Geloofsgewoontes nr 1

‘n Raamwerk vir liefde

(‘n Verwerking van die boek “The Common Rule. Habits of purpose for an age of distraction” van Justin Whitmel Earley)

Hierdie is ‘n samevatting en verwerking van die boek vir die gebruik deur kleingroepe.

Inleiding: Gewoontes vorm jou lewe

Ons streef ons lewe lank daarna om gelukkig te wees. Hoor wat sê Jesus:

Joh 10:10 ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat h(j)ulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Maar die werklikheid is dikwels: hoe meer ons na geluk streef, hoe ongelukkiger raak ons dikwels. Ons sien dit veral in die gewoontes (habits) van ons lewens. Hoe vang ons onsself nie baie kere dat ons (as ons terugkyk) daagliks dinge doen en dink wat ons ongelukkig maak, maar moeilik daaruit breek omdat dit ‘n gewoonte geword het in ons lewens. So stel Earley dit:

“We are living according to a specific regimen of habits, and those habits shape most of our life.”

Dinge wat ons later oor en oor doen sonder dat ons dink en selfs bewus is daarvan. So veel as 40% van wat ons elke dag doen, spruit nie uit besluite wat ons bewustelik neem nie, maar uit gewoonte. En dit is eintlik die dinge wat bepaal watter lewe ek en jy leef, ongeag ons begeerte om reg en gelukkig te lewe. As ek en jy nie self besluit watter gewoontes ons gaan aanleer en uitleef nie, gaan ander mense en die omgewing en ons sondige aard ons gewoontes vorm. En dan doen ons gewoonlik die kwade wat ons nie wil as kind van die Here nie (om Paulus aan te haal). Dink ‘n bietjie aan jou dagprogram verlede week; hoeveel ure jy aan jou familie om jou bestee het, aan stilraak voor die Here, aan jou selfoon of internetgebruik en ure voor Netflix. Daar is min van dié dinge wat ons ge-oefen het om te doen – “dit kom vanself.”

En tog, tog wil ons gelukkig wees. Op een of ander manier kry ons dit nie reg nie omdat ons gewoontes ook ons harte rig en ons lewens vorm. As ons dus nie daaroor beheer uitoefen nie, leef ons eenvoudig stroomaf na die waterval van ongeluk. As ons nie beheer neem van ons gewoontes nie, sal hulle self ons vorm, selfs sonder dat ons daarvan bewus is.

Soms verbeel ons onsself dat ons gelukkig sal wees as ons vry is – vry om te doen wat ek wil, om te gaan waar ek wil, om te kry wat ek wil hê. Hoor wat sê Early daarvan: 2

“But what if the good life doesn’t come from having the ability to do what we want but from having the ability to do what we were made for? What if true freedom comes from choosing the right limitations, not avoiding all limitations?”

Ware vryheid bestaan net binne die regte beperkings. Ons het dus grense nodig om werklik gelukkig te wees en die lewe te leef wat Jesus bedoel het ons moet leef. Maar ons maak ‘n fout as ons dink geluk is altyd maklik. Jesus stel vir ons die voorbeeld: Hy, wat God is, verneder Homself om mens te word en te sterf aan die kruis. Hoekom? Liefde. Hy wat alle vryheid het, kies die beperkings van die aardse omdat Hy ons liefhet. Dit laat ons verstaan dat ware geluk ook nie moontlik is as dit nie liefde is nie. Om liefde te beleef en uit te leef, is nie in ons vanself nie. Daarom is die boek se naam “The Common Rule”, maar dan nie ‘n reël soos in mag en mag-nie’s nie. Dis reëls wat ons help om die lewe te leef en te beleef soos Jesus dit bedoel het. Hy wys dan daarop dat die woord “reël” in Latyn eintlik ‘n raamwerk (Engels: “trellis”) beteken, soos ‘n raamwerk waarteen plante rank en groei. En soos plante dit nodig het om lig te ontvang en te groei en elke rank nie in sy eie rigting moet groei nie, so het ons ook ‘n raamwerk nodig in ons lewens om die belangrikste opdrag van Jesus na te kom: Om die Here en ons naaste met alles lief te hê. Dit is die doel van ons lewens en alleen as ons dit begin regkry, sal ons ook gelukkig wees. Die raamwerk, noem ons geloofsgewoontes. Dit is oor die aanleer van sulke gewoontes waaroor dit hier gaan. Goeie voornemens alleen gaan ons nie daar kry nie. So stel Early dit:

“Only when your habits are contructed to match your worldview do you become someone who doesn’t just know about God and neighbor but someone who actually loves God and neighbor.”

The Common Rule gaan oor gewone dinge vir gewone mense. Dit gaan oor die gewone dinge waarmee ons gewone mense elke dag besig is.

Gewoontes neem tyd om te vorm

Normaalweg word ‘n gewoonte gevorm wanneer ‘n mens dit vir ten minste 3 weke lank beoefen. Ons gaan onsself dus ten minste ‘n maand kans gee om dit te oefen. Dit help ons ook om aan te pas by ‘n nuwe manier van lewe ten opsigte van daardie gewoonte.

Die beste manier om dit te doen, is om dit saam met iemand te doen. Daarom wil ek jou aanmoedig om dit as ‘n omgeegroep saam aan te pak (indien nodig, gesels oor die foon met mekaar) of saam met jou huweliksmaat of gesin of deur self iemand of mense te kies om dit saam mee aan te pak. Dit help ons sodat ons teenoor iemand of ‘n groep verantwoordelik gehou word – soos om saam fiksheidoefeninge te doen. 3

Ons gaan ook onsself kans gee om te “oefen” om sodoende te kan besluit waarvoor ons kans sien.

