Gen 37:1-11,18-36 - "Drome vs Realiteit"
Votum/seëngroet:
Nog altyd het die God van Abraham, Isak en Jakob, die Verbondsgod, die Een wat ons ken as die Vader van ons Here Jesus Christus, aan sy mense belowe dat Hy hulle gekies het, dat Hy by hulle teenwoordig sal wees, dat Hy hulle sal red en laat behoue bly en dat Hy hulle eendag sal tuis bring.
Gebed:
Here, bind ons saam in u liefde; maak ons bewus van al u kinders wat ook vandag tot U nader. Kom ontmoet ons binne hierdie harde realiteit waarin ons onsself deesdae bevind en laat u droom weer in ons nuut gebore word. Amen
Skriflesing: Gen 37: 1-11, 18-36
Preek:
Die hele ketting van gebeure word aan die gang gesit met ’n droom. Eintlik streng gesproke seker twee drome, maar in beginsel dieselfde – so vergesog dat ’n mens nooit dink dat dit enige-iets met die werklikheid te make het nie, maar tog… As ’n mens Genesis lees, kom jy agter dat drome in daardie ou wêreld gesien is as Poorte na die goddelike dimensie. Alhoewel Josef eintlik die hoofkarakter in die storie is (tot en met die einde van Gen) word hierdie gedeelte vir ons aangebied as die “familiegeskiedenis van Jakob”. Hyself is bekend met betenisvolle drome – dink maar aan die daardie vlugnagervaring van hom met sy kop op die klip, en die engele wat op die leer op en af klim wat sou vorm gee aan sy lewenstorie. God wat daar sy verbond met Abraham aan Jakob oordra, belowe dat Hy altyd by hom sal wees, hom sal beskerm en sal terugbring na hierdie land.
Dit is die droom wat die reeds afgunstige broers tot by die punt bring waar hulle ’n moordkomplot teenoor hulle broer smee. Almal se lewens word ingrypend verander. Die broers vermoor hom uiteindelik nie, maar hulle verkoop hulle eie broer en word bedrieërs wat sekerlik opgevreet sou word deur skuldgevoelens oor hulle troostelose ou vader. Vir die bejaarde Jakob word sy lewe ’n donker hel van verlies oor sy geliefde seun en die sewentienjarige Josef word ’n slaaf.
Die manier hoe die hele Josefstorie vertel word – terloops gesien as een van die mooiste stories van alle tye – wil die storieskrywer ons duidelik lei om in te sien dat die droom, stil en onsigbaar in die nag, die onwrigtende werk van die Here self is. Die droom vat sy eie pad. Maar hoe werk dit? Hoe gebeur dit dat God tog sy beloftes waar maak, teenwoordig is en sy mense uitbring by sy voorkeurtoekoms. Ek is ’n bietjie versigtig om te praat van die raadsplan van God – dit klink so ’n bietjie of Hy alle toutjies trek en dit kan Hom aandadig maak aan al die verkriklike dinge waartoe mense in staat is.
Maar hoe God tog, deur alle menslike ompaaie, steeds sy groot droom/doel laat realiseer, is net so misterieus soos die oorsaak en betekenis van drome self. Feitlik elke liewe tema en mislukking wat deel uitmaak van ons aardse gestoei kom in hierdie storie na vore.
Voel die storie van die familiedinamiek nie ’n bietjie soos ons elkeen se lewenstorie nie? Die jongste is die witbroodjie en word skaamteloos voorgetrek wat natuurlik lei tot afguns van die ouer broers. Almal is op ’n manier skuldig en tog sou almal hulself ook sekerlik so graag wil verontskuldig. Gryse ou Jakob sal sekerlik wil verduidelik aan almal wat wil luister dat dit darem tog seker te verstane is dat hy ’n spesiale plekkie in sy hart het vir sy amper-jongste wat in sy oudag vir hom gegee is; en dit is mos darem nie dat hy sy ander kinders afskeep nie, hy doen net so ’n bietjie meer vir Josef.
En die broers sou sekerlik wil redeneer dat hulle jaloesie heeltemal geregverdig is – wie kan so ’n blatante voortrekkery uitstaan – en dan word dit nog ingevryf deur strorie-aandraery en ongelooflike arrogante drome. En ten spyte van hulle moordgedagtes het hulle vir Josef “net” as ’n slaaf verkoop.
En Josef: wie kan dan nou so ’n bietjie van ’n chip op hulle skouer hê as hulle van kleins af voorgetrek word nie – dit is tog nie jou skuld nie? Hy het tog net die drome oorvertel – niks daarby bedoel nie. En sekerlik het hy nie verdien om deur sy eie broers aan slawehandelaars verkoop te word nie!
