Koninkrykswysers
Verwelkoming:
Ons reis het maar net begin… bly wag op die gawe van die Gees; vesitg jou ritmes saam met die Here – bly getroue in gefokusde navolging van Jesus; vertrou die Heilige Gees – bly in gebed…
Ek sal dit so waardeer as jy vir my terugvoer kan gee!!
Votum/seëngroet:
Stilword…
“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou…”
Skriflesing:
Ef 1: 3-5, 9-10, 13-14, 15-23
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.
9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.
13Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Preek:
Watter wonderlike samevatting van alles wat ons in hierdie week met mekaar gedeel het! Dankie dat jy saam was op hierdie reis. Dit is egter nog net die begin. Wat ons saam hierna gaan doen, gaan die deurslag gee of ons werklik saam as gemeente ons roeping gaan vind, beter begin verstaan, verwoord en uitleef. Ons het geleer dat dit ’n groepspoging is, en iets wat organies is: dit gebeur voortgaande, met ’n spesifieke groep mense, op ’n spesifieke tyd en plek. Dit is mense wat leer om Jesus te volg binne hulle regte lewens soos wat Hy tans aan die werk is deur die Heilige Gees. Dit is mense wat verstaan dat hulle geseën word om vir ander tot seën te wees – wat hulle lewens sal opoffer ter wille van God se droom. Mense wat weet hulle is gelief, gevorm en gestuur!
Ons, as enkelinge en saam as gemeente, word elke dag weer voor daardie keuse gebring: wie se koninkryk gaan vandag eerste kom – Myne of God s’n. Het ek Hom of my eie lewe liewer? Wil ons Hom regtig volg?
Ons tema vir vanaand is “Koninkrykswysers”. Dit sluit ook aan by een van die patrone uit die boek “Treasures in Clay Jars – patterns in Missional faithfulness.” Missionale/Gestuurde gemeentes wys met hulle lewenwyse na die heerskappy/koninkryk van God. Hierdie patroon word so beskryf (let op die verskillende beskrywende woorde – en hopelik raak alles duideliker soos wat ons aangaan…):
“Die Missionale kerk verstaan haar roeping as getuie van die evangelie van die inbreek van God se heerskappy in hierdie wêreld. Sy streef om ’n instrument, agent en teken van hierdie heerskappy te wees. Soos wat sy haar getuienis deur haar identiteit, haar aksies, en haar kommunikasie lewer, bly sy bewus van die voorlopige karakter van alles wat sy is en doen. Ons wys egter reeds op die heerskappy/koninkryk van God, wat God verseker sal laat realiseer. Ons weet egter dat ons eie reaksie onvolkome is en dat ons voortgaande bekering benodig.”
Ek weet dit is ’n mondvol, maar kom ons probeer! Eintlik is ons gelese gedeelte en hierdie beskrywing, klaar die hele preek, maar kom ek probeer die legkaartstukkies in ’n verstaanbare prentjie rangskik. Paulus skryf vir Efesiërs net eenvoudig ’n fenominale inleiding. Hy skryf ten diepste aan hierdie gemeente van jong gelowiges, oor hulle diepste identiteit; en daarom plaas hy dit vir hulle binne die konteks van die groter storie van die Bybel. Heeltyd in die agtergrond van hierdie gedeelte (gaan lees dit gerus hierna alles weer met dit in gedagte) leef die twee gebeure wat veral aan die volk Israel hulle selfverstaan gegee het: Die eksodus en die Paasfees. En Paulus wys dan aan hierdie heidense gelowiges hoe hulle nou in Christus,volgens dieselfde beginsels, nou deel geword het van die nuwe volk van God– en natuurlik hoe geweldige groot genade dit is.
Die eksodus: Die ware Israel is die mense wat verstaan dat hulle God die God van verlossing is. Hy maak mense vry, soos destyds uit Egipte, maar op nog soveel groter maniere, van slawerny, fisies, emosioneel en geestelik. Hy lei mense tree vir tree, deur die woestyn van hulle lewe na die beloofde land – in Christus nou nie net meer die land Kanaän nie, maar die ewige koninkryk van God wat ten volle sal realiseer in die nuwe skepping; die nuwe hemel en aarde wat een is in sy heerlike teenwoordigheid – daar waar ons waarlik tuis sal wees.
Die Paasfees: Die Lam se bloed het die volk gered van die oordeel van God, van die dood. Net so red die Here Jesus se bloed ons van ons sonde en van die ewige dood – deur sy genade, ontvang ons die ewige lewe, nie net tydloos, nie, maar ook in kwaliteit, in aard – die lewe in oorvloed, nou!
Sy bedoeling was, sê Paulus, om alles in die hemel en op die aarde onder een Hoof te verenenig, naamlik Christus. En daarin, in hierdie omvattende plan van God, het ons ’n deurslaggewende rol om te speel.
