Geloofsgewoonte 7 - Vas
(Byt) Vas vir 24 uur
Ons is nou by die voorlaaste geloofsgewoonte wat ons help om God en ons naaste lief te hê, maw om Jesus te volg.
Die Bybel praat om baie plekke oor vas – om jou te othou van iets. En tog, tog is dit iets wat ons in ons tyd min oor praat en doen.
Om te kan eet en te kan drink is ‘n gawe van God. Maar ons as mens het kos en drank losgemaak van ‘n gawe van God en dit selfs in die plek van God soms gestel. Om dus te vas, 11
help ons om weer onsself te herinner aan ons afhanklikheid van God en ook aan die wonderlike gawes wat ons elke dag ontvang. So stel Deut 8:3 dit:
“Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom”.
Maar meer as dit: As ons vas, besef ons ook van die lyding wat baie mense in die wêreld beleef en verlang ons weer vir uitkoms en verlossing in baie areas. Uiteindelik verlang ons ook deur vas uit na die bruilofsmaal van die Lam.
Wat gebeur met my as ek vas? Wel, jy raak honger of beleef een of ander behoefte, ‘n leegheid van ‘n aard. Dus nie ‘n maklike ervaring nie. Dis ook dan wanneer jy jouself beter leer ken. Soms ontwikkel jy ‘n geïrriteerdheid of ongeduld met ander. Nie lekker nie. En tog is dit goed om jouself te leer ken soos jy is. As jy dan ook meer tyd aan gebed en stiltetyd gee, bring dit dikwels ook ‘n diepte wat jy andersins nie beleef nie – jy staan as’t ware meer ontbloot voor die Here. Dikwels sien ons God ook beter raak in sulke tye. Maar ons sien ook die wêreld en die mense van die wêreld op ‘n nuwe manier raak – ek ontdek dat ek hier is om mense lief te hê. By die honger of gemis, kom daar ‘n soort helderheid rondom die werklikheid waarin ons leef. Meer as dit, ons ontwikkel ook ‘n groter openheid vir Christus in ons lewens. Ons beleef dikwels deur vas ook ‘n groter bewustheid van Jesus se lyding vir ons. Dit beleef ons moeilik as ons genoeg van alles het. Ook ontwikkel ons ook ‘n dankbaarheid vir die klein dingetjies en ander gawes in die lewe wat sonder vas maar net by ons verby sal gaan.
Kom ons vat saam:
Kies iets om van te vas.
Gewoonlik is vas van kos ‘n goeie opsie. Maar vir jou kan dit dalk iets wees soos suiker of alkohol, kaffeine, sosiale media, TV, internet of iets anders.
Sononder tot sononder.
Gewoonlik werk dit goed om te begin na ‘n middagete en dan weer die volgende aandete te eet. Maar elkeen kies sy/haar eie ritme en tyd.
Begin eers met een ete.
As 24 uur vir jou baie moeilik is, begin eers om net een ete te los vir die week. Vervang dit bv met ‘n tyd van gebed. Soos wat jy dit meer haalbaar vind, so skuif jy aan.
Gesamentlike vas
As daar ‘n gemeenskaplike saak is om bv voor te vas, help dit baie om as ‘n groep te vas (bv ‘n Omgeegroep) en dan julle ervarings met mekaar te deel en mekaar te bemoedig.
Vervang die vas met gebed
Om net nie te eet nie, is goed maar om in daardie tyd bv te bid, gee nog meer betekenis aan jou tyd van vas.
Langer tye van vas
As jy vind dat dit jou help om te vas, kan jy by geleentheid dit ook oorweeg om vir langer tye te vas.
Mag jy ook deur vas die liefde en teenwoordigheid van ons Here meer en meer beleef om dit sodoende ook te kan uitleef.