Ons sien in hierdie familie ook die temas van bedrog en groepsdruk – hoe selfs die wat probeer soek het na die meer morele opsies (dink Ruben en in ’n mindere geval Juda), nie hulle hande heeltemal kon skoonhou nie.
Familiebande… een van die kosbaarste geskenke op aarde en die plek waar ons almal sekerlik al die seerste gekry het. Hoe werk God daarin en daardeur in jou en my lewe? Hoe realiseer sy droom, sy voorkeurtoekoms ook hier, deur al die menslike mislukkings?
In die drome self kom ook die tema van mag en eintlik maar politiek ter sprake. Sy broers maak dadelik die konneksie: Dink jy dat jy, wat die jongste is, oor ons as jou ouer broers sal regeer, ons koning sal word?! – die wêreld werk eenvoudig nie so nie boetie – en iemand wat dink dat die status quo op so manier omverwergewerp kan word moet dadelik – en met geweld op hulle plek gesit word.
Is dit nie maar in kort ’n samevatting van die politieke spel tot vandag toe nie? In hierdie droom lê ook alreeds die bekendstelling aan die heel belangrikste tema in Israel se geskiedenis: Josef sou wel eintlik self ’n klein Farao word en sy familie red van hongersnood, maar uiteindelik sou dit ook lei tot sy nageslag wat slawe sou word in Egipte en uiteindelik, na jare en met groot moeite, daar bevry sou word en selfbeskikking sou kry.
Deur al die donker gange van die politiek, deur al die eeue tot nou, tot hier by ons, deur al die gruwelike magsmisbruik, leuens, korrupsie, toesmeerdery, verdagmakery, hoe werk God daarin en daardeur? Hoe realiseer sy droom, sy voorkeurtoekoms – en kan die mense van sy koninkryk, nog die droom lewendig hou en leef – hierdie alternatief van liefde, vrede en geregtigheid verteenwoordig in hierdie wêreld?
Soos die storie sal ontvou tot aan die einde van Genesis en verder, sal ons nog lees van wellus (Potifar se vrou), van natuurrampe (die hongersnood), van onreg in die regstels, van baantjies vir boeties en van siektes en plae.
En tog, ten spyte hiervan, bly Israel se Verbondsgod op een of ander manier die outeur van die storie. Soos ons eie drome ons herinner aan die dieper dimensies van die lewe, so bly God se groot droom, die omvattende vrede, verlossing en uiteindelik nuwe skepping waar God alles in almal sal wees, ons nooi en ontwrig.
Soms is die idee en die beloftes daarvan vir ons net so ontwykend, so absurd en so vergesog soos ons drome; maar soms is dit ook net so werklikheid dat ons seker is ons is regtig daar, ons is regtig deel daarvan. God se nuwe wêreld is aan die kom en ons is deel daarvan, Jesus Christus is Here en sit aan die regterhand van God en al sy grootste beloftes sal realiseer.
God se droom wat deur Josef gekom het sou jare neem om te realiseer. Drome neem tyd. Maar deur elke afdraapaadjie en deur elke Menslike mislukking is God daar. Altyd teenwoordig en altyd aan die werk. Sodat sy mense kan bly droom – kan bly glo dat dinge wat onmoontlik lyk nie by God onmoontlik is nie. Sodat sy mense kan bly glo ’n beter toekoms sal gebeur en daarom is ’n beter hede moontlik.
God se dromers weet, dat die status quo nie die laaste sê het nie, maar dat die wat bly glo, die wat rein van hart is, God en sy koninkryk sal sien. En meer nog: hulle sal dit in hulle eie lewe ontdek en hulle sal deelneem aan die realisering daarvan. Amen.
Gebed:
In hierdie wêreld van harde realiteite, Here, maak ons die mense wat genoeg droom sodat ons ook daadwerklik iets sal doen… omdat ons meer glo in U beloftes en u koninkryk as die status quo van hierdie wêreld daarom, Here die woorde van lied 284..
Laat Heer u vrede deur my vloei
Waar haat is, laat ek daar u vrede bring
Laat ek en pyn en smart vertroostend wees
En krag gee deur geloof in U o Heer
Laat ek hoop gee waar daar twyfel is
Ek wil U lig in duisternis laat skyn
Laat ware vreugde altyd uit my straal
Amen
Dankoffers:
Soos wat jy gee, of dit geld is of tyd, of sorg aan die gemeente of op ander maniere, mag jy al hoe meer vreugde daarin vind…
Seën (en daarna sing ons die Amen):
