Preek – 17 Mei 2020: Die hoop in ons – 1 Pet 3:13-22

Groete:

Mag jy elke dag God se goedheid beleef. En mag jy ook sy vrede in jou lewe ervaar. Amen

Teks:

1 Pet 3:13-18 Gabriela gaan die gedeelte uit Die Boodskap lees.

1 Pet 3:13-18  Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is?  (14)  Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.  (15)  In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.  (16)  Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.  (17)  As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.  (18)  Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

Gebed: 

Ek wil vanoggend veral fokus op een vers nl vers 15.

(15)  …Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 

Efes 1:18  Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het…

Petrus en Paulus praat hier van ‘n hoop wat in ons lewe. Wat is dit? Ek vra die vraag omdat die tyd waarin ons nou leef, juis ‘n tyd is wat op ‘n manier ons moedeloos en hooploos maak en bang maak omdat ons geen idee het van wat vir ons wag nie.

Ek hoor nogals deesdae in baie mense se gesprekke ‘n toon van hooploosheid. Ek lees dit op Facebook en op whatsapp-groepe. Ek hoor myself ook soms so praat en dink. Iemand praat van hierdie toestand waarin ons soms is as kollektiewe depressie. En dan word mense siniese beterweters en niks-glo-ers. ‘n Donker afwaartse spiraal.

As daar een ding is wat ons juis nou nodig het, dan is dit hoop. Ons het iets nodig om aan vas te hou sodat ons moed het om vorentoe te lewe.

Maar wat is die goed wat ons gewoonlik hoop gee? Soms is dit klein dingetjies.

  • Vir onderwysers as die einde van die jaar in sig is met die hoop op ‘n vakansie (alhoewel dit lyk of dit vanjaar maar baie kort gaan wees).
  • Vir baie wat elke dag werk, kry ons hier rondom Donderdag hoop omdat die naweek in sig is.
  • Of Sondae (toe ons nog saam kerk toe kon gaan) die meeste mense ook hoop gekry het as dit nou lyk of die dominee begin klaarmaak met sy preek.
  • Of as jy baie moeg is na ‘n harde uur of twee se oefening, gee die biertjie wat dalk wag in die yskas vir jou hoop (as daar nog oor is!).
  • Soms ons pensioen of gesondheid of besittings.

Dit is dinge wat ons soms deur tye dra en hoop gee. MAAR dit is net klein blymakertjies want Januarie begin die skool maar weer en na Sondag begin Maandag maar weer en volgende Sondag begin die dominee maar weer met ‘n preek en môre moet jy weer oefen en raak die bier ook op. Daar is ook geen waarborg dat die dinge so sal bly nie. Enigiets kan enige tyd met ons gebeur soos die Corona virus ons wys.

Maar die dinge wat ons bang en onseker maak is dikwels groot dinge soos:

  • Gaan die land se ekonomie ooit weer regkom?
  • Sal ek kan leef van my pensioen?
  • Gaan ek my werk behou?
  • Sal daar kos wees vir almal in die land?
  • Gaan ek gesond bly?

Hoe help die Christelike hoop, waarvan Petrus en Paulus hier praat, in ons lewe, oor vrae soos dié? Dalk moet ons eers net seker maak wat dié hoop NIE is nie. Die hoop, waarvan die Bybel praat, is nie…

‘n Versekeringspolis dat al ons probleme opgelos sal word of verby sal gaan nie, al kan ons bid vir genesing en uitkoms en kan die Here op wonderlike maniere uitkomste gee en het Hy dit ook al gedoen. Die hoop waarvan die Bybel praat is nie gefokus op dinge en geld en materiële goed nie. Ons hoop lê nie in ekonomiese herstel of gesondheid of ‘n goeie pensioen nie, al is dit ook belangrike dinge vir ons. Ongelukkig is nie een van die dinge vas en seker nie.

Ons hoop is nie op beter tye en dae nie.

Ons leef in hierdie wêreld saam met al die ander mense en die lyding en pyn en terugslae wat hulle tref, tref gelowiges ook. Soms nog meer, soos wat Petrus van praat wanneer gelowiges soms lyding moet verduur juis OMDAT ons glo.

Wat is die hoop dan?

Ek dink dat ons geestelike voorvaders ons baie help met die vraag. Een van ons belydenisskrifte is die Heidelbergse kategismus. Dit is geskryf in 1653 in die Duitse stad Heidelberg as ‘n leerboek vir skole om te verstaan wat dit is wat ons glo. Dis bedoel om elke Sondag ‘n paar vrae te beantwoord. Nou, as ons moet neerskryf wat ons glo, dan sal ons seker begin met wie God is en die skepping en oor Jesus en die ewige lewe. Maar weet julle wat is die eerste vraag wat hulle vra om te beantwoord?

