Geloofsgewoonte 5 - 'n Maatjie vir 'n praatjie
‘n Raamwerk vir liefde
(‘n Verwerking van die boek “The Common Rule. Habits of purpose for an age of distraction” van Justin Whitmel Earley)
Hierdie is ‘n samevatting en verwerking van die boek vir die gebruik deur kleingroepe of individuele gebruik.
Inleiding: Gewoontes vorm jou lewe
Ons streef ons lewe lank daarna om gelukkig te wees. Hoor wat sê Jesus:
Joh 10:10 ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat h(j)ulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Maar die werklikheid is dikwels: hoe meer ons na geluk streef, hoe ongelukkiger raak ons dikwels. Ons sien dit veral in die gewoontes (habits) van ons lewens. Hoe vang ons onsself nie baie kere dat ons (as ons terugkyk) daagliks dinge doen en dink wat ons ongelukkig maak, maar moeilik daaruit breek omdat dit ‘n gewoonte geword het in ons lewens. So stel Earley dit:
“We are living according to a specific regimen of habits, and those habits shape most of our life.”
Dinge wat ons later oor en oor doen sonder dat ons dink en selfs bewus is daarvan. So veel as 40% van wat ons elke dag doen, spruit nie uit besluite wat ons bewustelik neem nie, maar uit gewoonte. En dit is eintlik die dinge wat bepaal watter lewe ek en jy leef, ongeag ons begeerte om reg en gelukkig te lewe. As ek en jy nie self besluit watter gewoontes ons gaan aanleer en uitleef nie, gaan ander mense en die omgewing en ons sondige aard ons gewoontes vorm. En dan doen ons gewoonlik die kwade wat ons nie wil as kind van die Here nie (om Paulus aan te haal). Dink ‘n bietjie aan jou dagprogram verlede week; hoeveel ure jy aan jou familie om jou bestee het, aan stilraak voor die Here, aan jou selfoon of internetgebruik en ure voor Netflix. Daar is min van dié dinge wat ons ge-oefen het om te doen – “dit kom vanself.”
En tog, tog wil ons gelukkig wees. Op een of ander manier kry ons dit nie reg nie omdat ons gewoontes ook ons harte rig en ons lewens vorm. As ons dus nie daaroor beheer uitoefen nie, leef ons eenvoudig stroomaf na die waterval van ongeluk. As ons nie beheer neem van ons gewoontes nie, sal hulle self ons vorm, selfs sonder dat ons daarvan bewus is.
Soms verbeel ons onsself dat ons gelukkig sal wees as ons vry is – vry om te doen wat ek wil, om te gaan waar ek wil, om te kry wat ek wil hê. Hoor wat sê Early daarvan:
“But what if the good life doesn’t come from having the ability to do what we want but from having the ability to do what we were made for? What if true freedom comes from choosing the right limitations, not avoiding all limitations?”
Ware vryheid bestaan net binne die regte beperkings. Ons het dus grense nodig om werklik gelukkig te wees en die lewe te leef wat Jesus bedoel het ons moet leef. Maar ons maak ‘n fout as ons dink geluk is altyd maklik. Jesus stel vir ons die voorbeeld: Hy, wat God is, verneder Homself om mens te word en te sterf aan die kruis. Hoekom? Liefde. Hy wat alle vryheid het, kies die beperkings van die aardse omdat Hy ons liefhet. Dit laat ons verstaan dat ware geluk ook nie moontlik is as dit nie liefde is nie. Om liefde te beleef en uit te leef, is nie in ons vanself nie. Daarom is die boek se naam “The Common Rule”, maar dan nie ‘n reël soos in mag en mag-nie’s nie. Dis reëls wat ons help om die lewe te leef en te beleef soos Jesus dit bedoel het. Hy wys dan daarop dat die woord “reël” in Latyn eintlik ‘n raamwerk (Engels: “trellis”) beteken, soos ‘n raamwerk waarteen plante rank en groei. En soos plante dit nodig het om lig te ontvang en te groei en elke rank nie in sy eie rigting moet groei nie, so het ons ook ‘n raamwerk nodig in ons lewens om die belangrikste opdrag van Jesus na te kom: Om die Here en ons naaste met alles lief te hê. Dit is die doel van ons lewens en alleen as ons dit begin regkry, sal ons ook gelukkig wees. Die raamwerk, noem ons geloofsgewoontes. Dit is oor die aanleer van sulke gewoontes waaroor dit hier gaan. Goeie voornemens alleen gaan ons nie daar kry nie. So stel Early dit:
“Only when your habits are contructed to match your worldview do you become someone who doesn’t just know about God and neighbor but someone who actually loves God and neighbor.”
