MARK. 10:13-16 (3/10/21) # Die eerste vers wat ons nou saam gelees het, sê: “Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak.” - Wie hierdie mense was, weet ons nie. - Heel moontlik was dit ’n groepie ouers, mense wat net die beste vir hulle kinders wou hê. - Net soos ouers vandag ook maar net die beste vir hulle kinders wil hê. - En hierdie mense wat hulle kinders na Jesus toe gebring het, het geweet: Die beste wat ek vir my kind kan doen, is om hom of haar na Jesus toe te bring sodat Jesus hulle kan aanraak. - Hierdie mense het geweet: Jesus se aanraking verander jou lewe. - Dink maar aan siekes wat op dié manier gesond gemaak is, deur Jesus se aanraking. - En dink aan onverskilliges wat tot inkeer gekom het toe Jesus hulle pad gekruis het. - Dat Jesus my kind sal aanraak – dit was die beste wat hierdie ouers vir hulle kinders kon begeer. # En daarom lees ons: “Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak.” - Maar wat gebeur toe met hierdie mense van wie ons gelees het? - Hulle loop hulle in Jesus se dissipels vas. - Die dissisipels raas selfs met hulle. - Die dissipels kom staan tussen Jesus en die kindertjies. - Hulle plak as ‘t ware op Jesus se kantoordeur ’n bordjie wat sê: “Geen kinders.” - En hoekom hulle dit gedoen het, weet ons nie. - Verskillende verklarings is seker moontlik. - Dalk het dit iets te doen met die negatiewe siening wat grootmense soms van kinders het. - Met die feit dat grootmense kinders soms geringskat. - Dat hulle soms baie sterk daarop kan staan dat kinders in die geselskap van grootmense net gesien maar nie gehoor moet word nie, hoewel dit hopelik nie vandag meer orals die geval is nie. # Maar so raas Jesus se dissipels dan met die mense. - Julle moet Jesus nie kom pla met ’n klomp kinders nie. - Hy is ’n besige man. - En Hy het baie belangrike dinge om te doen. - Hy het nie nog tyd vir kinders ook nie. - Sien julle dan nie die bordjie op sy kantoor se deur nie? - Daar staan mos duidelik: “Geen kinders.” - Kan julle dan nie lees nie? # Maar toe Jesus sien wat sy dissipels doen, verloor Hy amper sy humeur. - Mark.10:14 sê Hy was “verontwaardig.” - En dis ’n baie sterk woord wat hier gebruik word, selfs met iets van woede daarin. - Jesus was verontwaardig en Hy sê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” - Die dissipels het ’n bordjie op Jesus se kantoordeur geplak. - Een wat sê: “Geen kinders.” - Maar Jesus ruk hierdie bordjie met een hou af. - Met verontwaardiging. - Ons kan amper sê: Met minagting. - En Hy maak sy deur wyd oop vir die kindertjies. - Laat hulle na My toe kom, sê Jesus - Moet hulle nie verhinder nie. - Moenie in hulle pad staan nie. - Want my liefde is nie net vir grootmense. - En die koninkryk van God is nie net vir grootmense. - En die ewige lewe by God is nie net vir grootmense nie. - Dit is alles ook vir kinders. - Ook vir die kleinste baba onder ons. - En daarom ook vir haar wat vandag hier gedoop gaan word. # Maar eintlik moet ons nie sê: Die koninkryk van God is óók vir kindertjies nie. - Die “ook” is ’n verkeerde woord om in hierdie sin te gebruik. - Want Jesus sê die koninkryk van God is “juis” vir mense soos hulle. - Nie “ook” nie, maar “juis.” - En dit maak ’n baie groot verskil. - Want wat bedoel Jesus as Hy sê: Die koninkryk is juis vir mense soos hulle? - Ek dink Hy wil veral sê: Die koninkryk van God is nie iets wat ’n mens kan verdien nie. - Dis net iets wat ’n mens kan ontvang. - En nou is ’n kleiner kind mos baie keer die toonbeeld van iemand wat dinge kan ontvang. - Die toonbeeld van iemand wat weet hoe om te ontvang en dit ook baie keer openlik geniet om te ontvang. - Dink maar aan die vreugde van ’n kleiner kind wat ’n verjaarsdaggeskenk of ’n Kersgeskenk oopmaak. - Ons grootmense weet nie meer altyd hoe om te ontvang nie. - Om te ontvang, maak ons dalk verleë. - Of ons wil iets terugdoen aan die persoon wat vir ons iets gegee het. - Ons wil ’n teenprestasie lewer. - Maar ons kleiner kinders weet nog hoe om te ontvang. - En so leer hulle eintlik vir ons as grootmense hoe die koninkryk van God werk. - Hoe ’n mens die koninkryk maar net in afhanklikheid kan ontvang. - Die kleiner kinders leer vir ons dat ’n mens die koninkryk van God nie kan verdien nie. - Dat dit eintlik niks anders is nie as ’n geskenk wat God vir ons wil gee. # Ons kan maar sê: Jesus het die bordjie wat die dissipels op sy kantoordeur geplak het, afgeruk. - Hulle bordjie wat sê: “Geen kinders,” en wat hulle sonder