28 Junie 2020: "Hy hou ons in spanning..." – Mat 10:40-42

Votum:

“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Skriflesing:

Mat 10:42-11:1

Preek:

Ons het die afgelope twee sondae tyd spandeer aan Jesus se groot sendingpreek in Mat 9 en 10 wat ons konfronteer met die vraag of ons besef watter groot voorreg en verantwoordelikheid dit is om Jesus te verteenwoordig in hierdie wêreld. Ons ken ons eie defaults (verstekopsies!) – ons weet ons probeer onssself beskerm binne in ons eie bevoorregte en veilige gemaksone-bubble.

Jesus se sendingpreek begin by sy binneste wat in beroering kom vir die skares mense wat hulpeloos en moeg is, soos skape sonder ’n Herder – en Hy wat by sy dissipels pleit dat hulle moet bid dat daar arbeiders sal wees vir God se oes.

Maar dan rus Hy hulle ook toe met sy gesag en gawes om, net soos Hy die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig, om die bose te oorwin en om genesing te bring. Hulle het dit verniet ontvang, so hulle moet dit ook verniet deel.

Maar, soos Mardi ook vir ons laasweek uitgewys het, Jesus is baie reguit en duidelik oor hoe kwesbare pad dit gaan wees. Daar word van jou verwag om jou menslike sekuriteite (in Jesus se uitstuur van die apostels verteenwoordig deur dinge soos beursies en reissake) agter te laat en op Hom alleen te vertrou.

Sy gesante is soos skape tussen wolwe. Is dit nie ’n grafiese beeld nie? Hulle sal ook teenstand kry en vervolg word. In openbare ruimtes: “Voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My (10:18).” Maar ook in baie persoonlike ruimtes: “Die een broer sal die ander broer uitlewer om doodgemaak te word (Mat 10:21)” en “ ’n Man se huismense sal sy vyande wees (10:36). Ons is Jesus se leerlinge, en as hulle die Leermeester so behandel, sal dit nie beter gaan met die leerlinge nie (10:24-25).  Daar wag konflik, want die koninkryk van die donker kom in opstand teen die koninkryk van die lig.

Dit is van Jesus se regtuitste en hardste woorde. Dit laat ’n mens terugdeins en jy wil eintlik ’n so vinnig as moontlik daar verby lees om by meer troosvolle en sagter gedeeltes uit te kom. Maar die kruis is hard. Jesus s’n en ons s’n. En Jesus verwag van ons om ons s’n op te neem net soos Hy syne opgeneem het. En mens wonder onwillekeurig of Jesus dit regtig so moeilik moet maak…

As ’n mens eerlik is oor Jesus, dat moet jy erken, Hy hou ons die heeltyd in spanning. Ons word aangetrek en afgestoot. Tydens my studies so twee jaar terug, het ek die voorreg gehad om die wonderlike Metodis en skrywer Trevor Hudson te leer ken; en ’n staaltjie wat  hy oor sy vrou vertel het sal my altyd bybly. Na ’n stilretreat van 3 weke waarop sy vrou gegaan het in ’n baie moeilike tyd van haar lewe, het hy haar gevra wat met haar gebeur het en hoe sy dit beleef het. En sy het geantwoord: “Dit was asof ek na Jesus toe gehardloop het so vinnig soos ek kon, terwyl ek skree, los my uit los my uit!” En die bekende Engelse skrywer GK Chesterton het gesê: “The Christian ideal has not been tried and found wanting. It has been found difficult; and left untried.”

Of soos Jesus self gesê het, “Nie elkeen wat vir my sê Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net Hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.” (Mat 7:21) Het ons al regtig probeer of val ons in die “Here, Here” kategorie? Die uitdaging wat Jesus aan ons voorhou, is inderdaad groot. Maar wat is die logika van Jesus? Hoekom verwag Hy hierdie lewenswyse van ons? En as ek praat van logika, dan bedoel ek nie iets abstrak nie, maar iets baie konkreet: iets wat Hy prakties voorgeleef het en wat ook iets baie prakties van ons vra. Hy het sy kruis opgeneem en sy lewe gegee en Hy verwag dieselfde van ons, want, so klink sy argument, Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar Hy wat sy lewe ter wille van my verloor, sal dit vind (10:39).

