Hoekom preek ons?

Boodskap

#  Die eerste vers wat ons saam gelees het, vertel hoe Petrus op Pinksterdag opgestaan het en die mense toegespreek het.

  • Ons kan maar sê Petrus het opgestaan en vir die mense gepreek.
  • En nou wil ek graag vanoggend se preek begin deur juis iets te sê oor “preke.”
  • Ons almal weet mos wat dit is.
  • Ons almal is seker al jare lank aan preke blootgestel en baie van ons het al letterlik honderde daarvan aangehoor.
  • En ek dink dis goed om net ’n slag te vra: Maar hoekom word daar gepreek?
  • En wat moet ’n preek doen, of bereik?

#  Maar nou wil ek net eers op ’n ligter noot vertel van wat ’n afgetrede predikant op Saldanha, oom Koos Kriek, my op ’n keer vertel het.

  • Hy was o.a. predikant op Hopefield en later kapelaan in die vloot.
  • En oom Koos kon baie snaaks uitkom met dinge.
  • En so vertel hy my dat een van sy drie seuns op ’n keer ’n CSV-kamp gaan bywoon het.
  • Dié seun was in daardie stadium iewers in sy tienerjare.
  • En toe die seun van die CSV-kamp af terugkom, het oom Koos ewe belangstellend vir hom gevra: En boeta, hoe was die kamp toe vir jou?
  • En die seun antwoord toe:  Pa, om eerlik te wees: hierdie kamp het vir my baie meer beteken as al Pa se preke wat ek tot nou toe gehoor het!

#  Maar terug na ons vraag: Hoekom word daar gepreek?

  • En wat moet ’n preek doen, of bereik?
  • Hieroor sou ’n mens baie lank kon praat.
  • En daar is vir seker nie net een antwoord op hierdie vraag nie.
  • Maar om die vraag wel op een manier te beantwoord, kan ons sê: ’n Preek moet ons veral help om die groot dinge wat die Here gedoen het en nog steeds doen, te kan raaksien.
  • ’n Preek moet ons veral help om die hand van die Here in ons wêreld te kan raaksien.
  • En dít is wat gebeur wanneer Petrus op Pinksterdag opstaan en die mense toespreek.
  • Hy help hulle om te kan sien wat die Here in ons wêreld gedoen het en nog steeds doen.
  • En as ’n mens kan raaksien wat die Here in ons wêreld doen, verander jou eie lewe ook daardeur.
  • Dan, kan ons maar sê, verander die werklikheid van jou eie lewe.

#  So kom ons vra dan nou: Oor watter groot dinge wat die Here gedoen het, praat Petrus hier in Hand. 2?

  • En hoe verander dít die werklikheid van ons lewe?
  • Hoe maak dít ons lewe anders?
  • En ek wil graag drie dinge onderstreep hier uit Hand. 2.
  • Nommer een: Petrus herinner ons hier aan die kruisdood van Jesus.
  • In vers 23 verwys hy na hoe Jesus aan ’n kruis vasgespyker was en daar gesterf het.
  • ’n Verskriklike lyding en ’n verskriklike dood!
  • Maar dit was alles om óns te verlos!
  • En dink net hoe dít ons lewens anders maak!
  • Ons hoef nie meer voort te sukkel as verlore sondaars nie.
  • Ons is nou verloste kinders van God!
  • Ons het nou ’n nuwe identiteit ontvang: dié van verloste kinders van God!
  • En Jesus se lyding en dood het dit vir ons kom moontlik maak.

#  Maar ’n tweede baie belangrike ding hier in Hand. 2 wat ek wil onderstreep, is dat Jesus na sy kruisiging nie in die dood gebly het nie.