Vraag 1: Wat is jou enigste troos (hoop) in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Is dit nie baie spesiaal nie!? Hulle sê nie hulle enigste troos of hoop is hul bankbalans of voorspoedige ekonomie of selfs gesondheid nie – nee, dat hulle in lewe en sterwe (dus selfs deur die dood) kan weet dat hulle behoort ons Verlosser, Jesus Christus wat altyd getrou is.

Dis ons hoop! Dis ons anker! Meer as dit, dis die rede vir ons bestaan!

En dit is Christelike hoop: Om God met my hele lewe en in alle omstandighede en ook in my dood te vertrou.

Seker een van die mooiste beelde uit die Bybel van hoop, kry ons in psalm 131.

Psalm 131:1-3  … Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.  (2)  Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.  (3)  Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Die beeld van ‘n klein kindjie wat bang is. Maar dan sien hy sy ma is hier by hom. En dan is hy rustig. Die omstandighede het nie verander nie, maar hy het volle vertroue dat hy OK is want sy ma is by hom.

Wanneer ons weer beangs en onseker raak, dan kan ons rustigheid kry. Nie in geld of gesondheid of besittings of selfs politieke stabiliteit nie, maar in Jesus! Jesus IS ons hoop. Natuurlik is ons hoop in God se beloftes van liefde en trou en genade en dat Hy altyd by ons is, maar ons sien die bewys dat dit waar is in Jesus. God het al in die OT belowe Hy sal ‘n Verlosser stuur vir ons. Jesus is die Verlosser! Jesus is nie net die bewys dat God altyd sy beloftes aan ons sal nakom en nagekom het nie, maar Hyself belowe na die hemelvaart dat Hy altyd by ons is deur sy Gees, die Heilige Gees.

En weet jy wat? Omdat dit (want dit is hoe geloof werk) ‘n proses is, iets wat groei, hoe meer ek my hoop en vertroue in God alleen stel, hoe meer word ek die mens wat God bedoel het ek moet wees. En hoe meer ek die beeld van God in my lewe uitleef, hoe gelukkiger word ek en het ek meer hoop – in lewe en sterwe. Dis lewensveranderend!

Ek sluit af met ‘n ware verhaal uit die vroeë kerk soos Rodney Stark dit vertel in The Rise of Christianity. So mooi wys dit vir my hoe geloof in Jesus en hoop in God ons mooier mense maak.

In die jare 249–262 na Christus het ‘n plaag ook verwoesting gesaai in die Romeinse Ryk. Tot 5000 mense is daagliks dood in Rome. Die Christene was in daardie tyd by verre die minderheid maar het in hul optrede die liefde van Christus wyd versprei.

Die biskop van Alexandrië, Dionisius, skryf so daaroor:

“Die meeste van ons broers en susters het grenslose liefde en lojaliteit getoon, en hulself nooit gespaar nie en net aan andere gedink. Ongeag die gevaar het hulle die sieke bygestaan, hulle in elke behoefte versorg en hulle in Christus gedien, en saam met hulle uit hierdie lewe vertrek; want hulle is deur ander besmet met die siekte, en hulle het die siekte van hul bure op hul geneem en hul pyne ervaar. Baie mense het hul dood op hulself gebring en in hul plek gesterf toe hulle ander verpleeg en genees het”.

Hierdie duidelike Christelike liefde – om die dood te trotseer – het in skrille kontras gestaan ​​met diegene buite die kerk. Dionisius gaan voort:

“Maar met die heidene was alles heeltemal anders. Hulle het diegene wat siek geword het, verlaat en van hul beste vriende gevlug. Hulle het enige gevaar van die dood vermy.”

Ons hoop in God maak van ons nuwe mense.

As ons vandag rondom ons kyk dan sien ons ook tekens van die hoop: Mense wat steeds hul huishulpe en werkers bly betaal, al moet hulle hulself tekort doen. Verpleegsters en dokters wat hulself in gevaar stel om aan te steek as hulle siekes verpleeg. Mense wat kos vir ander aanry en sommer net mense bel om vir hulle te bid of moed in te praat.

Die hoop waarvan die Bybel praat, is ‘n nuwe lewe as die Heilige Gees, die Gees van Christus beheer oorneem van ons lewens. Of soos die ou Hallelujalied, Al my Twyfel, dit sing:

Al my kwelling bring ek Jesus, Hy skenk my volkome rus

Hoe die donker wolke saampak, niks kan ooit Sy liefde blus

Koor :

Slegs vertroue, vol vertroue, slegs vertroue op Sy woord

Slegs vertroue, vol vertroue, slegs vertroue op Sy woord

Mag elkeen van ons elke dag bly lewe as mense met ‘n seker hoop. Dié hoop dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie.

Amen.

Seën:

Rom 15:13  Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

css.php