The Common Rule gaan oor gewone dinge vir gewone mense. Dit gaan oor die gewone dinge waarmee ons gewone mense elke dag besig is.
Gewoontes neem tyd om te vorm
Normaalweg word ‘n gewoonte gevorm wanneer ‘n mens dit vir ten minste 3 weke lank beoefen. Ons gaan onsself dus ten minste ‘n maand kans gee om dit te oefen. Dit help ons ook om aan te pas by ‘n nuwe manier van lewe ten opsigte van daardie gewoonte.
Die beste manier om dit te doen, is om dit saam met iemand te doen. Daarom wil ek jou aanmoedig om dit as ‘n omgeegroep saam aan te pak (indien nodig, gesels oor die foon met mekaar) of saam met jou huweliksmaat of gesin of deur self iemand of mense te kies om dit saam mee aan te pak. Dit help ons sodat ons teenoor iemand of ‘n groep verantwoordelik gehou word – soos om saam fiksheidoefeninge te doen.
Ons gaan ook onsself kans gee om te “oefen” om sodoende te kan besluit waarvoor ons kans sien.
Dis nie ‘n nuwe wet nie
Onthou: Geloofsgewoontes is daar om jou te help om op ‘n nuwe manier die lewe as goed te beleef. Dit is nie bedoel om jou lewe swaarder te maak nie. As jy net een of twee eers wil probeer: reg so!
‘n Vinnige oorsig
Early maak ‘n onderskeid tussen daaglikse gewoontes en weeklikse gewoontes.
Daaglikse gewoontes:
- Kniel-gebede 3 maal per dag.
- Een ete met ander.
- Een uur foon AF.
- Bybel vóór Foon.
Weeklikse gewoontes:
- Een uur gesels met ‘n vriend.
- Beperk sosiale media tot 4 uur.
- Vas 24-uur van iets.
- Hou Sabbat.
Al die gewoontes is daarop gemik om liefde vir God en liefde vir jou naaste aan te help.
Ons gaan nou die daaglikse gewoontes begin oefen: 1 per week. Aan die einde van die week sal dit goed wees as julle as omgeegroep (of jou vriende wat jy hiervoor gekies het) met mekaar deel hoe julle dit gevind het. Ek sal ook dankbaar wees as julle dit vir my sal stuur by 0836557930 (Schalk Kotzé) deur jou ervarings kortliks te sms of te whatsapp. En sal dit graag (annoniem) op die groter groep wil deel sodat ons sodoende mekaar kan ondersteun.
DAAGLIKSE GEWOONTES
- Kniel-gebede 3 maal per dag.
Woorde speel so ‘n belangrike rol in ons lewens. Byna niks begin as daar nie eers ‘n paar woorde daaroor met mekaar gebreek is nie. As ons ons dag wil reg afskop, moet dit ook met die regte woorde begin: Ons woorde in gebed met ons Vader in die hemel. So het God die aarde laat ontstaan deur woorde te spreek. Dit is soos Johannes (hoofstuk 1) Jesus ook beskryf: Die Woord. En alles het deur die Woord ontstaan.
“The essence of all these prayers is to stand alongside God and speak order and love into a world that needs it.”
As jy jou selfoon toelaat om die eerste woorde van die dag te spreek, sal “sy/hy” of die mense wat dit stuur, jou dag rig. (Dit kan die nuus wees, ‘n e-pos, whatsapp of sms bv.)
Reg. Hoe doen ons dit?
Oggendgebed:
Hy beveel aan dan ‘n mens die dag begin deur te kniel en jou oggendgebed te bid. Dit help jou om meer bewustelik jou afhanklikheid van God te erken en te beleef. As jy nie kan kniel nie, draai dan net die palms van jou hande na bo terwyl jy bid. Hierdie gebed gaan dan hoofsaaklik daaroor om God te dank vir sy liefde en genade en sorg. Sorg ook dat jou foon jou nie tydens die tydjie steur nie. Dit kan maar ‘n kort gebed wees maar dit plaas jou dag in die regte “raam”. Dit kan woorde wees soos: “Here, gee my asb net krag vir hierdie dag.” Of “Here, U weet hoe bekommerd ek is oor die vergadering wat voorlê. Help my om goeie besluite te neem.” Dalk het jy goed geslaap: “Here, wat ‘n lieflike oggend! Dankie dat U vir my sorg. Help my om ander so lief te hê soos wat U my liefhet.” Mense wat soggens vroeg werk toe ry, kan bv die gebed bid net voor jy die motor aansit of selfs op jou pad (oop oë asb!).
