PREEK 31 JANUARIE 2021
MARK. 1:21-39 (31/1/21)
# Wat het Jesus hier op aarde kom doen?
- Waarvoor het Hy eintlik gekom?
- ’n Kort antwoord sou seker kon wees om te sê: Jesus het vir ons sonde kom sterf.
- Hy het gekom om ons Verlosser te wees deur sy lewe aan die kruis vir ons te kom verloor.
- En hierdie kort antwoord is natuurlik 100% reg en 100% Bybels.
- Maar as dit al is wat ons oor Jesus se koms na die aarde sou sê, sou ons daarmee nie genoeg sê oor wat Hy hier by ons kom doen het nie.
- Kyk maar bv. na die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het.
- Daarin word vir ons van ’n hele paar verskillende dinge vertel oor ’n sekere dag of 2 in Jesus se lewe.
- En selfs net hierdie kort snit uit Jesus se lewe werp eintlik vir ons ’n groot klomp lig op die vraag: Wat het Jesus hier op aarde kom doen?
- So, kom ons kyk of ons uit die gedeelte wat ons gelees het beter kan agterkom wat Jesus hier op aarde kom doen het.
# En ek wil begin by wat ons in vers 35 gelees het.
- Daar staan: “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Jesus opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid.”
- Hier sien ons hoe Jesus alles wat Hy kom doen het, in afhanklikheid van ons hemelse Vader kom doen het.
- Hy staan vroeg op.
- Hy soek stilte en eensaamheid op.
- En Hy bid tot die Vader, want dít wat Jesus op aarde kom doen het, het Hy as gestuurde van die Vader kom doen.
- Sy hele lewe op aarde was in gehoorsaamheid aan die opdrag wat die Vader spesifiek vir Hom gehad het.
- En Hy sou nie sy opdrag nie kon uitvoer as Hy dit nie in biddende afhanklikheid van die Vader gedoen het nie.
- So, Jesus word stil.
- En Jesus bid.
- En dit is reeds die begin van sy dagtaak.
- Vroeg in die oggend, toe dit nog nag was, sê Markus.
# Maar kom ons kyk dan verder na wat Jesus tipies sou doen soos die res van sy dag verloop het.
- Behalwe om sy dag te begin met ’n tyd van stilte en gebed, het Jesus ook mense geleer en onderrig.
- Ons het juis gelees hoe Hy op die Joodse sabbatdag na die sinagoge in Kapernaum gegaan het en die mense daar begin leer het.
- En Hy leer hulle met gesag.
- Hy doen dit op so ’n manier dat die mense verstom is daaroor.
- En hoewel Markus nie vir ons sê wat Jesus presies daar in die sinagoge gesê het nie, kan ons seker aanvaar dat Hy met die mense oor die koninkryk van God gepraat het.
- Met ander woorde: Oor hoe God besig is om as Koning in die wêreld te regeer.
- Net vroeër hier in Mark. 1 lees ons juis wat Jesus se boodskap was toe Hy vir die eerste keer begin preek het.
- Hy het toe vir die mense gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
- Dít was die inhoud van Jesus se boodskap: dat die koninkryk van God naby gekom het en dat mense hulle moet bekeer en dat hulle die goeie nuus dat God regtig Koning is, moet glo.
- En waar Jesus nou in die sinagoge in Kapernaum die mense geleer het, was dít heel waarskynlik ook die basiese inhoud van sy boodskap.
- Dalk het Jesus daar vir hulle iets gesê soos: Mense, van een ding wil Ek julle kom verseker, en dit is dat God regeer.
- God is Koning, al is daar soveel tekens in ons wêreld dat die duiwel aan die werk is.
- God is Koning, en deur bekering en geloof kan julle ook deel word van sy koninkryk.
- Dít is die goeie nuus wat Ek vir julle kom bring het: julle kan burgers word van God se koninkryk, want hierdie koninkryk het nou naby aan julle gekom!
- Glo dit en word deel daarvan.
