Hoe lyk ons voorbeeld?

1 TESS. 1:1-10 (18/10/20)

#  Paulus begin hierdie brief van hom met groot dankbaarheid in sy hart!

  • Hy sê: “Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink.”
  • En hoekom dank Paulus die Here vir die gemeente van die Tessalonisense en haar lidmate?
  • Wat is dit wat hom so dankbaar oor hulle maak?
  • Ek dink ons kry ’n hele paar leidrade in die 10 verse wat ons nou gelees het.
  • Maar ek wil graag vanoggend net 3 dinge uitlig en onderstreep.
  • En kom ons sê dit is die 3 grootste redes vir die dankbaarheid waarvan Paulus se hart en gedagtes so vol was.

#  En die eerste ding wat ek dan graag wil onderstreep, is die geloof van die gemeente van die Tessalonisense.

  • Paulus sê hulle geloof maak hom dankbaar.
  • En dít is sekerlik iets wat ’n kenmerk van elke gemeente behoort te wees.
  • Ook van Paarberg-gemeente, en van elkeen van haar lidmate.
  • Sonder geloof kan ons tog nie werklik ’n gemeente van die kerk van Jesus wees nie.
  • Geloof, kan ons maar sê, is soos die fondament waarop die huis van ons godsdiens gebou is.
  • En dan gaan dit oor ons geloof in God die Vader, en in Jesus Christus, en in die Heilige Gees.
  • Die 12 Artikels begin so mooi, as dit sê: “Ons glo in God die Vader, die Skepper van die hemel en die aarde.”
  • En dan is daar ook verder die artikels oor Jesus, ons Verlosser, en die een artikel oor die Heilige Gees, wat by ons en in ons kom woon het.
  • Geloof is die fondament waarop die huis van ons godsdiens gebou is.
  • En kom ons sê maar weer: Sonder geloof kan ons nie ’n gemeente van die kerk van Jesus wees nie.
  • En hieraan moet ons onsself altyd weer herinner.
  • Ons is gelowiges, en ons geloof in die Drie-enige God moet vir almal rondom ons duidelik sigbaar wees.
  • In die geval van die gemeente van die Tessalonisense was hulle geloof blykbaar so duidelik sigbaar dat Paulus in sy gebede die Here daarvoor dank.

#  Maar dan die tweede ding wat Paulus se hart so dankbaar gemaak het, en dit is die liefde van die gemeente van die Tessalonisense.

  • En as geloof die fondament van die huis van ons godsdiens is, kan ons seker sê dat liefde die mure van hierdie huis is.
  • Ons liefde is juis die praktiese uitleef van ons geloof.
  • Dit is om te doen wat Jesus gesê het toe Hy die wet opgesom het en gesê het: Jy moet die Here jou God bo alles liefhê, en jou naaste soos jouself.
  • En daarom is gelowiges mense van die liefde: liefde vir God en vir ander mense.
  • Ja, as gelowiges moet ons mense wees wat ander se belange bo ons eie stel.
  • Wat onselfsugtig is.
  • Wat ander help wat in nood verkeer: armes en siekes en eensames en bedroefdes, of watter vorm van nood mense ook al beleef.
  • Iemand het gevra: “Hoe lyk liefde?”  En toe self gesê: “Dit het hande om ander te help.  Dit het voete om vinnig by armes en behoeftiges uit te kom.  Dit het oë om ellende en nood raak te sien.  Dit het ore om die sugte en smarte van die mens te hoor.  Dít is hoe liefde lyk.”
  • En as Paulus aan die gemeente van die Tessalonisense dink, onthou hy die “inspanning” van hulle liefde, sê hy.
  • En dit herinner ons daaraan dat liefde baie keer van ons vra om moeite te doen ter wille van ander mense.
  • Om ons in te span ter wille van ander.
  • Liefde vra baie keer dat ek dalk iets moet opoffer om die lewe vir iemand anders ’n bietjie beter of ’n bietjie makliker te maak.
  • ’n Opoffering van my tyd of my geld of my eie gerief en gemak.
  • En ons moet vir onsself vanoggend vra: Hoe lyk die inspanning van Paarlberg en haar lidmate se liefde?
  • Hoe lyk die mure van liefde wat ons elkeen en ons almal saam besig is om op die fondament van ons geloof te bou?
  • Sou Paulus, as hy in hierdie tyd aan ons ’n brief geskryf het, ook kon sê: Ek onthou die inspanning van julle liefde, en ek dank die Here daarvoor?
  • As gemeente moet ons elke dag die mure van ons liefde bly bou op die fondament van ons geloof.