sy toestemming daar opgeplak het. - En Jesus sit ’n ander bordjie op sy deur. - En sy bordjie sê: “Slegs kinders.” - So sê Jesus dit tog in vers 15 wat ons gelees het, as Hy sê: “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” - Jesus sê: My deur staan wyd oop vir elkeen wat soos ’n kind daar wil ingaan. - Vir elkeen wat bereid is om my liefde net maar te ontvang. - Vir elkeen wat bereid is om die koninkryk van God as ’n gawe en ’n geskenk te beskou, en dit ook so te ontvang. - Maar ongelukkig, sê Jesus, sal almal wat nie soos kinders na my toe kom nie, probleme ondervind. - Hulle sal dit eintlik onmoontlik vind om by my deur in te gaan. - Want sien: Hulle is te groot vir hierdie deur. - Hulle begeerte om belangrik te wees, maak hulle te groot. - En so ook hulle drang om onafhanklik en selfstandig te wees, om hulle eie ding te doen. - Ook hulle vertroue op hulle eie kennis en insig, en op hulle eie prestasies, maak dat hulle te groot is vir my deur. - Hulle kan nie by my deur ingaan nie. - Hulle sal daarin vassit. - Want hierdie deur is net mooi groot genoeg vir mense wat soos kindertjies daar ingaan. # Dit lyk vir my elkeen wat sy of haar eie pad na God wil uitwerk, kom nie by God uit nie. - Dit lyk vir my elkeen wat met sy of haar eie pogings by die koninkryk van God wil ingaan, sal tevergeefs probeer. - Die koninkryk werk eenvoudig nie so nie. - In afhanklikheid van God moet ’n mens dit van Hom ontvang. - Klein voor Hom. - Met leë hande. - Soos ’n kindjie. - Want op Jesus se deur staan: “Slegs kinders.” - En daarom is dit ook nie nodig dat ’n kind eers ’n grootmens moet word voor hy of sy by God kan uitkom nie. - Die teenoorgestelde is eerder waar! - ’n Grootmens moet eers soos ’n kind word in sy of haar geloof. - ’n Grootmens moet eers leer om met die afhanklikheid van ’n kind die koninkryk van God te ontvang. # “Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak.” - En hierdie mense se wens het toe waar geword. - Vers 16 sê: Jesus het “sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.” - Jesus sit sy arms om die kindertjies. - Hy omarm en omhels hulle met sy liefde. - Hy sluit hulle heeltemal in in sy liefde. - En niemand sal hulle uit sy hand en uit sy omhelsing kan ruk nie! # Maar Jesus lê ook sy hande op die kindertjies en seën hulle. - Dit beteken: Hy raak hulle aan met sy liefde. - En Hy stuur hulle daar weg met die beste wat Hy vir hulle kan gee – met sy seën op hulle lewens vorentoe. - Dink maar aan die woorde waarmee die Here ons so dikwels aan die einde van ’n erediens hier wegstuur, as Hy vir ons sê: “Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap, die nabyheid, van die Heilige Gees sal met julle wees.” - So het Jesus ook die kindertjies op daardie dag geseën en daar weg gestuur met die wonderlike beloftes van sy genade en liefde en nabyheid. # Die deur van die koninkryk van God staan vir ons almal oop. - Jesus het met sy dood aan die kruis en sy opstanding uit die dood hierdie deur wyd oopgestoot. - En Hy het dit gedoen vir groot en klein, vir oud en jonk. - Kom ons gaan dan in by hierdie deur. - Soos kinders! # Maar dan moet ons tog verder ook onthou hoe belangrik dit is om elke dag in afhanklikheid van die Here te leef. - Om elke dag met kinderlike vertroue die Here te volg. - Ons kan so maklik vergeet hoe afhanklik ons eintlik van Hom is. - “Sonder My,” het Jesus in Joh. 15 gesê, “kan julle niks doen nie.” - En daarom moet ons oral en altyd in afhanklikheid van die Here leef, in kinderlike afhanklikheid. - By ons werk, by die skool, by die huis, en oral waar ons kom of gaan. - Ook in die gemeente mag ons nie vergeet hoe afhanklik ons van die Here is nie. - Elke projek wat ons beplan en elke aksie wat ons wil uitvoer, kan net slaag as ons dit in afhanklikheid van die Here aanpak. - En verder moet ons ook in ons eie geestelike lewe in kinderlike afhanklikheid van die Here leef. - Dis net wanneer Hy self, deur sy Gees, vir ons daarmee help dat ons kan glo en kan liefhê en kan hoop en kan bid. - Kom ons vertrou dan vir alles in ons lewens, soos kinders, op Hom. # “Laat die kindertjies na My toe kom,” het Jesus gesê, “en moet hulle nie verhinder nie.” - Op daardie dag was sy uitnodiging spesiaal vir die kinders. - Maar oral in die Bybel sien ons dat Hy ons almal nooi, groot en klein, oud en jonk, om sy kinders te wees. - Dat Hy ons almal nooi om die vreugde te ervaar van kind van God te wees. - En hoe kan ons daarvoor nee sê? AMEN

css.php