Middaggebed:
Dit is belangrik om ook deur die dag bewus te wees van God en my doel op aarde. Daarom doen ons ook ‘n kort middaggebed; ook op my knieë as dit moontlik is. So maklik kan die daaglikse besigwees en probleme God uit my gedagtes skuif. Die kort middaggebed help my net weer op Hom fokus. Dit kan ‘n kort belydenis wees, ‘n gebed vir ‘n kollega of ‘n moeilike situasie of ‘n besluit wat geneem moet word. Die middaggebed is ‘n rak waar ek my lewe net kan kom neersit en nuwe vrede ontvang. Jy kan dit doen in jou kantoor as jy net die deur vir ‘n oomblik toemaak. Of net ‘n minuut of twee wanneer jy op reis is en aftrek van die pad. In die kombuis – sit die kos vir ‘n klein rukkie op “laag” en buig net vir ‘n paar oomblikke langs ‘n sitkamerstoel. Op die plaas: Dalk sommer langs die bakkie op die een knie…
Aangebed:
Aan die einde van die dag is daar dikwels frustrasies van werk nie klaargekry nie, dinge wat verkeerd geloop het, verkeerde besluite ens. Dikwels ook ‘n tyd van verwyte. Sommige mense sal dan gou ‘n dop (of twee) vat en kyk wat is op TV of doelloos gly op jou selfoon … net om ontslae te raak van die moegheid en “onafgeid” van die lewe.
Dit is net hier waar die kort aangebed die dag ‘n goeie draai kan gee. Dalk eers na die skottelgoed gewas is en die kinders in die bed is. Dan “omraam” jy die dag op die regte manier. Dan kniel ek en sit God se punt van goedheid en genade agter die sin van my dag, hoe goed of sleg dit ook al was. Al voel jy nie baie “geestelik” nie, al weet jy nie eintlik wat om te sê nie of al sê jy dieselfde wat jy gisteraand gesê het (en die hele maand). Jy kom gee in jou eie woorde die dag oor aan ons Vader. Sy arms is sterk.
Gesamentlik:
Jy kan dié geloofsgewoonte ook saam met iemand doen (altyd of soms). Mense soos jou man of vrou of jou kinders of kollega by die werk.
- Eet saam
Om saam te eet, is meer as om net jou honger te stil. Wanneer ons saam eet, gebeur daar meer as net om gelyktydig kos en drank in te neem. Ons is so gemaak! Om saam te eet, herinner ons nie net hoe afhanlik ons van God is nie, maar ook van mekaar. Ons het mekaar nodig. As ons mekaar moet liefhê, is saam eet ‘n baie belangrike deel van ons omgee-lewe. En dit begin by saam eet as gesin. Jesus het dikwels sy bediening gesentreer rondom saam eet: By Levi en ander sondaars, toe Hy kos gegee het vir 1000de mense, die saamviering van die Paasmaaltyd, die troue by Kana…
Die “etenstafel” is ‘n baie belangrike aspek daarvan om jou naaste lief te hê. In dié tyd kan ons nie kuier by mekaar nie, maar ons kan sorg dat ons as huwelikspaar of gesin een ete saam rustig eet. Hier doen ons die “saam ding”. Ons help met die voorbereiding, eet saam, gee kos aan vir mekaar, bid saam, dek saam die tafel af en sorg saam (of om die beurt) vir die skottelgoed. Om die etenstafel verskil ons ook, raak kwaad vir mekaar en vergewe. Om die tafel gee ons komplimente, wys ons dankbaarheid, vertel stories en vra vrae. Dis ook die plek waar ons luister na mekaar en saam bid en lees uit die Bybel. Elke keer kom ons weer terug na die tafel, eet ons weer saam – elke dag.
Om ons naaste te lief te hê soos onsself, begin by ons eie familie en onder andere ook rondom een ete saam per dag. Maar daar bly dit nie. Om iemand buite die familie af en toe te nooi om saam te eet, is min moeite maar propvol liefdespotensiaal. Veral ook nuwe intrekkers en mense wat nog nie jou vriende is nie. (Ek besef dit sal moet wag tot na die grendeltyd).
