelik dat ons ou mens en ons nuwe identiteit eenvoudig nie saam kan bestaan nie. Die dinge wat vir die wêreld (sonder Jesus) so natuurlik kom – onreg, duisternis, afgode, ongeloof – mag eenvoudig nie bestaan in dieselfde tempel waar geregtigheid en lig regeer nie. 

Ons verstaan van tempel bly egter dikwels ook by ‘n gebou in die antieke wêreld, maar ons vergeet dat dit ons is, ons nuwe identiteit is nie ‘n inhoudlose bynaam, “Christen”, nie. Dit is “Christen, tempel van God.” 

Dit mag ons dalk help om weer te dink oor wat tempel in God se beskrywing beteken: die tempel is die plek waar God in Sy onaantasbare heiligheid mense kom ontmoet, die plek waar hemel en aarde bymekaarkom. Die tempel het uitgestaan tussen alle ander geboue, dit was die plek wat gekenmerk is deur God se teenwoordigheid, dit was anders…

Wanneer ons weer gebore word, nuwe mense word, dan word ons gebore met ‘n nuwe identiteit,  ‘n roeping om iets te wees wat uitstaan in die wêreld, ‘n roeping om anders te wees.

Ons skrifgedeelte waarsku die gemeente in Korinte dat sekere dinge eenvoudig nie saam kan bestaan nie. Daar is, met ander woorde, sekere dinge wat eenvoudig nie pas by hul nuwe identiteit as weergebore Christene nie. 

Net soos onrein diere nie in die allerheiligste van die tempel sou kon ingaan nie, so ook behoort ons nie onreg en duisternis in ons eie lewens in te nooi nie. Aangesien ons self nou die allerheiligste geword het, die plek waar God woon, behoort ons hierdie opdrag, hierdie roeping om anders te wees, soveel ernstiger op te neem.

Ons moet egter nie vashaak by metafore nie, want metafore is misleidend en maklik om agter te skuil. Ons moet aanvaar dat daar praktiese, regte-egte dinge van ons ou mens is wat ons moet agterlaat:

Ons kan nie meer dink dit is aanvaarbaar om beide Christene en rassiste te wees nie, ons kan nie Christene wees en diskrimineer teen mense nie, ons kan nie Christene wees en bedrog pleeg nie, ons kan nie Christene wees en geld of werk of mag of status aanbid nie…die lysie kan nog baie langer raak. 

Christen-wees is nie net ‘n bynaam nie, dis nie opsioneel of “refundable” nie, ek kan nie half-in wees nie. 

Ons verbruikerskultuur sus ons met eindelose keuses: ons kan inskryf en kanselleer in een dag; ons kan by groepe inskakel sonder om werklik deel te neem, ons kan “shop” vir gemeentes en buurte tot ons gemaklik is en selfs wanneer dit nie vir ons werk nie, het ons die opsie om te sê “ek voel net nie gemaklik hier nie”.

Ons word geroep om radikaal anders as die wêreld te wees: in ‘n wêreld wat opgebruik en weggooi aanmoedig, behoort ons te getuig van toewyding, van integriteit, van Jesus.

Ons roeping as tempels is nie om statiese plekke te wees vir God om by in te trek nie. Die doel van die tempel is ook om ‘n plek vir offers te wees. Paulus moedig gelowiges aan: “Gee julleself as lewende en heilige offers”. Ons is heilig wanneer ons ons roeping uitleef om anders as die wêreld te wees, maar om lewende offers te wees is ‘n aanhoudende proses. Ons is nie net offers nie, maar ons word elke dag offers deur, soos Paulus dit ook sê, ons denke te vernuwe. 

Nuwe mense val nie net uit die lug nie, geboorte is ‘n lang, pynlike en traumatiese proses. Om nuwe mense te word verg daaglikse opoffering, daaglikse keuses om die ou dinge te laat gaan sodat die nuwe kan kom.

Ons nuwe identiteit, so uitdagend soos wat dit is, is egter ook bevrydend: ek hoef nie meer met woede en angs in my rond te loop, omdat ek maar op ‘n sekere manier grootgeword het nie. Ek hoef nie bang te wees om dinge in my gesin, in my huis, in my hart anders te doen as die res van my familie nie. Ek kan met vrymoedigheid myself oorgee aan die geboorteproses, aan nuutwording – ek hoef nie sekere groepe mense te haat, bloot omdat my familie dit maar nog altyd doen nie…

As mense is veiligheid vir ons belangrik, daarom sukkel ons dikwels om die bekende te laat gaan, om die ou mens wat so mooi in die wêreld inpas, te laat vernuwe. Ons is bang om meer te verloor as wat ons dalk mag wen, maar luister na hierdie belofte:

 

“Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” Daarom: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie wat onrein is, aanraak nie.” “Dan sal Ek julle aanneem, en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige.

 

Dit is die belofte wat God maak aan Sy tempels, aan mense wat dit waag om weer gebore te word, om anders te wees as hierdie wêreld. Is dit nie soveel meer werd om ‘n kind van God genoem te word, om daardie identiteit te dra, as om Afrikaner, man, vrou, wit, ryk of kind van die wêreld te wees nie?

Amen

css.php