Preek – 19 April 2020: Egte geloof? – 1 Pet 1:1-9
Skriflesing: 1 Pet 1:1-19
Preek:
Hierdie gedagte van ons geloof wat getoets word is een wat ek nogal gereeld by mense
hoor. Hierdie beeld van goud (of soms silwer) wat met vuur getoets (of gelouter) word, is
een wat ook ’n hele paar keer in die OT voorkom. En daar is iets mooi aan hierdie beeld,
of hoe? Die idee dat ons geloof gesuiwer word tot net dit wat eg en waar en mooi is
daarvan oorbly. En ons kan aanvoel dat dit so is, dat die egtheid van ons geloof blyk in die
moeilike tye; wanneer ons gedruk of uitgedaag word deur mense, omstandighede,
swaarkry.
Tog is ek ook soms bekommerd deur die beelde/assosiasies van God en die lewe wat
deur hierdie idee van ’n toets opgeroep word. Ek is ongemaklik as ons aan God dink as ’n
kwaai onderwyser wat ons wil uitvang dat ons nie goed genoeg is nie. Ek is ook
ongemaklik as ons altyd in oorsaak en gevolg dink oor die lewe – m.a.w. alles wat in ons
lewe of in die wêreld gebeur is iets wat of God of die duiwel gestuur het en daar is ’n
spesifieke en eenvoudige doel daarmee. As mens die groot prentjie van ons klein deeltjie
in die werklikheid en die geskiedenis, én die hele getuienis van die Bybel in ag neem so
oorvereenvoudige manier van dink net nie haalbaar nie.
As ’n mens Petrus se hele gedagtegang volg is Hy nie besig om gelowiges bang te praat
met ’n skoolmeester God nie, maar juis om hulle te troos en te bevestig in moeilike tye.
Petrus skryf aan “vreemdelinge in die wêreld wat verspreid woon”. Gelowiges in klein
gemeentetjies in die verskillende provinsies van Klein-Asië; sommiges van hulle Joodse
Christene (wat reeds nie meer tuis is tussen hulle mede-Jode nie) en ook nie tuis is tussen
hulle heidense bure nie; en saam met hulle allerhande vlugtelinge en immigrante uit ander
streke is hulle deur God geroep. Mense wat goed weet, die wêreld is nie my woning nie.
Ek kom nie tuis hier nie, ek pas nie hier in nie…
Dit is hulle status en identiteit in hierdie wêreld nie. Daarom herinner Petrus hulle dat
hierdie wêreld nie hulle finale bestemming/huis nie. Want hulle is uitverkorenes van God.
God, hulle Vader, het hulle vooraf bestem, afgesonder en verkies om aan Hom te behoort.
Hy skenk (genade; iets wat onverdiend van buite af aan ons gedoen word, sonder
verdienste!) uit sy groot ontferming, aan ons ’n wedergeboorte, nuwe lewe, deur Jesus se
opstanding uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op ’n saligheid (redding/verlossing/
tuiskoms) wat seker, vas en ewig is; wat God by Homself vir ons veilig hou. Dit is klaar
gereed; al is dit nou nog nie geopenbaar nie, is die nuwe lewe in ons self die belofte en die
bevestiging daarvan.
Dit is vanuit hierdie geloofswerklikheid wat ons nou na die fisiese werklikheid kyk en dit
heeltemal anders interpreteer as iemand wat sonder geloof daarna sou kyk. Nou sien ons
dit is net ’n “kort tydjie” wat ons bedroef gemaak sal word, die vreugde is soveel groter en
soveel meer langdurig.
’n Baie belangrike ontdekking het my baie gehelp om die radikaliteit van die nuwe lewe in
Christus, die wedergeboorte (staan soms ’n bietjie weer stil by daardie woordjie!) beter te
verstaan. En dit ís basies die evangelie, ons sukkel net om ons harte en ons gedagtes
daar rondom te kry; dit kom hierop neer: skuld, skaamte en vrees verander ons nie.
Selfbejammering en selfkastyding gee ons ego mos ’n bietjie van ’n kick (o eks so sleg eks
so hopeloos!); en dan is ons vir ’n kort rukkie gemotiveer om met wilskrag self te probeer
om iets in ons lewe te verander. Maar dit sal altyd ’n tydelike opflikkering wees, en ons
met meer moedeloos laat en ons in hierdie selfverwytende sikuls laat beland. En dit is nie
egte geloof nie.
Egte geloof is om te leef in die ongeforseerde ritmes van genade; om te aanvaar, iets wat
ek nie self kan doen nie, het Jesus namens my gedoen. Ek is vrygespreek en vergewe.