Efese was ’n belangrike hawestad in die Romeinse Ryk. Dit was ’n plek van mag. Van ekonomiese en politieke mag – strategies belangrik. Maar dit was ook ’n plek van godsdienstige mag/krag. Allerhande soorte kultusse en gelowe het daar floreer en dit was ook dikwels gefokus op mag – dinge wat ons vandag towery sou noem – mag om dinge te laat gebeur in die wêreld, om mense of gebeure te beïnvloed, om welvaart of gesondheid te verseker of om jou vyande tot ’n val te bring. Die mense van Efese se wêreld was dus gedomineer deur hierdie kragte, en dit is na al hierdie dinge, al hierdie fisiese en geestelike magte waarna Paulus verwys as hy skryf dat Jesus aan God se regterhand sit, “hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy.”
En dan gaan hy voort: “Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
Daardie laaste gedeelte tref my altyd. Ek sukkel om dit te glo. Die kerk (ons!) die volheid van Hom wat alles in almal vervul?! Ek kyk na myself. Ek kyk na die mense om my in die kerk van die Here Jesus… Ons??!!
Ons deel in Jesus se eie lewe, in ons leef die kragtinge werking van God se mag wat Jesus uit die dood uit opgewek het? Ons deel ook in Jesus se roeping: om alles en almal, die hele wêreld, onder een Hoof, onder Hom, te verenig. Ons is daarvoor gekies, daarvoor geheilig, daartoe geroep én daartoe bekragtig deur die Heilige Gees!
Ons moet stadig hier beweeg… Kan jy dit glo?! En as dit waar is, hoe begin ons dit leef? Kom ons begin deur onsself te herinner (soos die titel van die boek ook!) dat ons (volgens 2 Kor 4:7) kleipotte is wat maklik breek – die krag wat alles oortref kom van God. Ons besit nie hierdie krag nie – dit is nie om te gebruik vir ons eie gewin nie – maar dit is uit genade aan ons toevertrou. Dit beteken egter wel dat ons met nuwe oë moet kyk: na onsself, na mekaar na ons plek en rol in hierdie wêreld (m.a.w.) ons roeping! Deur getrou te wees aan die Here, deur getrou in sy teenwoordigheid te leef, is ons besig om die wêreld onder ons een Hoof te verenig.
In die eerste plek net deur ons getroue hierwees en uitleef van die 4 kenmerke van die kerk uit Hand 2: Die leer van die apostels (verkondiging van die evangelie en groei in dissipelskap). Die onderlinge verbondenheid (ons liefde vir mekaar). Die gemeenskaplike maaltyd (ons wat na mekaar toe getrek word rondom Jesus) en gebed (die uitdrukking van ons vertroue op die Heilige Gees).
En dan natuurlik die uitwerk van ons roeping om getuies, verteenwoordigers te wees van ons Koning en sy koninkryk in hierdie wêreld! Ons kan nie alles doen nie – ons kan onsself nie verantwoordelik maak om die hele wêreld reg te ruk nie. Maar ons kan “meer doen as wat ons bid of dink”! Ons gaan dit ook nie altyd 100% perfek regkry nie, maar ons moet ten minste weet ons is op pad….
Ons (ons as gemeente saam) is (as ons eerste liefde en prioriteit) op pad (na God se heerlike einddoel met alles).
Ons wees en doen en praat word tekens van God se koninkryk wat reeds aangebreek het: Jesus is Koning! En ons word ’n voorsmaak ook van dit wat nog moet kom – die volle realisering van sy heerskappy as Jesus weer kom.
Gaan Pinkster 2021, net nog ’n verbygaande gebeurtenis op ons kalender wees, of die begin van iets nuuts? Of gaan ons bly vra:
Waar? Waar het die Here ons geplaas?
Wanneer? In watter tyd?
Wie? Wie is ons en wat gee die Here aan ons as gawes en geleenthede?
Hoekom? Hoekom sou ons Jesus wil volg en wat sal die gevolg wees as ons dit doen of nie doen nie?
Wat sê jy? Sal jy dit saam met my doen? Deel word van die span? Amen.
Oordenking:
- Wat was die Here se boodskap vir jou hierdie Pinkster?
- Wat gaan jou eerste tree in gehoorsaamheid wees?
- Frederick Buechner het gesê: “The place God calls you to is the place where your deep gladness and the world’s deep hunger meet.”
- Gee dit vir jou enige leidrade vir jou eie roeping, nou?
- As jy aan ons gemeenskap dink, watter nood staan vir jou uit? Hoe kan ons gemeente dáár Koninkrykswysers wees?
Responsoriese gebed en seën:
U het alles aan my gegee.
Aan U, Here gee ek dit nou terug.
Alles behoort aan U.
Doen daarmee wat U wil.
Gee my net U liefde en u genade.
Dit is genoeg vir my. Amen.