Deur ook ongelowiges te nooi om by geleentheid saam te eet en dalk vriende te kan word, is ons besig om die Boodskap op ‘n manier te bring waar mense ons woorde nie meer hoor nie. ‘n Mens kan vinnig wegstap van ‘n argument of gesprek, maar nie van ‘n etenstafel nie.
Uiteindelik, aan die einde van die tye, hoor ons die Bybel so praat:
Luk 13:29 Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.
Is dit nie ook waarna ons uitsien as ons saam die Nagmaal gebruik nie?
Kom ons vat saam:
- Probeer, sovêr dit enigsins moontlik is, elke dag as egpaar of familie een ete saam eet by ‘n tafel (nie voor die TV nie). Kies ‘n ete wat julle die beste pas, sonder gejaagdheid.
- Nooi op ‘n gereelde basis ook bure of nie-vriende vir ete. (Vriende nooi mens vanself!)
- By die werk: Nooi kollega’s of ander personeel om (wanneer julle ‘n ete eet) dit saam te doen. Al is dit net elkeen sy/haar eie kos soos ‘n gekookte eier of toebies. Dis ook maklik om vir iemand wat alleen is of eenkant is te nooi om sommer sy kosblik te bring en saam te eet.
- Foon-een-uur af
Die een enkele ding wat ons lewens deesdae baie help, maar ook kan vernietig, is ons selfoon. Dit is soos ‘n skaduwee by ons en maak dat ons nooit op een plek alleen kan wees nie. Ek is gewoonlik by my stiltetyd én my foon, agter die stuurwiel én my foon, by my vrou én die foon, by my kinders én my foon, by my vriende én my foon. Selfs as jy met iemand oor die foon praat, is jy nie net daar nie; jy lees sommer boodskappe terwyl jy praat ook nog!
Een van die belangrikste voorwaardes vir ‘n lewe met God, is teenwoordigheid (presence). God is altyd by ons, maar ons nie altyd by Hom en ons naaste nie en die foon is een van die belangrikste redes daarvoor.
Daarom is die gewoonte van foon-een-uur-af bedoel om ten volle by ander en die Here teenwoordig te wees. Maar selfs om net jou foon op “silence” te sit, is nog nie dieselfde as om jou foon buite sig te hê en heeltemal af te sit nie. Daarom is dié gewoonte om jou foon vir 1 uur af te sit en op ‘n plek te sit waar niemand (ook nie jy nie) dit kan sien nie!
Dis nogals nie so maklik aan die begin nie. Jy kry so half ‘n “verlange” na jou foon! “Is daar nie dalk iemand wat my soek nie?” of “Dalk is daar ‘n belangrike boodskap op!” Dit mag wees dat jy ‘n boodskap gaan mis vir ‘n uur, maar dit is wat dit kos om een uur op ‘n ten volle teenwoordig te wees!
Dié gewoonte gaan ons help om te leer om teenwoordig te wees by mense (jou vrou, man, kinders, vriende en ook jouself…) maar ook by die Here.
Die skrywer van die boek sit sy foon ‘n uur af sodra hy van die werk by die huis kom, een uur by sy werk en nog ‘n uur vir stilte maar jy kies die tye wat jy sien dit die nodigste is.
Wanneer jy jou foon afsit, is jy besig om jou naaste lief te hê want dan gee jy aan hom/haar onverdeelde aandag. Om met volle aandag na mekaar te luister, is seker een van die wonderlikste maniere om mekaar lief te hê. As die foon af is, is dit moontlik. Maar meer as dit – jy beleef self ook tye van stilte wat so nodig is om God te hoor.
Kom ons vat saam:
As ons die Here en ons naaste en onsself wil liefhê, vra dit tyd en aandag. Vandag maak ons selfone dit baie moeilik. Daarom moet ons ‘n besluit neem om ons selfone te beheer en nie andersom nie. Die gewoonte van selfoon-een-uur-af help ons om in ‘n ritme te kom daarmee. Probeer dus elke dag om jou foon vir een uur AF te sit by die huis wanneer almal wakker is, een uur by die werk en een uur vir jouself.
- Lees vóór Loer
Dis verbasend hoeveel goed op jou selfoon kom sit as jy slaap! Die nuutste nuus, miljuisende whatsapps, hier en daar ‘n verdwaalde sms, lywige e-posse, dagboek, die weer en die ewige Facebook …. En waar kry jy ‘n nuuskieriger wese as die mens (dis nou ek en jy)? Daarom hoef niemand ons te leer om, as eerste beweging wanneer ek my eerste ooglid oopmaak, die foon te gryp nie.
