Blog - Wat beteken "omgee" nou?

Alles is anders, letterlik ALLES! Ons mag nie aan mekaar raak nie, mekaar besoek nie, nie bymekaar kom om goed te doen vir mekaar nie. Ons woon bymekaar maar is eintlik baie vêr van mekaar af. Hoe gee ons as Christene en mede-mense vir mekaar om in ‘n tyd soos dié? Kom ons gaan steek bietjie kers op by die eerste gelowiges. Hier is 4 gedagtes.

 

  1. Dink aan ander

Ons eerste reaksie voor die “lockdown” kon maklik wees: “Gaan ek genoeg kos, toiletpapier, drank (en wat nog nie alles nie) hê?” “En sê nou ek verloor my werk of my pensioen is baie minder?” Dis heel natuurlik. Niemand hoef ons te leer om na onsself te kyk nie, maar in die nuwe lewe in Jesus leer die Gees ons om ‘n hart en oog en hand te hê vir ander. Dit gebeur nie vanself nie – ons moet dit geleer word.

 

Fil 2:4  Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

 

Wenke:

  • Vra die Here om jou ‘n hart vir ander al meer te gee.
  • Gaan deur jou “contact’-lys en dink aan mense wat dalk hulp nodig het.
  • Dink aan wat jy het en dank die Here vir wat jy het.

 

  1. Bid en doen

Op baie plekke lees ons hoe gelowiges vir mekaar in die Nuwe Testament bid. Om te bid, beteken om ons verwagting in God te stel en hom te vertrou. Die virus het ons laat besef hoe magteloos ons is en daarom is dit ‘n baie goeie tyd om vir die behoeftes van jou omgeegroep, bure, mede-gelowiges, werkers, kollega’s, vriende (en vyande), familie, land, ons leiers en die wêreld  te bid. Dit help om dit neer te skryf en sistematies te bid. Maar dit moet nie net by bid bly nie. Vra die Here om jou te wys wat jy kan doen vir ander.

 

2 Tess 1:11  Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.

 

Wenke:

  • Bel of whatsapp elke dag een of 2 mense op jou “contacts” wie jy dink dalk alleen is of hulp nodig mag hê.
  • Het jy al ‘n kort gebed vir iemand oor die foon gedoen? Nie so moeilik nie.
  • As jy weet van mense wat oud is en nie blootgestel moet word aan moontlike infeksie nie, bied aan om hul inkopies saam met jou inkopies te doen en voor hul deur af te laai.
  • Weet jy van iemand wat finansieël swaarkry? Wat van ‘n paar rand oorbetaal?
  • As jy klaar die nuus gelees, gekyk of na geluister het (of terwyl jy dit doen), bid vir uitkomste en sorg en wysheid.
  • Wat van ‘n tjoklitjie gee vir die kassier wat jou bedien of die verpleegster wat moet werk?

 

  1. Maak reg

Zinkplaat (musiekgroep) sing ‘n liedjie: “Die lewe is te kort om suur te word”. Ons besef veral nou hoe kosbaar tyd met mekaar is en hoe belangrik goeie verhoudings is. Vir die meeste van ons is daar nou baie tyd. Wil jy dit nie gebruik om reg te maak waar dinge skeef geloop het nie?

 

Efes 4:32  Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

 

Wenke:

  • Dalk is dinge tussen jou en jou huweliksmaat nie wat dit behoort te wees nie. Bid saam, luister (tyd) na mekaar, vra om vergifnis, vergewe mekaar, maak ‘n nuwe begin. Die inperking het die potensiaal om krake in verhoudings afgronde te maak, maar ons kan deur die Gees ook in die tyd krake weer heelmaak. Jy behoort immers aan Jesus wat ons saak met God kom regmaak het aan die kruis.
  • Dink aan mense (wat jy ken) wat jy doelbewus die afgelope tyd (of dalk jare) vermy het of nie graag aan dink nie. Wat van ‘n whatsappie of dalk ‘n kort gesprek oor die foon? Moenie toelaat dat die gif van onvergewensgesindheid jou vergiftig nie. Jy kan vry kom.

 

  1. Stel die voorbeeld

In die donker skyn ‘n kers op sy helderste. Ons getuienis en voorbeeld kan ook in die tyd baie vir ander beteken. Op so ‘n manier help ons mekaar en gee om vir mekaar.

 

Fil 3:17  Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel.

 

Wenke:

  • Doen self die regte dinge. Was jou hande, kom die reëls na, beperk jou fisiese kontak met ander.
  • Moenie inkopies doen as jy nie gesond voel nie.
  • Moenie fopnuus aanstuur nie. Dit saai vrees en paniek. Maak dus seker iets is die waarheid voor jy dit deel.
  • Moenie paniekaankope doen nie.

 

Mag die Here ons help om juis in hierdie onseker tyd ons lig helder te laat skyn deur om te gee.

 

css.php