Dis nie ‘n nuwe wet nie

Onthou: Geloofsgewoontes is daar om jou te help om op ‘n nuwe manier die lewe as goed te beleef. Dit is nie bedoel om jou lewe swaarder te maak nie. As jy net een of twee eers wil probeer: reg so!

‘n Vinnige oorsig

Early maak ‘n onderskeid tussen daaglikse gewoontes en weeklikse gewoontes.

Daaglikse gewoontes:

 Kniel-gebede 3 maal per dag.

 Een ete met ander.

 Een uur foon AF.

 Bybel vóór Foon.

Weeklikse gewoontes:

 Een uur gesels met ‘n vriend.

 Beperk sosiale media tot 4 uur.

 Vas 24-uur van iets.

 Hou Sabbat.

Al die gewoontes is daarop gemik om liefde vir God en liefde vir jou naaste aan te help.

Ons gaan nou die daaglikse gewoontes begin oefen: 1 per week. Aan die einde van die week sal dit goed wees as julle as omgeegroep (of jou vriende wat jy hiervoor gekies het) met mekaar deel hoe julle dit gevind het. Ek sal ook dankbaar wees as julle dit vir my sal stuur by 0836557930 (Schalk Kotzé) deur jou ervarings kortliks te sms of te whatsapp. En sal dit graag (annoniem) op die groter groep wil deel sodat ons sodoende mekaar kan ondersteun. 4

DAAGLIKSE GEWOONTES

1. Kniel-gebede 3 maal per dag.

Woorde speel so ‘n belangrike rol in ons lewens. Byna niks begin as daar nie eers ‘n paar woorde daaroor met mekaar gebreek is nie. As ons ons dag wil reg afskop, moet dit ook met die regte woorde begin: Ons woorde in gebed met ons Vader in die hemel. So het God die aarde laat ontstaan deur woorde te spreek. Dit is soos Johannes (hoofstuk 1) Jesus ook beskryf: Die Woord. En alles het deur die Woord ontstaan.

“The essence of all these prayers is to stand alongside God and speak order and love into a world that needs it.”

As jy jou selfoon toelaat om die eerste woorde van die dag te spreek, sal “sy/hy” of die mense wat dit stuur, jou dag rig. (Dit kan die nuus wees, ‘n e-pos, whatsapp of sms bv.)

Reg. Hoe doen ons dit?

Oggendgebed:

Hy beveel aan dan ‘n mens die dag begin deur te kniel en jou oggendgebed te bid. Dit help jou om meer bewustelik jou afhanklikheid van God te erken en te beleef. As jy nie kan kniel nie, draai dan net die palms van jou hande na bo terwyl jy bid. Hierdie gebed gaan dan hoofsaaklik daaroor om God te dank vir sy liefde en genade en sorg. Sorg ook dat jou foon jou nie tydens die tydjie steur nie. Dit kan maar ‘n kort gebed wees maar dit plaas jou dag in die regte “raam”. Dit kan woorde wees soos: “Here, gee my asb net krag vir hierdie dag.” Of “Here, U weet hoe bekommerd ek is oor die vergadering wat voorlê. Help my om goeie besluite te neem.” Dalk het jy goed geslaap: “Here, wat ‘n lieflike oggend! Dankie dat U vir my sorg. Help my om ander so lief te hê soos wat U my liefhet.” Mense wat soggens vroeg werk toe ry, kan bv die gebed bid net voor jy die motor aansit of selfs op jou pad (oop oë asb!).

Middaggebed:

Dit is belangrik om ook deur die dag bewus te wees van God en my doel op aarde. Daarom doen ons ook ‘n kort middaggebed; ook op my knieë as dit moontlik is. So maklik kan die daaglikse besigwees en probleme God uit my gedagtes skuif. Die kort middaggebed help my net weer op Hom fokus. Dit kan ‘n kort belydenis wees, ‘n gebed 5

vir ‘n kollega of ‘n moeilike situasie of ‘n besluit wat geneem moet word. Die middaggebed is ‘n rak waar ek my lewe net kan kom neersit en nuwe vrede ontvang. Jy kan dit doen in jou kantoor as jy net die deur vir ‘n oomblik toemaak. Of net ‘n minuut of twee wanneer jy op reis is en aftrek van die pad. In die kombuis – sit die kos vir ‘n klein rukkie op “laag” en buig net vir ‘n paar oomblikke langs ‘n sitkamerstoel. Op die plaas: Dalk sommer langs die bakkie op die een knie…

Aangebed:

Aan die einde van die dag is daar dikwels frustrasies van werk nie klaargekry nie, dinge wat verkeerd geloop het, verkeerde besluite ens. Dikwels ook ‘n tyd van verwyte. Sommige mense sal dan gou ‘n dop (of twee) vat en kyk wat is op TV of doelloos gly op jou selfoon … net om ontslae te raak van die moegheid en “onafgeid” van die lewe.

Dit is net hier waar die kort aangebed die dag ‘n goeie draai kan gee. Dalk eers na die skottelgoed gewas is en die kinders in die bed is. Dan “omraam” jy die dag op die regte manier. Dan kniel ek en sit God se punt van goedheid en genade agter die sin van my dag, hoe goed of sleg dit ook al was. Al voel jy nie baie “geestelik” nie, al weet jy nie eintlik wat om te sê nie of al sê jy dieselfde wat jy gisteraand gesê het (en die hele maand). Jy kom gee in jou eie woorde die dag oor aan ons Vader. Sy arms is sterk.

Gesamentlik:

Jy kan dié geloofsgewoonte ook saam met iemand doen (altyd of soms). Mense soos jou man of vrou of jou kinders of kollega by die werk.

css.php