Geloofsgewoonte 3 – Foon af! - 15 Mei 2020

Foon-een-uur af

Die een enkele ding wat ons lewens deesdae baie help, maar ook kan vernietig, is ons selfoon. Dit is soos ‘n skaduwee by ons en maak dat ons nooit op een plek alleen kan wees nie. Ek is gewoonlik by my stiltetyd én my foon, agter die stuurwiel én my foon, by my vrou én die foon, by my kinders én my foon, by my vriende én my foon. Selfs as jy met iemand oor die foon praat, is jy nie net daar nie; jy lees sommer boodskappe terwyl jy praat ook nog!

 

Een van die belangrikste voorwaardes vir ‘n lewe met God, is teenwoordigheid (presence). God is altyd by ons, maar ons nie altyd by Hom en ons naaste nie en die foon is een van die belangrikste redes daarvoor.

Daarom is die gewoonte van foon-een-uur-af bedoel om ten volle by ander en die Here teenwoordig te wees. Maar selfs om net jou foon op “silence” te sit, is nog nie dieselfde as om jou foon buite sig te hê en heeltemal af te sit nie. Daarom is dié gewoonte om jou foon vir 1 uur af te sit en op ‘n plek te sit waar niemand (ook nie jy nie) dit kan sien nie!

Dis nogals nie so maklik aan die begin nie. Jy kry so half ‘n “verlange” na jou foon! “Is daar nie dalk iemand wat my soek nie?” of “Dalk is daar ‘n belangrike boodskap op!” Dit mag wees dat jy ‘n boodskap gaan mis vir ‘n uur, maar dit is wat dit kos om een uur op ‘n ten volle teenwoordig te wees!

Dié gewoonte gaan ons help om te leer om teenwoordig te wees by mense (jou vrou, man, kinders, vriende en ook jouself…) maar ook by die Here.

Die skrywer van die boek sit sy foon ‘n uur af sodra hy van die werk by die huis kom, een uur by sy werk en nog ‘n uur vir stilte maar jy kies die tye wat jy sien dit die nodigste is.

Wanneer jy jou foon afsit, is jy besig om jou naaste lief te hê want dan gee jy aan hom/haar onverdeelde aandag. Om met volle aandag na mekaar te luister, is seker een van die wonderlikste maniere om mekaar lief te hê. As die foon af is, is dit moontlik. Maar meer as dit – jy beleef self ook tye van stilte wat so nodig is om God te hoor.

Kom ons vat saam:

As ons die Here en ons naaste en onsself wil liefhê, vra dit tyd en aandag. Vandag maak ons selfone dit baie moeilik. Daarom moet ons ‘n besluit neem om ons selfone te beheer en nie andersom nie. Die gewoonte van selfoon-een-uur-af help ons om in ‘n ritme te kom daarmee. Probeer dus elke dag om jou foon vir een uur AF te sit by die huis wanneer almal wakker is, een uur by die werk en een uur vir jouself.

css.php