#  Maar ’n huis het ook ’n dak nodig.

  • Die fondament is ons geloof in die Drie-enige God.
  • Die mure wat ons daarop bou, is ons liefde vir God en vir ons medemens, en die uitleef van daardie liefde.
  • En die dak van die huis, kan ons sê, is die hoop wat daar in ons leef.
  • So, hier het ons nou weer die bekende drietal, waarvan Paulus ook in daardie wonderlike hoofstuk oor die liefde, 1 Kor. 13, skryf: geloof, hoop en liefde.
  • Geloof, hoop en liefde is al drie noodsaaklike elemente van ons godsdiens.
  • Ons sê sommer vanoggend: Hulle is die fondament, en mure, en dak van ons godsdiens.
  • En kom ons praat dan ook nog ’n bietjie verder oor die dak van ons godsdiens, oor ons hoop.
  • En hierdie is so ’n belangrike saak, want ons weet dat baie mense in ons tyd hoop verloor het en selfs wanhopig is.
  • Daar mag ook vanoggend mense hier saam met ons wees wat regtig sukkel om hoopvol te bly lewe.
  • So, kom ons praat daaroor en ons vra: Wat bedoel Paulus hier in sy brief as hy van hoop praat?
  • En wat is die hoop waarvan ons in die Bybel lees?
  • En dan kan ons begin deur te sê: Om op die Here te hoop, het veral te doen met die beloftes van die Here.
  • Met dit wat Hy beloof het om in die toekoms te doen.
  • Ja, ons hoop, as gelowiges, is om te weet dat die Here sy beloftes gaan laat waar word.
  • En dis nogal moeilik om dit regtig in woorde te beskryf, maar hoop is dat ’n mens hier diep binne-in jou net weet: die Here is getrou, en Hy sál doen wat Hy beloof het.
  • Dít is gelowiges se hoop: dat ons oortuig is dat God in die toekoms getrou sal bly aan Homself, en sy beloftes sal laat waar word.
  • En in die gemeente van die Tessalonisense se geval herinner Paulus hulle veral aan die belofte dat Jesus weer sal kom.
  • In vers 10 wat ons gelees het, sê Paulus vir hulle dat hulle mos ook as gemeente vir Jesus “uit die hemel verwag.”
  • Ja, hulle verwag dat Jesus by sy wederkoms uit die hemel na ons toe sal terugkom.
  • En dink net vir ’n oomblik watter verskil maak hierdie hoop ook aan ons toekoms!
  • Ons weet Jesus kom weer.
  • En ons weet dat Hy by sy wederkoms alles nuut gaan maak, ’n nuwe hemel en aarde, sonder onreg en sonder geweld en sonder trane.
  • Van ons vra die Here nou net om te volhard in hierdie hoop, soos die gemeente van die Tessalonisense dit gedoen het.
  • Om te volhard in hierdie hoop, al is dit vir ons baie keer moeilik en al wil baie dinge op hierdie aarde, en in ons land, en dalk ook in ons eie lewe maak dat ons hoop verloor.
  • Ek het iewers ’n paar baie treffende aanhalings oor ons Christelike hoop raakgeloop, en ek wil graag twee daarvan met u deel, want ek dink hierdie aanhalings kan ons help om nog beter te verstaan hoe belangrik die hoop is wat ons as gelowiges het.
  • Die eerste aanhaling is van Carlo Carretto.
  • En hy help ons in hierdie aanhaling om te verstaan dat die hoop wat ons as gelowiges het nie maar net ’n soort optimisme is nie.
  • Hoop is baie meer en ook baie anders as blote optimisme.
