1 KOR. 1:18-31 (7/3/21)

#  Kom ons stel onsself vanoggend vir ’n oomblik voor ons sit voor die televisie en ons kyk na ’n video-opname.

  • En wat sien ons in hierdie video?
  • Ons sien die bekende apostel Paulus waar hy op die markplein van die stad Korinte staan.
  • En by Paulus staan daar drie mans wat in hierdie stadium nog aan ons onbekend is – dit sal eers later in die video duidelik word wie hulle is.
  • Maar intussen begin Paulus met die drie mans praat.
  • En wat sê hy vir hulle?
  • Hy sê: “Ek wil julle graag iets vertel: Ek wil julle vertel van die kruis van Jesus Christus.”
  • En dan begin Paulus om vir hulle van Jesus te vertel.
  • Hy vertel van Jesus se geboorte in ’n stal in Betlehem.
  • En hy verduidelik dat dit in Jesus se nederige geboorte eintlik God self was wat op dié manier mens geword het.
  • En later in sy lewe, so vertel Paulus, moes Jesus geweldige lyding verduur, en uiteindelik ook onskuldig aan ’n kruis vasgespyker word om daar te sterf.
  • Maar, sê Paulus dadelik vir die drie mans, toe Jesus sterf, het Hy daarmee vrede tussen God en die mense gebring.
  • Toe Jesus sterf, het Hy daarmee betaal vir die sonde van die hele wêreld.
  • En dít, sê Paulus vir die drie mans, is my boodskap aan julle.
  • Dít is die boodskap van die kruis van Christus, en as julle hierdie boodskap glo, word ook julle gered uit julle verlore toestand, en ontvang julle ook elkeen ’n nuwe lewe.

#  En toe bly Paulus eers stil.

  • Nou was dit die ander drie se beurt om te praat.
  • En een van hulle trek ook sommer dadelik los.
  • En wat sê hy?
  • Hy sê: “Ek is ook ’n gebore Jood, net soos Jesus.
  • En ek ken van kleins af al die beloftes van die profete, al die voorspellings oor die Messias wat sal kom.
  • En ek weet, wanneer die Messias kom, sal Hy ons kom help om die Romeine op hulle plek te sit.
  • Hy sal ons kom help om weer sterk en onafhanklik te wees, vry van die Romeinse oorheersing.
  • En die Messias sal ons groot Koning wees, wat wonderlike dinge gaan doen om die Joodse volk weer op te hef.
  • En daarom, Paulus, kan ek nie jou boodskap, dat Jesus die Messias is, aanvaar nie.
  • Ons Messias sal nie aan ’n vervloekte paal kom sterf nie, want Deutr. 21:23 sê: ‘…wie aan ’n paal opgehang word, is deur God vervloek.’
  • Die regte Messias sal ’n kroon dra en nie ’n kruis nie.”

#  En toe kry die tweede man sy beurt om te praat.

  • En wat sê hy?
  • Hy sê: “Nee Paulus, ek kan ook nie jou boodskap aanvaar nie.
  • Ek is nou wel nie ’n Jood nie, maar ’n Griek.
  • En soos jy self weet, is ons Grieke mense wat diep nadink oor dinge.
  • Ons filosowe is die slimste en geleerdste mense in die hele wêreld.
  • En wat ons betref, is daar geen kans dat God ’n mens kon word, soos jy nou net gesê het nie.
  • En dat Hy kon kom ly en kom sterf op die aarde?
  • Nee, dit kan ons beslis ook nie glo nie.
  • En hoekom het Jesus nie Homself verdedig as Hy dan onskuldig was nie?
  • Hoekom het Hy die hele tyd net stil gebly?
  • As ek jou reguit moet sê wat ek van jou boodskap dink, dan moet ek vir jou sê dis onsin, pure onsin.
  • Ons groot filosowe sal jou sommer in jou gesig uitlag as jy hierdie dinge teenoor hulle sou kwytraak.”