# So, Jesus het die mense met groot gesag geleer, daar in die sinagoge in Kapernaum.
- En dít was dan ook ’n baie belangrike deel van wat Hy op aarde kom doen het.
- Hy het ons kom leer van God se koninkryk.
- Maar skielik was daar toe ’n dramatiese onderbreking van Jesus se preek, daar in die sinagoge in Kapernaum!
- ’n Man wat van ’n bose gees besete was, het uitgeskreeu: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”
- En toe die man dit so uitskreeu, moes Jesus eers stop met sy preek.
- Maar onmiddellik kom iets anders dan na vore.
- En dit is dat Jesus nie net preek nie, maar dat Hy ook iets doen aan die ongemaklike en moeilike situasie daar in die sinagoge.
- Jesus raas met die bose gees en dryf hom uit die man uit!
- En so demonstreer Jesus dan vir die mense daar by Hom dat God regtig Koning is en dat sy koninkryk regtig naby aan hulle gekom het.
- En Jesus wys dat die koninkryk nie net bestaan uit woorde nie, maar ook uit die krag van God waaraan selfs bose geeste hulle moet onderwerp.
- Jesus raas net met die bose gees, en hy verlaat die man onmiddellik.
# Maar nou, nog iets waarvan ons gelees het, nog iets uit ’n tipiese dag in Jesus se lewe.
- Nadat Jesus in die sinagoge was, gaan Hy saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas.
- Ons ken vir Simon eintlik beter as Petrus.
- En Petrus se skoonma lê siek in sy huis.
- Sy lê daar met ’n hoë koors.
- En toe Jesus daar aankom, word Hy dadelik van die probleem vertel.
- Hy gaan dan ook na die siek vrou toe, vat haar hand en help haar regop.
- En dadelik het die koors haar verlaat, en kon sy opstaan en die gaste bedien.
- En weer kon die mense rondom Jesus sien hoe Hy in die krag van die koninkryk opgetree het.
- Net soos dit die geval was by die uitdryf van die bose gees kort tevore, moet die siek vrou se koors ook nou wyk voor die krag van God se koninkryk.
- En dit laat dink my aan iemand wat gesê het: “Die koninkryk van God het drie vyande: Satan, sonde en siekte.”
- Al drie begin toevallig met ’n “s”!
- Maar dit is die drie groot vyande van God se koninkryk: Satan, sonde en siekte.
- En dan gaan die persoon wat hierdie drie vyande van die koninkryk so uitwys verder en hy sê: “In Jesus se preke en sy wonderwerke is Hy besig om God se koninkryk te laat deurdring en te laat sigbaar word teen hierdie drie vyande in.”
- So, in wat Jesus kom sê het, en in wat Hy kom doen het hier op aarde, het Hy vir ons iets kom wys van die krag van God se koninkryk.
- Het Hy iets van die krag van die koninkryk vir ons sigbaar kom maak.
- Ja, het Hy kom wys dat die koninkryk van God tot by ons gekom het!
# Maar kom ons stap nog verder saam met Markus deur ’n tipiese dag in Jesus se lewe.
- En nou is dit al aand!
- Na dit wat by die sinagoge gebeur het, en by Petrus se huis, is daar teen die einde van die dag nou ’n groot stormloop!
- Vers 32 wat ons gelees het, sê: “Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van duiwels was, na Jesus toe gebring.”
- Meteens het die hele dorpie se mense op een punt saamgedrom.
- Dié wat Jesus se hulp nodig gehad het, was blykbaar almal daar.
- En Jesus help dan ook almal wat sy hulp so nodig het.
- Hy bevry op daardie aand ’n klomp mense van die vyande van God se koninkryk, met ander woorde van siektes en bose geeste.
- En so maak Jesus dit vir hulle moontlik om die lewe weer te kan geniet, vry van siekte en vry van die mag van bose geeste.
- En op hierdie punt kan ’n mens ook nie anders as om te dink aan Jesus se ontsaglike groot liefde vir mense in nood, waarvan ons oral in die Bybel lees, nie.