  • Carretto sê: “Optimisme is om te glo in wat mense moontlik kan vermag; hoop is om te vertrou op wat God reeds vermag het, en daarom wéér kan doen.  Optimisme beteken geloof in die potensiaal van mense.  Hoop beteken geloof in die almag van God.”
  • So, dis duidelik dat ons hoop nie met die feilbaarheid van mense te doen het nie, maar met die onfeilbaarheid en die almag van ons God.
  • Ons hoop sê: God is in beheer, nie mense nie!
  • En dan, ’n tweede aanhaling oor die hoop wat ons as Christene het.
  • Hy is ’n bietjie langer as die vorige een, maar ek dink hierdie aanhaling wys veral watter praktiese verskil hoop in ons lewens kan maak.
  • John C. Maxwell het gesê: “Hoop skyn op sy helderste wanneer die nag op sy donkerste is.  Hoop motiveer wanneer ontmoediging ons pad kruis.  Hoop gee nuwe krag wanneer ons liggaam moeg is.  Hoop gee soetigheid aan die bitter van die lewe.  Hoop sing wanneer daar nie meer musiek is nie.  Hoop glo wanneer al die bewyse uitgewis is.  Hoop klim oor hindernisse wanneer niemand help nie.  Hoop verduur swaarkry wanneer niemand omgee nie.  Hoop glimlag met vertroue wanneer niemand lag nie.  Hoop hou aan op pad na die oorwinning wanneer niemand wen nie.”
  • Ek dink hierdie aanhaling wys vir ons dat hoop ons help om op die Here en sy beloftes te bly vertrou, al vind ons dit hoe moeilik om te bly glo en te bly vertrou.
  • Hoop stel ons in staat om uit te hou en aan te hou, ook wanneer ons eintlik al wou tou opgooi.
  • Maar terwyl ons met aanhalings besig is, kom ons haal ook twee verse uit die Bybel aan.
  • En hierdie twee verse praat ook duidelik die taal van hoop. 
  • Dit is die baie bekende Hab. 3:17 en 18, wat sê: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”
  • Die hoop wat ons as Christene van die Heilige Gees ontvang, help ons om soos Habakuk te kan sê: nogtans sal ek jubel in die Here.
  • Ek sal onder alle omstandighede bly vertrou en bly jubel in die Here, want ek hoop op God.
  • Ek hoop op Hom wat sy beloftes aan ons sal laat waar word.

#  En nou wil ek nog net graag iets sê oor ’n belangrike woord wat Paulus in vers 6 én in vers 7 wat ons gelees het, gebruik.

  • En dit is die woord “voorbeeld.”
  • Paulus sê in vers 6 vir die gemeente van die Tessalonisense: “En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword.”
  • En dan in vers 7 sê hy vir hulle: “So het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje.”
  • Die gelowiges van Tessalonisense het Paulus en sy medewerkers se voorbeeld gevolg en die Here begin volg.
  • Maar net so belangrik: hulle het toe self ’n voorbeeld vir ander geword.
  • En veral dan ’n voorbeeld van geloof, hoop en liefde.
  • En kom ons vra vanoggend vir onsself: Watter voorbeeld stel Paarlberg-gemeente en haar lidmate van geloof, hoop en liefde?
  • Watter voorbeeld stel elkeen van ons van geloof, hoop en liefde?
  • Mag die Here ons help om sy leiding hierin te soek, en ook te volg.
  • Want die wêreld waarin ons leef, het baie dringend voorbeelde van geloof, hoop en liefde nodig.

AMEN