#  En so het twee van die drie mans wat na Paulus staan en luister het, sommer reguit gesê dat hulle nie sy boodskap kon aanvaar nie.

  • Vir die een was die boodskap ’n aanstoot.
  • En vir die ander een was dit onsin.
  • En die derde man?
  • Hy het geduldig staan en wag op sy beurt om te praat.
  • En toe sê hy skielik, met oortuiging: “Paulus, ek glo die boodskap van die kruis van Christus.
  • Ek aanvaar dit en glo dit met my hele hart, want dít is die beste nuus wat ek nog ooit ontvang het!
  • Ek glo Jesus het ook vir my sonde kom ly en sterf, sodat ek ook nou vrede met God kan hê.”
  • En met hierdie woorde van die derde man eindig ons video.

#  Nou, hierdie video-besigheid is natuurlik sommer net ’n storie.

  • Dis heeltemal uit die duim gesuig.
  • Maar ek dink tog dat hierdie storietjie ons kan help om beter te verstaan wat Paulus hier in 1 Kor. 1 vir ons wil sê.
  • En wat is dit wat hy wil sê?
  • Soos op baie ander plekke in die briewe van Paulus is dit ook hier in 1 Kor. 1 baie duidelik dat Paulus veral op een ding gekonsentreer het.
  • En eintlik is dit ook nie ’n “ding” waarop hy gekonsentreer het nie, maar op Jesus Christus, en in die besonder op Christus as die Gekruisigde.
  • In vers 18 gee Paulus as ‘t ware ’n samevatting van alles wat hy ooit in sy briewe gesê en geskryf het as hy daar praat van die “boodskap van die kruis van Christus.”
  • Hierdie boodskap van die kruis, dit is die kern van alles wat Paulus in sy briewe en sy preke aan mense wou oordra.
  • En ook in ons denkbeeldige video was dít wat hy met die drie mans gedeel het: “die boodskap van die kruis van Christus.”
  • En hierdie is so ’n besondere boodskap dat Paulus hier in vers 18 so ver gaan as om te sê: Die boodskap van die kruis is “die krag van God.”
  • En die Griekse woord wat Paulus hier vir krag gebruik, is die woord “dunamis.”
  • En dit is mos die woord waarvan ons eie woord “dinamiet” afgelei is.
  • Hierdie boodskap van die kruis is die “dunamis” van God, die dinamiet van God!
  • En daarom is dit ’n boodskap waardeur ’n mens met krag gered kan word.
  • Is dit ’n boodskap waardeur jy met krag van jou sonde verlos kan word en ’n nuwe lewe kan ontvang.
  • En nou moet ons mooi oplet: Hierdie boodskap is nie net ’n blote boodskap nie, dis eintlik Christus self wat aan mense verkondig word.
  • In hierdie boodskap ontmoet mense vir Christus self.
  • En van Christus sê Paulus in vers 24 amper dieselfde as wat hy van die boodskap van die kruis sê.
  • Hy sê: “Christus is die krag (die “dunamis”) van God en die wysheid van God.”
  • En as ek Hóm aanvaar, beleef ek ook meteens self die krag van God en die wysheid van God in my eie lewe.

#  Maar kom ons dink net weer aan ons denkbeeldige video.

  • Twee van die drie mans met wie Paulus gesels het, het nie die boodskap van die kruis aanvaar nie.
  • Die Jood het reguit gesê dat hy ’n heeltemal ander siening van die Messias het as Paulus, eerder ’n Messias op ’n troon as ’n Messias aan ’n kruis.
  • En die Griek?
  • Vir hom was hierdie boodskap sommer net onsin.
  • Gemeet aan die slim gedagtes van die Griekse geleerdes was die boodskap wat Paulus verkondig het, sommer net dwaas.
  • En so het beide die Jood en die Griek hierdie boodskap verwerp.
  • Maar wat het in die proses gebeur?
  • Toe hulle die boodskap verwerp, was dit nie vir hulle moontlik om die krag van die boodskap te beleef en om die wysheid van die boodskap te kan verstaan nie.
  • Toe hulle nee gesê het daarvoor, het hierdie boodskap vir hulle ’n aanstoot en ’n stuk onsin gebly.

