Vertrou die Heilige Gees
Verwelkoming:
Voor mens jou oë uitvee is dit amper verby – ek is dankbaar vir jou! En as jy gewonder het – natuurlik sou ek wou gehad het dat meer mense hierdie reis met ons moet meemaak – maar ek weet ook wat almal het om te hanteer en hoe moeilik dit is om die tyd te vind; maar ek vertrou die Here se pad met ons – en dat selfs net ’n handvol van ons al iets van ’n kritiese massa kan verteenwoordig wat die Gees kan gebruik om ons gemeente te vernuwe na ons roeping.
Votum/seëngroet:
Stilword…
“Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
Skriflesing:
Hand 22:22-32
Preek:
As tema vir hierdie Pinkster, vra ons die vraag: Wil ons Jesus regtig volg, Paarlberg? Glo ons, ons is geliefd, gevorm én gestuur? Agter dit alles lê die dieper vrae: Wat glo ons oor God en ons gemeente? Glo ons Hy het ons geroep en aan mekaar gegee? Glo ons elkeen van ons hoort hier, is deel van hierdie spesifieke uitdrukking van sy liggaam en is onmisbaar in terme van ons menswees en gawes. Sondagoggend al het ons gesê ons wil probeer om ’n gemeente te word wat sáám op reis gaan om die Here se wil en roeping vir ons te onderskei, op hierdie spesifieke tyd en plek; ook dat ons glo dat die volgende vrae ons daarmee kan help(S5):
- Waar? Hoe lyk die omstandighede, die mense, die kultuur, die nood van ons konteks van geroep en gestuur wees tans?
- Wanneer? Wat is op hierdie gegewe tydstip aan die roer? Watter tendense neem ons waar ons gemeenskap en kultuur en waar is die nood?
- Wie? Wie is ons? Wat gee die Here aan ons in terme van ons eie geskiedenis, geloofstradisie, mense en gawes?
- Hoekom? Hoekom sal ons eerder die lewende God volg as om net nog ’n godsdienstige instansie te wees?
Hopelik groei die hoop, die passie, die inspirasie in ons – ons kán getuies wees van die wêreld se enigste en ware Koning en ons kan verteenwoordigers wees van sy koninkryk wat ’n lewegewende alternatief kan wees in hierdie stukkende wêreld! Maar daarmee saam groei ook die besef dat dit nie maklik gaan wees nie – dat dit opoffering, dissipline en volharding van ons gaan verg.
Ook ’n sekere ingesteldheid wat nie strook met ons kultuur se waardes nie – in ons kultuur moet jy onafhanklik wees, vol bravade, selfversekerd, produktief, kompeterend, altyd een tree voor die res. In Paulus, as hierdie wonderlike navolger van Christus, sien ons iets heeltemal anders. Hy aanvaar, dat waar die Heilige Gees hom ookal stuur, daar vervolging en swaarkry op Hom wag – op ’n hele paar plekke in sy briewe sien ons beskrywings van die lang lys ontberings wat hy ter wille van Jesus moes verduur. En miskien beskryf hy dit die beste in 2 Kor 4.
7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
8In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;
ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;
9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,
op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.
10Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam,
sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.
Ons is kleipotte, broos en breekbaar – ons ego skop dikwels teen hierdie waarheid; maar tot ons eie ondergang; want dan moet al die krag ook uit myself kom; ek moet self met positiwiteit my eie hoop, sin en doel genereer. Maar as ek in nederigheid erken ek is ’n kleipot, dan kan ek ook die waarheid begin leef – die krag wat alles oortref kom van God, en nie van my nie! Dit is die bevryding!
Ons het al gisteraand gesels oor ons lewe as geloofsgemeenskap op die oorvleueling tussen hemel en aarde. Jesus is nou die ontmoetingsplek tussen hemel en aarde; en omdat ons in Hom is en Hy is ons, omdat ons deel is van sy liggaam, is ons liggame ook tempels van die Heilige Gees. Die Gees van intimeit met ons Vader; wat ons harte uitroep na ons “Abba” en bevestig dat ons kinders van God is (Rom 8).