  • Hy het opgestaan uit die dood.
  • Hoe sê vers 24 dit?
  • “Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou.”  
  • Hier hoor ons dat die dood oorwin is.
  • Dat Jesus die mag van die dood verbreek het.
  • En weer moet ek sê: Dink net hoe dít ons lewens anders maak!
  • Ons hoef nie meer bang te wees vir die dood nie.
  • Jesus het die dood klaar oorwin.
  • En as sy kinders kan ons deel in sy oorwinning.
  • En kan ons uitsien na ons eie opstanding uit die dood.
  • Ons hoef nie meer die dood te vrees nie.
  • Jesus het dit klaar vir ons oorwin.

#  En dit bring my by die derde baie groot ding waarvan Hand. 2 ons vertel, en wat ek wil onderstreep.

  • En dit is dat die Heilige Gees op ons as God se kinders uitgestort is.
  • Die profeet Joël se profetiese woorde het waar geword.
  • In vers 17 en 18 wat ons gelees het, herhaal Petrus dan ook wat Joël gesê het, as hy sê: “Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom.  Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree.”
  • Hier hoor ons so duidelik dat al die kinders van die Here sy Gees ontvang.
  • Selfs jongmense word hier genoem: seuns en dogters.
  • En, ja, ook die oumense word by die naam genoem.
  • Maar so het ons as gelowiges elkeen die Gees van God ontvang.
  • So het ons elkeen Iemand (met ’n hoofletter) gekry wat elke oomblik by ons is en in ons is.
  • Hy lei ons in die waarheid.
  • En Hy dra sy vrug in ons lewens.
  • En Hy herinner ons aan wat Jesus gedoen het en gesê het.
  • En Hy vul ons met krag om sy gestuurdes en getuies en profete in die wêreld te kan wees.
  • Dink net hoe die Heilige Gees ons lewens anders maak!

#  Petrus se preek op Pinksterdag help ons om te besef dat ons as God se kinders eintlik in ’n nuwe werklikheid leef.

  • Dat ons in ’n werklikheid leef waarin Jesus reeds aan die kruis gesterf het, én opgestaan het uit die dood, én die Heilige Gees uitgestort het wat Hy van die Vader ontvang het.
  • Ons leef in ’n nuwe werklikheid.
  • En preke moet ons help om dit te onthou.
  • So, as ons vandag vra: Maar hoekom preek ons?
  • En: Wat moet ’n preek doen of bereik? dan is dít die een groot taak van preke.
  • Dit moet ons help om te onthou dat ons in ’n nuwe werklikheid leef, en ons ook help om op die regte manier in hierdie nuwe werklikheid te kan leef.

#  Maar kom ons wees eerlik.

  • Ons sukkel seker maar almal om hierdie nuwe werklikheid te ervaar.
  • En ons beleef mos baie keer nog soveel slegte dinge en probleme en ellende en hartseer.
  • Die wêreld waarin ons elke dag leef, is nog so deurtrek van die ou werklikheid van sonde en die dood.
  • Hierdie ou werklikheid kom dring homself nog so sterk aan ons op, veral as ons die koerante deurblaai of na die TV se nuusprogramme kyk.
  • En die vraag is: Wat kan ons doen om nie vas te steek in hierdie ou werklikheid nie?
  • En wat kan ons doen om nie te begin twyfel dat Jesus wel deur sy dood en opstanding en die uitstorting van sy Gees ons werklikheid kom verander het nie?

#  Hierdie is ’n moeilike vraag, maar ek dink dit kan ons dalk help om as ’t ware so ’n paar treë terug te gee in die geskiedenis.

  • En om dan vir onsself iets in ons verbeelding voor te stel.
  • Kom ons stel ons voor dis die Vrydagoggend waarop Jesus gekruisig sou word.
  • En ons was daar en het gesien wat gebeur.
  • In daardie stadium was sonde nog die groot faktor in ons lewens.
  • Ons sien dit bv. in hoe die soldate nog besig was om met Jesus te spot en Hom te gésel.
  • In daardie stadium was die dood ook nog nie oorwin nie.
  • En die Heilige Gees was nog nie uitgestort nie.
  • Dit was nog vroeg op die Vrydagoggend waarop Jesus gekruisig sou word.
  • Maar nou, die belangrike ding: Die Sondag van Jesus se opstanding was net om die draai!
  • Die Sondag van sy oorwinning oor die dood was net om die draai!
  • Dit is Vrydag, maar Sondag is naby! 

