Preek – 12 April 2020: Wat as ek twyfel? – Joh 20:1-10

TEKS:

Joh 20:1-10 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. (2) Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.” (3) Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. (4) Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. (5) Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. (6) Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, (7) ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. (8) Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo. (9) Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. (10) Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

PREEK

Verlede week het ons stilgestaan by Esegiël se gesig van die dooie bene. Ons het, onder andere, gehoor dat God daar is, al voel dit ook asof Hy dood en weg is. Maar wat maak ‘n mens as die twyfel in jou gemoed jou nie wil los nie? Ons twyfel en onsekerheid is nie net oor die toekoms in ons land en die wêreld nie, maar ook oor ons geloofslewe, ons verhouding met die Here. Ek glo dat die Here juis deur sy opstanding uit die dood vir ons hoop en moed gee om ons twyfel te kan hanteer.

Laat ek begin deur te sê dat ons natuurlik ook sterk tye in ons geloofslewe beleef. Tye wat ons byna sonder ‘n sweempie van twyfel aan God vashou en glo. Maar is dit nie ook so dat daar oomblikke van twyfel en onsekerheid kom en ons skrik vir die vrae wat in ons gedagtes opskiet nie? Wat dit nog erger maak, is dat ons daarby ook nog skuldig voel omdat ons twyfel. Ons dink ons geloof is nie sterk genoeg en gaan ons nie deurdra nie.

Wat maak ek en jy met ons twyfel? Wel, gelukkig hoef ons nie ongelowig te voel as ons begin twyfel nie. Ons staan eintlik maar net in die ry agter Job, Asaf, Dawid, Petrus en Tomas en nog baie ander. Vroeg in die Johannes evangelie, lees ons van die eerste wonderwerk wat Jesus doen in Kana toe Hy die water in wyn verander. En dan lees ons die volgende: “… en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.” Na alle waarskynlikheid was dit die eerste 5 dissipels, waaronder ook Petrus. En tog, tog weet ons almal van Petrus wat later amper verdrink van twyfel. Kort voor sy hemelvaart sien en hoor die dissipels Jesus en dan staan daar: “Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.”

‘n Dominee haal ‘n ondersoek aan wat in Nederland gedoen is onder 700 gereformeerde studente waaruit dit blyk dat 70% van hulle sukkel met geloofstwyfel. En dan sê sy: “Ek is verbaas dat dit nie 100% is nie!” Ons almal het groot respek vir die geloof van iemand soos 2

moeder Theresa, maar uit haar briewe en dagboeke wat beskikbaar was na haar dood, blyk dat sy vir 50 jaar getwyfel het aan God se bestaan!

As ek dit alles sê, dan wil ek nie sê dat dit goed is om te twyfel en ‘n deug is nie, maar dat twyfel nie beteken dat jy ongelowig is nie. Om die waarheid te sê: Twyfel is nie ‘n teken van ongeloof nie. So mooi sê die teoloog, Paul Tillich dit: “…doubt is not the opposite of faith; it is an element of faith”. Of die groot Hervormer, Maarten Luther wat praat van geloof as “getrooste vertwyfeling”. Ek en jy is nie die enigstes wat dit beleef nie. En tog, is dit ontwrigtend in ons lewens wanneer daar twyfel in ons harte en gedagtes is. Hoe dan gemaak met twyfel in ons harte? Ek dink die verhaal van Johannes oor die opstanding help ons wat om te doen in tye van twyfel.

Kom ons kyk bietjie wat gebeur daar. Eintlik wil mens ook lag vir Johannes (die skrywer van die Evangelie) se fynbrag! Eers praat hy van homself as “die ander dissipel vir wie Jesus baie lief was”, so asof hy darem so ‘n kortkop voor die ander dissipels was by Jesus. En dan die resies na die graf. Hy wil die lesers darem net laat verstaan dat hy vinniger kan hardloop as Petrus want hy was eerste by die graf! Ook maar mens!

Eers is Johannes half huiwerig om in die graf te gaan. Maar Petrus, getrou aan homself, storm verby hom die graf binne en sien die doeke en die opgerolde kopdoek eenkant. En dan sê Johannes (na hy die leser weer herinner dat hy eerste by die graf gekom het) het hy ingegaan en dit ook alles gesien. Dan lees ons dié woorde: “… en hy het dit ook gesien en geglo.” (vers 8).

Johannes help ons hier met ons twyfel en geloof. Eintlik het Johannes op daardie stadium nog baie rede tot twyfel gehad. Hy het nog nie vir Jesus gesien nie, geen bewyse dat Hy lewe nie. Hy het nie geweet hoe sy oorwinning oor die dood gaan lyk nie en ook nie engele gesien wat hom vertel het wat gebeur het nie. Maar Johannes het reeds vroeër besluit om Jesus te vertrou en te glo wat Hy sê. Om staat te maak op sy beloftes. Eers het hy dit nie verstaan nie, maar toe hy die doeke sien, toe kliek daar net iets by Johannes. Al die voorspellings in die OT en Jesus se eie woorde waarin Hy in Lukas alleen 5 keer voorspel dat Hy uit die dood gaan opstaan, kom toe bymekaar en Johannes se geloofskakelaar is aan! As dit net was wat hy op daardie oomblik beleef en gesien het, het hy maar min rede gehad om te glo, maar omdat hy vroeër besluit het om Jesus te vertrou.

Jy sien, as ons sekerheid afgehang het van ons emosies en belewenisse, ons insigte en verstand, selfs van ons logika, sou ons rond gedobber het op die see van twyfel en onsekerheid. Maar as ons ons sekerheid bou op God se beloftes, dan het ons vastigheid. Jesus se opstanding is juis ‘n bewys dat God sy beloftes nakom. Dit vra van ons ‘n keuse, ‘n besluit om weg te kyk van myself en te fokus op Christus as die Here wat lewe en uit die dood opgestaan het en op ‘n onverstaanbare maar werklike manier by ons is – soos Johannes.

Weet jy, dit maak ‘n mens vry as ons eerlik kan wees oor ons twyfel en steeds kan vashou aan Jesus. Dis amper soos om met jouself te spot. Dis nogals eers moeilik om vir jouself te 3

lag, maar as jy by die punt kan kom om vir jouself te lag, afstand van jouself te kry, is jy vry van jouself!

Ek hoor vanoggend by Johannes dat ek maar kan rus in my twyfel en kan vashou deur alles aan God se beloftes en aan Jesus wat op ‘n bo-natuurlike manier opgestaan het en lewe en by jou en my is.

Iemand vertel my die storie van ‘n Pa (in die dae voor die grendeltyd) wat vir ‘n lang tyd weg moes gaan vir sy werk van hulle huis. Sy dogtertjie van 4 jaar oud het baie gehuil omdat sy baie lief was vir haar pa en baie na hom sou verlang. Toe gaan koop haar pa ‘n klein teddybeertjie en hy spuit ‘n hele botteltjie van sy naskeermiddel op die beertjie. En toe hy weggaan, gee hy die beertjie vir haar en sê vir haar: “As jy baie na pappa verlang, druk die beertjie vas teen jou en ruik aan hom en onthou dat pappa jou baie liefhet en sal terugkom.”

Wanneer die skaduwees van geloofstwyfel oor jou val, druk God se beloftes en Jesus se opstanding styf teen jou hart en bly glo. Dis wat die pa van die seun, wat deur ‘n gees besete was, vir Jesus gesê het:

“Ek glo,” … “Help my in my ongeloof.”

Ons mag dit waag om te glo want Jesus lewe! Amen

css.php