#  Maar wat van die derde man?

  • Toe hy ja sê vir die boodskap, toe verander sy hele lewe.
  • Toe ontdek hy meteens dat die boodskap van die kruis van Christus vir ’n mens verlossing bring, en vrede met God, en ’n nuwe lewe.
  • Toe ontdek en ontmoet hy vir Christus self!
  • En hoe sê Paulus nou weer van Christus?
  • Hy sê: Christus is die krag van God en die wysheid van God.
  • Vir die Jood in ons video was Jesus nie op die regte manier ’n sterk figuur nie.
  • Hy wou nie ’n Messias hê wat aan ’n kruis sterf nie.
  • Maar vir die derde man, toe hy die boodskap aanvaar, en toe hy Christus aanvaar, toe ontdek hy: Christus is in werklikheid die krag van God self.
  • Vir die Griek van ons video weer was Christus en sy hele lewensverhaal, dwaasheid en onsin.
  • Dit het vir hom sleg afgesteek by die slim gedagtes van die Griekse filosowe.
  • Maar vir die derde man, toe hy die boodskap aanvaar, en toe hy Christus aanvaar, toe ontdek hy: Christus is ook die wysheid van God.

#  In die wêreld waarin ons leef, word sekere dinge gewoonlik baie hoog aangeslaan.

  • Dit is dinge soos mense se prestasies of hulle invloed of hulle rykdom.
  • Dit is dinge soos mense se geleerdheid of kundigheid.
  • En dit is dinge soos hierdie wat ons soms laat sê: Daardie man of vrou het dit darem ver gebring in die lewe.
  • Kyk net hoe suksesvol is hy of sy!
  • Maar nou kom Paulus vanoggend en hy waarsku ons.
  • Hy waarsku ons om nie met hierdie soort dinge, wat in die wêreld so hoog aangeslaan word, te spog nie.
  • Om nie daarop te vertrou en daarop te roem nie.
  • En wat Paulus sê, klop ook met Jeremia se woorde in Jer. 9: 23 en 24, waar hy sê: “So sê die Here: Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie. Laat hom wat wil roem, daarin roem dat hy insig het en My ken.”
  • En so het niemand van ons eintlik enigiets waarop ons voor God kan roem nie.
  • Ons het eintlik niks waarmee ons voor God kan spog nie.
  • En daarom sê Paulus heel eenvoudig hier in vers 31 wat ons gelees het: “Dié wat wil roem, moet in die Here roem.”
  • Of soos die Lewende Bybel dit stel: “As iemand wil spog, laat hom dan spog oor wat die Here gedoen het.”
  • En ons kan seker daarby sê: Laat hom spog of roem oor die boodskap van die kruis van Christus, want in die boodskap van die kruis hoor en sien ons wat God uit liefde vir ons almal gedoen het.

#  Die derde man in ons denkbeeldige video het die boodskap van die kruis aanvaar.

  • Vir die Jood was dit ’n aanstoot en vir die Griek was dit onsin.
  • Maar vir die derde man, en ook vir elkeen van ons wat dit in geloof aanvaar, is hierdie boodskap die krag van God.
  • Ja, Jesus Christus is self die krag en die wysheid van God.
  • Glo dit met u hele hart!
  • En mag u elke dag die krag en die wysheid van God ook duidelik in u eie lewe ervaar!
  • En mag hierdie krag en hierdie wysheid u help om ook elke dag te kan doen wat die Here wil hê dat u moet doen.
  • Met ander woorde: Om te kan glo, en te kan hoop, en te kan liefhê.
  • Maar dit alles deur die krag en die wysheid van God self.

AMEN

css.php