Deur sy kruisdood en opstanding het Hy die nuwe lewe, ’n wedergeboorte, aan my
geskenk. ’n Egte geloof, en hierin lê die groot troos en bevestiging, lê nie in hoe hard ek al
probeer het, hoe ver ek al gevorder het nie; want daarmee saam hang altyd daardie vrees
dat ek uitgevang sal word, dat ek tekort skiet;
egte geloof lê nie in hardwees op myself nie.
Dit lê net daarin of ek bereid is om my onvermoë te erken, weer en weer, en die geskenk
te ontvang, myself oor te gee en toe te vertrou aan Jesus wat alles vir my gedoen het; om
in en deur Hom te leer oor die leef van hierdie nuwe lewe in al sy gestaltes.
Want dan leer ek, om in my beproewing, ook my magteloosheid te aanvaar as ’n
geskenk; dan begin ek die bevestiging beleef dat ’n suiweringsproses besig is om plaas te
vind, juis wanneer dit moeilik is, omdat dit my al hoe meer beweeg na die vryheid wat
hierdie genade bring. En dan kom ek in hierdie nuwe siklus waar die essensie van egte
geloof al hoe meer tot my deurdring: die waarheid en die skoonheid van geloof en van
God se onvoorwaardelike liefde al hoe meer aan my geopenbaar word.
Ek dink nie ons hoef in hierdie tyd te veel tyd te spandeer om uit te figure waar die coronavirus
nou eintlik vandaan kom nie. Ons kan ons aandag hou by wat God besig is om in
ons lewe en in ons wêreld te doen in hierdie tyd. Want ons harte is reeds geanker in ons
eintlike huis; ons toekoms is seker en vas; en daarom sien ons die tekens waar God se
nuwe wêreld besig is om vorm aan te neem.
Arundhati Roy, die beroemde Indiese skrywer, het ‘n verstommende essay in die Britse
Financial Times geskryf hierdie week. Oor Indië en die virus, maar ook breër, oor hoe dit ‘n
poort moet wees na ‘n nuwe wêreld.
“Wat ook al dit is, die coronavirus het die magtiges laat kniel en die wêreld tot ‘n halt geruk
soos niks anders kon nie. Ons verstand probeer nog opvang, hunker na ‘n terugkeer tot
normaliteit, probeer ons toekoms en verlede aanmekaar stik, weier om die skeuring te
erken. Maar die skeuring bestaan. En te midde van hierdie verskriklike wanhoop, laat dit
ons met die geleentheid om hierdie oordeelsdagmasjinerie wat ons vir onsself gebou het
te herdink. Niks sou erger wees as ‘n terugkeer na normaliteit nie. Oor die eeue het
pandemies die mensdom gedwing om te breek met die verlede en die wêreld op ‘n ander
manier te verbeel. Hierdie een is geensins anders nie. Dit is ‘n poort, ‘n hek, tussen een
wêreld en die volgende. Ons kan kies om daardeur te loop terwyl ons die karkas van ons
vooroordele en haat, van ons geldsug, ons databanke en dooie idees, ons dooie riviere en
rokerige hemel saam met ons sleep. Of ons kan liggies deurstap, met min bagasie, gereed
om ‘n nuwe wêreld te bedink. En daarvoor te veg.”
‘n Ander interessante artikel oor die onderwerp is deur die skrywer Charles Eisenstein.
“Covid-19 is soos ‘n rehab-ingryping wat die verslawende houvas van normaliteit
verbreek… wanneer hierdie krisis wegsak, sal ons die kans hê om te vra of ons wil
terugkeer na normaal en of ons nie miskien iets gesien het in hierdie breek van roetine wat
ons na die toekoms wil bring nie.
“Ons mag, nadat so baie mense hulle werk verloor het, vra of dit werk was wat die wêreld
die nodigste gehad het, en of ons arbeid en kreatiwiteit beter aangewend kan word. Ons
mag vra of ons regtig soveel lugreis nodig het, of Disneyworld-vakansies of
handelstentoonstellings. En watter dele van die ekonomie wil ons herstel, en watter dele
sal ons moontlik kies om te laat gaan.”
Nuwe geboortes is nie maklik nie. Ons as Christene weet dit; Ons ken die kruis. Ons
weet van pyn en droefheid. Maar ons ken ook die onuitspreeklike en heerlike vreugde van
opstanding en nuwe lewe. Mag net dit wat eg en suiwer is, saam met ons ’n nuwe
toekoms ingaan. Amen.