Aristoteles het eeue gelede al geskryf: “Ons is dit wat ons by herhaling doen”. As jy eerste ding in die oggend jou foon gryp (foon = die wêreld buite jou) word jy die slaaf van die foon se “bevele”.
As gelowige weet ons dat ons elke dag God se kompaslesing moet neem en ons lewens daarvolgens rig.
Psalm 143:8 Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.
Ons identiteit lê in Christus en nie in wat ons doen of moet doen of in die wêreld om ons nie.
Daarom is ons 4de gewoonte om eerste na God se liefde te kyk voor ek na die wêreld om my kyk. Dan begin ek die dag met my regte identiteit – as kind van God en nie in die eerste plek die gevolg of slagoffer van die wêreld om my nie.
Voor jy dus kyk na enigiets op jou foon, lees ‘n teksgedeelte uit die Bybel. Dit hoef nie jou stiltetyd te wees nie, maar luister na die belangrikste “nuus” eerste. Laat ons begin met ons ware identiteit: Geliefde kinders van die Koning!
WEEKLIKSE GEWOONTES
Ons het nou 4 daaglikse gewoontes gekyk wat ons soos ‘n raamwerk help om te groei en te blom in ons liefde vir God en ons naaste. Maar mens gee ook ‘n plant elke dag water en voeding nie. So is daar ook weeklikse gewoontes wat ons op die pad help.
- Praatjie met ‘n maatjie
Om Jesus te volg vra, onder andere, goeie verhoudings met ander mense. ‘n Baie groot deel van goeie (en slegte!) verhoudings gebeur deur gesprekke tussen mense – veral een-tot-een-gesprekke.
Daarom is ‘n weeklikse geloofsgewoonte om te probeer om een uur per week met iemand naby aan jou ‘n goeie oog-tot-oog gesprek te hê.
Mens sou dit ook ‘n wedersydse mentorskap kon noem – om iemand van harte te ken en so ook geken te word. Om ten diepste iemand te ken en geken te word. Die meeste van ons het al sulke vriende gehad of het dalk nou so ‘n vriend – boesemvriende, “best pals”. ‘n Vriend voor wie jy jou hart kan oopmaak en wat die vrymoedigheid het om sy/haar hart voor jou oop te maak. Niemand van ons hou daarvan dat ander ons swakpunte ken nie, maar ons kan nie groei sonder iemand wat my ken met al my foute nie en voor wie en myself kan wees. Ons het iemand nodig vir wie ons kan sê: “Rêgtig? Jy ook!?”
Dit is skrikwekkend aan die begin, maar ook bevrydend. Dis, onder andere, hoekom die dissipels by Jesus gebly het: Hy het hulle ten diepste geken en hulle ten volle so aanvaar en liefgehad. Omdat ons almal laste, ook sondelaste, het om te dra, het ons iemand nodig om dit saam met ons te dra sodat ons kan groei in liefde en verlossing.
Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu en soek ons bloed. Alleen kan ons nie bly staan nie, maar met ‘n vriend in die Here langs jou, kan ons staande bly in sy krag.
Maar so ‘n vriendskap ontstaan nie sommer vanself nie. Dit moet soos ‘n klein plantjie gekweek word en in stand gehou word. Dit vra T-Y-D en dissipline.
Hoe doen ek dit? Hier is ‘n paar praktiese wenke:
- Ongelukkig kan dit nie jou man of vrou wees nie – jy sal verstaan dat daar soms dinge is in jou hart wat jy nie dadelik met hulle kan deel nie maar wel met ‘n mentor.
- Vaste afspraak – moenie soek vir ‘n tydjie wat oop is nie. Jy sal dit nie kry nie. Merk dit as ‘n vaste afspraak elke week in jou dagboek. Natuurlik sal daar tye kom wat julle mekaar nie kan sien nie, maar dit moet die uitsondering wees.
- Leer mekaar vertrou en deel jul harte met mekaar.
- Vra goeie vrae vir mekaar – leer dit.
‘n Hartsvriend is soos ‘n kers in die donker. Hy/sy bring jou hart na die lig en in Jesus kan jy groei as ‘n vry mens wat God en ander al hoe meer lief kan kry. Gaan probeer dit!