#  En nou wil ek u graag probeer vertel hoe ’n sekere prediker juis oor hierdie Vrydag van Jesus se dood en die Sondag van sy opstanding gepreek het.

  • Dit was ’n prediker in ’n oorwegend swart gemeente in Amerika, waar die lidmate sommer lekker saam praat terwyl die prediker preek.
  • Maar hierdie prediker was al ’n ouerige man en aan die begin ook effens huiwerig.
  • Maar hy begin sy preek toe só, met ’n afgemete stem:
  • “Vandag is Vrydag, maar Sondag is naby.”
  • Die gemeente het toe begin stil word.
  • En toe die prediker voortgaan en sê: “Dit was Vrydag, ja, dit was Vrydag en my Jesus het vir dood aan ’n stuk hout gehang.  Dit was Vrydag, maar Sondag was naby!”, toe roep een van die diakens uit: “Preach, brother, preach!”
  • En dit was ál wat die ouerige prediker nodig gehad het.
  • Hy het effens harder en duideliker voortgegaan: “Dit was Vrydag en Maria het hartverskeurend gehuil.  Die dissipels het in alle rigtings aan die hardloop gegaan, soos skape sonder ’n herder.  Maar dít was Vrydag, en Sondag was naby!”
  • Die gemeente het die boodskap begin kry.
  • Die vroue het hulle hande stadig begin wuif en die mans het die prediker saggies aangemoedig: “Preach, brother, preach!”
  • Die prediker het sy volume verdubbel: “Dit was Vrydag.  Die siniese toeskouers het na die wêreld gekyk en gesê: Soos dinge in die verlede was, so sal dit in die toekoms ook wees.  Jy kan niks verander in hierdie lewe nie.  Maar daardie siniese toeskouers het nie geweet dat dit maar net Vrydag was nie.  Sondag was naby!”
  • “Dit was Vrydag,” sê die prediker, “en op Vrydag het Pilatus gedink dat hy sy hande skoon kon was van sy verantwoordelikhede.  Die Fariseërs het gelag en mekaar in die ribbes gepomp en gedink dat hulle weer in beheer van sake was.  Maar hulle het nie geweet dat dit maar net Vrydag was nie.  Sondag was naby!”
  • En so het die prediker in sy preek aangegaan en aangegaan om te sê: Dit was maar net Vrydag, maar Sondag was naby, die dag van Jesus se opstanding was naby.
  • Die gemeente was op hulle voete.
  • Die hande het gewuif.
  • Stemme het uitgeroep: “Preach, brother, preach!”
  • En teen die einde het die prediker telkens net drie woorde gesê: “Dit was Vrydag.” 
  • En die gemeente het elke keer soos een man teruggeskreeu: “Maar Sondag is naby!”

#  Dalk voel dit nog dikwels net soos Vrydag in u en my lewe.

  • Dalk voel dit juis op hierdie oomblik ook vir ons so.
  • Maar ons moet onthou: Sondag is naby!
  • Ons leef in ’n nuwe werklikheid.
  • Al staan ons nog met een voet in die ou werklikheid.
  • Ons leef reeds in ’n nuwe werklikheid.
  • Hier is die oorwinning klaar behaal!
  • Hier is Jesus die Here en die Christus, soos Petrus dit in die laaste vers wat ons gelees het, sê!
  • Hier is die Naam van Jesus die Naam bo elke naam.
  • En in hierdie Naam kan ons nou al as nuwe mense in ’n nuwe werklikheid gaan leef!
  • En preke moet ons help om dít te kan doen.

AMEN

css.php