Die vraag is nie of ons verstaan hoekom dit so moet wees of selfs of jy dit verstaan nie; die vraag is jy Jesus glo; of jy Hom genoeg vertrou en of jy bereid is om die waarheid van hierdie woorde van Jesus te aanvaar.

Want, as jy nader kom en bereid is om Jesus se uitnodiging te aanvaar, sal jy ontdek Hy is nie ’n harde heerser nie, maar ons sagmoedige Koning (11:28-30). Hy stel ons bekend aan sy Vader wat selfs sorg vir die mossies en ons so goed ken dat die hare op ons koppe getel is. Hy wil nie hê dat ons moet bang wees nie. Hy beskryf Homself as sagmoedig en nederig van hart – ek weet nie hoe dit werk nie, maar dit is hoe sy volgelinge dit beleef – die kruis is hard, maar Jesus se juk is sag en sy las is lig. Dit kan net wees omdat Hy dit self help dra, en omdat daar in ons dood, in die aflê van ons lewe, klaar die belofte van nuwe lewe is, net soos in syne.

Daarom kan Jesus hierdie sendingpreek van Hom afsluit met hierdie woorde van vanoggend waar ons, sy verteenwoordigers in hierdie wêreld, so direk met Hom en sy Vader geassosiëer word: “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.” Na die eerlikheid oor hoe uitgelewer ons gaan wees as Jesus se volgelinge, hoor ons ses keer (in die Grieks en 8 keer in die Afr) – die woord “ontvang” (dechomai – wat ook verwelkom kan beteken). Ons gee ons lewe op om dit te vind. Ons gee ons aardse huis en skatte op, vir ’n ewige woning en skatte in die hemel. Ons gee ons ou familiebande op, om deel te raak van ’n nuwe, ewige familie wat alle grense oorskrei, die huisgesin van God. Saam deel ons, nou en vir altyd, in die oonmeetbare skatte, die liefde, die vreugde, die heerlikheid van God se koninkryk.

Nou wat beteken dit alles vir my en jou vandag, onder die omstandighede wat ons nou beleef. Ek kan dit onmoontlik alles vir jou uitspel, dit is net te persoonlik en die reikwydte is net te groot. Maar ek hoop, ek bid, dat jy ten minste sal besef dat Jesus self voor jou kom staan en jou uitnooi om ten minste te probeer; om by wyse van spreke, die rusbank te verlaat. As ons gestroop word van ou sekuriteite, dan bied dit altyd vir ons geleentheid om weer nuut na Hom te luister. Wat het jy geleer oor die dinge waarop jy jou lewe gebou het wat nou begin wankel? Wat moet jy laat gaan ter wille van volle vertroue en oorgawe aan Hom?

En mag ons weer besef; ons is saam in hierdie ding; die eerste, belangrikste en grootste geskenk wat God aan ons gee, is mekaar: my mede-gelowiges. Hulle word Jesus vir my; die bevestiging dat ek nie hoef bang te wees nie, want ek sal nie tekort skiet nie; ek sal nie kortkom aan ondersteuning en sorg nie, fisies, geestelik of emosioneel. Saam groei ons in die wete, ons deel in God se oorvloed, daar is genoeg, daar is meer as genoeg, genoeg sorg, liefde en fisiese middele vir almal; ook ons vyande kan verander word in vriende, ook hulle kan mense word wat ons innooi om te kom deel in dit wat ook ons verniet ontvang het.

Wie is nou, die skare voor ons, wat moeg en hulpeloos is? Wie is die mense “van die klein dorpies en plekkies”? Wat beteken dit om arbeiders te wees in God se oes? Met wie met ons God se vrede en genesing deel? Waar moet ons die mag van die bose bestry? Wie is die geringstes? Dit kan tog nie net die mense wees van wie ek hou nie? Dit kan tog nie net die mense wees wat soos ek lyk en praat en dink nie? Dit kan tog sekerlik nie die mense wees wat die voorregte en status het om my te kan terugbetaal nie, of hoe?

Jesus vra ons reguit in hierdie dae of ons bereid is om Hom te vertrou, Hom op sy Woord te neem, ons kruise op te neem en Hom te volg, sodat ons ons ware lewens, wat verborge is in Hom, kan vind. Wil jy vandag “ja” sê? Amen.

 

css.php