As jy die verwysings in Handeling na die Heilige Gees nagaan, sal jy sien hoe belangrike rol die Heilige Gees vervul as die teken van God se teenwoordigheid en as bron van sy persoonlike leiding. Paulus gaan nou Jerusalem toe – “daartoe gedring deur die Gees”. Dit is die Heilige Gees wat hom versker dat daar vervolging en gevangeneskap op hom wag. Dit is die Heilige Gees wat die kudde onder die ouderlinge se sorg gestel het…
Vertroue op die Heilige Gees is nog een van die patrone van Missionale gemeentes waarvan ons lees in die boek “Treasure in Clay jars”, en dit word so beskryf: “Die Missionale geloofsgemeenskap bely haar vertroue op die Heilige Gees. Dit word veral uitgedruk in spesifieke praktyke van gesamentlike gebed.
Gebed was ook al een van die vier kenmerke van die kerk waarmee ons gisteraand in Hand 2 kennis gemaak het. Dit is eenvoudig een van daardie onmisbare elemente, een van die basiese boustene van ons lewe saam as gelowiges, as kerk/gemeente. En dit is mos nou nie dat ons dit nie doen nie – ek seker ons bid almal – en ons bid altyd as ons hier by die kerk bymekaarkom; maar soos met baie ander dinge, is daar weereens die gevaar, dat ons gebed oor al die jare makgemaak het. Dit is iets waarmee mens open en afsluit. Jy doen dit voor jy eet en voor jy gaan slaap – jy sê vinnig dankie en vra gewoonlik jou lysie behoeftes vir die Here.
Maar as selfs Jesus dit nodig gehad het om gehoorsaam by sy roeping te bly, hoe kan ons daarsonder klaarkom. Jesus self het in sy bediening sy vertroue op die Heilige Gees uitgedruk deur gereelde tye van afsondering en gebed voor sy Vader. Hoe ontwikkel ons as gemeente weer ’n kultuur van gebed – hoe raak dit ’n gemeente soos ons se “default” om altyd, in alles, eers by gebed te begin?
Ons sal dit saam moet ontdek, saam moet leer. Waarna ons streef is nie ’n aanstellerige supergeestelikheid nie. Ons wil leer wat dit beteken om God se teenwoordigheid op te soek en bewustelik daaruit te leef. Ons wil leer om nie op ons eie insigte, ons eie planne, ons vermoëns en ons eie oordele staat te maak nie, maar om altyd God se leiding te soek en te onderskei. Ons wil leer wag op die Here.
Met ’n paar slim planne sal ons bes moontlik darem nog vir ’n hele paar jaar ons gemeente se deure kan oophou – ’n dominee of twee kan bekostig en ’n paar oulike, mooi dinge kan doen. Wat ons egter nie op ons eie krag en insig kan doen nie, is om ons roeping as gemeente te onderskei en uit te leef nie.
Wat wil ons wees? ’n Suksesvolle godsdienstige instansie? Of ’n groep geliefdes van God, wat deur Hom gevorm en gestuur word? ’n Geloofsgemeenskap wat in vertroue op die Heilige Gees getuies is van die Goeie Nuus – van ons Koning en sy koninkryk?
Ons praat al soveel jare oor geloofsgewoontes en dít is die rede: ons sal nie korporatief kan bid as elkeen van ons nie leer bid nie – as jy nie leer van persoonlike ritmes van God se teenwoordigheid opsoek nie – as jy sukkel, kom praat met ons as dominees – ons is nie die eksperts nie, maar as mede-reisigers sal ons graag vir jou wil help om rigting te vind op jou eie unieke reis met God. Amen.
Oordenking:
Raak stil by die Here… Kom o Skepper Gees (maak ons nuut, gee ons U wysheid en onderskeiding…)
- Wat is daar wat jou tans aan jou eie kleipotbroosheid herinner? Is dit vir jou moeilik om jou eie kwesbaarheid aan jouself/ander te erken? En teenoor God?
- Ontvang net weer hierdie woorde: “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
- Sou jy meer wou leer van gebed, m.a.w. hoe om God se teenwoordigheid en leiding op te soek en daaruit te leef?
- Watter eerste tree gaan jy gee? Is jy bereid om die Heilige Gees daarvoor te vertrou?
- In jou verbeelding: hoe sal ons gemeente lyk as ons werklik geleer het om ’n biddende gemeente te wees?
Responsoriese gebed en seën:
U het alles aan my gegee.
Aan U, Here gee ek dit nou terug.
Alles behoort aan U.
Doen daarmee wat U wil.
Gee my net U liefde en u genade.
Dit is genoeg vir my. Amen.