- Jesus is dikwels bewoë wanneer Hy sien hoe swaar mense kry as gevolg van die vyande van God se koninkryk, as Hy sien hoe moeilik hulle dit het as gevolg van Satan, sonde en siekte.
- En oral waar Jesus mense so sien swaarkry het, sê die Bybel vir ons, het Hy hierdie vyande uit hulle lewens verdryf.
- En uiteindelik was dit toe ook om met hierdie vyande af te reken dat Jesus aan die kruis op Golgota gesterf het.
- Dat Hy met sy bloed betaal het: om met Satan, sonde en siekte af te reken.
# Die dag of twee in Jesus se lewe waarvan Markus ons vanoggend vertel, wys vir ons hoe Jesus God se koninkryk tot by ons gebring het.
- Dit wys vir ons hoe Jesus se woorde en sy dade ons wil herinner: God is Koning!
- Hy regeer en sy koninkryk is besig om hier op die aarde deur te breek, selfs al is Satan, sonde en siekte ook nog steeds met ons.
- Ja, God se koninkryk is besig om oral deur te breek, ook hier waar ons vanoggend in die Paarl bymekaar is en oral waar ons in die week wat voorlê gaan wees.
- En as ons vra: Maar hoe sien ’n mens die koninkryk deurbreek? dan moet ons sê: Ons sien dit baie keer in klein dingetjies gebeur.
- Daar waar iemand bv. bereid is om ’n ander te vergewe.
- Of daar waar iemand kies om liefde te betoon eerder as om te haat of te vergeld.
- Of daar waar iemand se hart en hand oopgaan vir ’n behoeftige persoon se nood.
- Of daar waar ’n verwaarloosde kind of ’n mishandelde vrou dalk die nodige hulp ontvang.
- Die koninkryk van God breek oral deur waar Satan, sonde en siekte oorwin word, al is dit baie keer maar nog net op ’n heel klein skaal.
# En nou, baie belangrik: Waar die koninkryk deurbreek, ontvang ons as gelowiges ’n wonderlike geskenk daarmee saam.
- Ons ontvang hoop en redding!
- In een van die bekende liedere in ons liedboek sing ons só daaroor: “U Seun word mens; in ons gebroke wêreld kom vestig Hy sy koningsheerskappy. Hy maak weer heel wat sonde hier gebreek het. Hy bring weer hoop en redding – ook vir my.”
- Dat Jesus die koninkryk tot by ons gebring het, dit maak die grootste verskil aan ons lewens!
- Dit maak die verskil tussen hoop en wanhoop, en tussen redding en verlorenheid.
- Dit maak dat ons ook hier vroeg in 2021 kan sê: Ja, die omstandighede in ons land en dalk in my eie lewe, lyk glad nie goed nie.
- Die probleme en die uitdagings lyk net te groot.
- Maar ek leef met die hoop van God se koninkryk in my hart.
- Jesus het ook vir my hoop en redding gebring!
- En niks kan dít van my wegneem nie!
# Ons het vanoggend, met Markus se hulp, ’n bietjie beter probeer verstaan wat Jesus hier op aarde kom doen het.
- Maar nou moet ons ook nog vra: Wat verwag Jesus nou van ons?
- Hoe moet ons antwoord op wat Jesus kom sê en kom doen het hier op aarde?
- En ek dink die 3 baie bekende dinge wat Paulus in 1 Kor. 13 so in een asem noem, is vir ons ’n sleutel.
- Dit is geloof, hoop en liefde.
- Die Here verwag van ons geloof, hoop en liefde.
- Geloof dat Jesus wel die koninkryk tot by ons gebring het.
- En hoop, wat beteken dat ons bly vertrou dat God in ons wêreld regeer.
- En liefde – die praktiese uitleef van Jesus se liefde teenoor alle mense, en veral teenoor hulle wat in nood verkeer.
- Mag ons lewens elke dag aan God se koninkryk help bou – al is dit ook net met klein bietjies geloof en hoop en liefde.
AMEN
